Hoe ontmasker ’n vrou die man wat haar aanrand sonder om die teiken vir sy wraak te word?
“Hy sal vir jou sê dit sal nooit weer gebeur nie, maar trust me, dit sal. As daardie membraan tussen selfbeheer en gewelddadigheid eers eenkeer geskeur het, word dit nooit weer heel nie. Dis soos ʼn maagdevlies. Jy kan nooit weer ʼn maagd word nie. Soos onskuld. As jy dit eers verloor het, kry jy dit nooit weer terug nie. En die aanrandings sal eskaleer. It is the nature of the beast.”
Mirre weet Marilyn is reg, maar ʼn Dreyer skei nie. En as sy hom aankla van huishoudelike geweld, sal hy nooit weer sy beroep as befaamde huweliksberader kan volg nie. Sy reputasie sal vernietig wees. En dít sal hy haar nooit vergewe nie.
Buitendien, sy verstaan waar die ‘beast’ in haar andersins sjarmante man vandaan kom. Maar sy weet ook dat sy volgende keer dalk nie ʼn aanranding sal oorleef nie.
Mirre gaan skuil by haar vriendin Corali op Vywerbaai, waar Boeta Naudé met sy vrou en drie seuns ook woon. Boeta, haar jeugliefde wat steeds haar hart in die holte van sy growwe bouershand hou.
Mirre is die tweede deel van die Vywervrou-trilogie wat gaan oor vroue wat hulle lewenslesse op die moeilike manier leer, maar nie moed opgee nie.
Chanette Paul word rond en bont groot. Sy woon nege skole by, studeer aan vyf universiteite en het al in sewe provinsies gebly. Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, is ‘n sprokie wat sy op sestienjarige ouderdom geskryf het en op Siembamba voorgelees is. Die tweede, ‘n kortverhaal, is in haar universiteitsjare in Huisgenoot gepubliseer. Eers twintig jaar later, in 1995, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien het ‘n verskeidenheid verhale en humoristiese artikels in tydskrifte verskyn asook in die omgewing van 50 boeke in verskillende genres.
Ek wil my verstout en sê ek het nog meer gehou van Mirre as van Lira. Ek weet sommige lesers het gevoel die oorvleueling van die twee verhale was plek-plek te veel herhaling, maar dit het my GLAD NIE gepla nie. Inteendeel, dit was goed om dit uit 'n ander oog te kon lees en maak die Vywervroue se storie net meer volrond. Nou vir Corali! 😊
"Gebreekte goed is nie weggooigoed nie. Dis net goed wat wag om in 'n tweede gedaante tot sy reg te kom."
Net soos die Vywervroue, is ek ook baie bly en dankbaar dat ek maatjies het wat aanhou karring en boeke onder jou neus kom indruk of in die poshokkie gooi (Ons mag niks onder mekaar se neuse druk nie, mense. Daar is 'n epidemie daar buite).
"Vriendskap is net 'n ander soort huwelik. For better, for worse. In sickness and in health"
Ek was dus bevoorreg genoeg om die drieluik so direk na mekaar te lees. In hierdie grendeltyd, was dit soooo lekker om bietjie Vywerbaai toe te ontsnap en te deel in Lira, Mirre, Corali en Marilyn se lewens. Die 3 boeke is so verweef, daarom weef ek hulle ook sommer saam in een vywervrou-net.
Mirre was 'n baie goeie boek maar ek het gesukkel met die boek omdat daar baie oorvleuelings was tussen Lira en Mirre. Dit het gevoel of ek van die goed vir 'n tweede keer lees. Maar Chanette kan nog steeds uitstekend skryf.
Aanvanklik het ek bietjie gesukkel met Lira en Mirre se stories wat ineengestrengel was, maar na 'n streng woord of twee aan myself het ek dit reg gekry om Mirre van Lira af los te wikkel. Dit was so lekker om weer saam met die vywervroue te kuier! Uitstekend soos alles uit Chanette se pen!
ek gee hierdie boek net 3 sterre bloot omdat ek nie baie van mirre hou nie. ek hou baie van lira en ek is mal oor corali, so ek weet ek gaan die derde boek baie geniet.
natuurlik skryf chanette paul uitstekend, so die 3 sterre het niks met haar skryfstyl te doen nie. ek geniet die klomp vroue se stories baie - dis 'real', soos dit is in die lewe.
