Die vyftienjarige Paul se passie is vlieghengel. Een oggend gaps hy sy pa se motorboot om op die Vanderkloofdam te gaan hengel. Ongelukkig vir hom sien hy hoe ’n moord gepleeg word en beland hy in die kloue van die einste boewe. Hy word saam met ander jongmense gevange gehou in ’n luukse huis vol gruwels. Uitkomkans is daar nie, maar dinge raak so erg dat hy sy lewe gaan waag om weg te kom.’n Spanningsvolle, meesleurende verhaal waarvan die sentrale tema vele baie aktuele, skrikwekkende realiteite aanraak, nl. mensehandel, kinderpornografie, dwelmhandel en moord. Dit stuur ’n duidelike boodskap uit vir jongmense dat niemand veilig is nie, veral nie wanneer hulle betrokke is by dwelms en prostitusie nie. Maar soos in Paul en Alicia se geval, was hulle net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd – Paul wat ’n moord aanskou en Alicia wat vir die eerste keer in haar lewe skool bunk omdat sy ontsteld is oor iets wat gebeur het.
’n Skrywer wat nie skroom om ongemaklike temas aan te vat en uit te pak nie. Ek vermoed die tieners in haar huis is die inspirasie vir die interessante en soms erg snaakse sêgoed in haar boeke. Ek het hierdie een baie geniet!
Paul en Alicia, twee tieners, word om verskillende redes ontvoer en saam aangehou. Ek hou van Paul - die wag voor sy mond is op awol en hy was eintlik ‘n doodgewone tiener voor die ontvoering. Ek het meer gesukkel om aanklank met Alicia te vind; in vergelyking met Paul se agtergrondinligting is hare bietjie skraps.
Die boek raak baie ernstige temas aan: menseroof, seksuele misdrywe, dwelms, maatskaplike probleme, selfdood en prostitusie. Juis daar lê my probleem met die boek: party (ernstige) situasies word bykans ligsinning beskryf. Ja, daar is beslis ruimte vir humor in kombinasie met spanning, maar in hierdie geval het dit - na my mening - ‘n wipplank-effek veroorsaak.
Die temas is nietemin ‘n aanwins vir Afrikaanse jeugfiksie en ek hoop om nog uit die skryfster se pen gelees te kry.
Ek het Sweepslag baie geniet...dit was vir my ‘n vars nuwe aanslag vanuit die tieners se oogpunt. Mal oor die beskrywende taalgebruik. Hoop ons sien nog boeke uit Annerle se pen.
They were in the wrong place at the wrong time - Paul witnessed a murder and Alicia, upset at her parents, accepted a lift from a stranger after bunking school for the first time in her life. Now the two Bloemfontein teenagers find themselves kept against their will in a luxurious house where unspeakable things happen. As things get worse, they realise that escape is their only option - even at the risk of losing their lives.
Pynlik realisties, die leser soek deurentyd vir 'n goeie uitkoms, maar elke omblaai wil dit nog nie gee nie. Boeiend. Elke karakter se persoonlikheid duidelik. Die hoofkarakter se kits-reaksies wat uitglip, het my laat glimlag (en soms my asem laat intrek). Baie geluk, Annerle.
Die tema van mensehandel en die gevaar waarin jongmense hulself kan bevind, word ongelooflik realisties uitgebeeld. Dit is nie net ’n lekker lees nie, maar ook ’n waarskuwing en ’n boodskap wat lank by jou bly.