‘Mirre’ is die 2de in die Vywervroue-reeks en is voorafgegaan deur ‘Lira’ - waaroor ek elders gekryf het. Reeds tydens die lees van ‘Lira’ was dit vir my duidelik dat die storie nie naastenby klaar kon wees nie; Mirre en Corali se stories moes nog vertel word en ek sou nog meer van Marilyn wou weet. En ek wou weet hoe dit verder met Lira gaan.
Daar is alreeds gemeld dat ‘Mirre’ ‘n deel van die gebeure wat in ‘Lira’ vervat is, herhaal - maar uit Mirre se oogpunt, nie Lira s’n nie. Alhoewel ek voel dat dit gepas (en dalk selfs nodig) was, moet ek erken dat dit, na my sin, ‘n té groot deel van die boek uitgemaak het. Dit kon drasties verkort gewees het sonder om enigsins afbreuk te gedoen het aan Mirre se storie.
Die laaste deel van die boek volg egter ná die slot van ‘Lira’ en ek het dit baie geniet. Die gesinsgeweldtema en -emosies word uitstekend uitgebeeld. Die spannende tonele, veral, is briljant bewoord.
Ek het ‘Lira’ 4 (welverdiende) sterre gegee. Die laaste deel van ‘Mirre’ verdien beslis ook 4 sterre, maar vir die boek in geheel (as gevolg van die bovermelde eerste deel) ken ek 3 sterre toe.
Daar was kritiek uitgespreek dat Mirre ’n herhaling is van die gebeure in Lira, maar ek het dit baie positief ervaar. Dit het my geheue verfris en omdat die klem verskuif het, het ek dit nie vervelend gevind nie.
Soos met Lira, vorder mens verrassend vinnig deur die bykans seshonderd bladsye. Ek hou daarvan dat die hoofstukke onderverdeel word in datums en karakters. Dit laat die baie komplekse storielyn gemaklik vloei. Die hoofkarakter word uiteraard deeglik uitgebou, maar ook die karakters van Boeta en Marilyn is uitstekend ontwikkel en voel dit asof mens letterlik ’n pad saam met hulle geloop het.
Boeta is in die eerste plek pynlik eerlik met homself oor sy foute en tekortkominge, en natuurlik van altyd af lief vir Mirre. Hy is ’n lojale karakter wat probeer om die regte ding te doen, al stamp hy homself bloedneus teen omstandighede wat hy nie kan beheer nie. Veral sy liefde vir sy kinders beïndruk, want dit is vir hom ononderhandelbaar.
Daar is baie wysheid en duur lewenslesse verskuil agter Marilyn se grys dreadlocks en boheemse voorkoms. Agter haar kru taal en abrupte aanslag, skuil empatie wat sy nie altyd kies om te wys nie. Haar stelling op bl. 194 is vir my tekenend van haar geaardheid: "Daar is net ’n graadverskil tussen kwesbaarheid en weerloosheid, en weerloos weier ek om te wees."
Daar is ontstellende tonele van geweld en ek was byna ontmoedig deur die oënskynlike onmoontlikheid van die situasie waarin Mirre geplaas word deur haar man, die ongebalanseerde, André Dreyer. Maar wat bly vassteek by my, is die waarde van ware vriendskap. Die lewens van die Vywervroue is mos onlosmaaklik verweef. Daarom sien ek uit daarna om meer te leer van Corali. Ook om te sien hoe Mirre en Boeta, en Fynn en Lira se verhale verder verloop.
Vrek Chanette, ek kan nie glo hoe ek hierdie twee boeke verslint het nie. Ek het ongelukkig eerste Corali gelees so met tye het ek geweet wat gaan gebeur (my bad), maar al het ek geweet wat gaan gebeur, kon ek net nie genoeg kry nie. Hierdie drie boeke was uitstekend gewees. Wil dit met almal deel (jy moet net my boeke weer vir my terug gee). Hierdie drie boeke het my sommer weer laat verlang na die ondersteuning van vriendinne wat jou ondersteun, deur goed en sleg en dan vrek sleg. Wat soms jou wys dat daar wel iets goed daaruit kan kom. Waar is Vywerbaai!! Ek wil sommer nou soontoe verhuis. Ek sal in Lira se winkel gaan werk as enige iets en sal help in die kombuis. Dit sal ek afwissel om Corali ook te gaan help met die mosaiek. As ‘n mens dink, drie boeke, oor die selfde omgewing met die selfde karakters, sal siel dodend wees, maar dit was die teenoorgestelde. Ek kon myself in elkeen van hierdie vroue inleef en sommer gevoel wanneer hulle by hul draaipunt kom, dat ek saam kan opstaan. Vreeslik dankie Chanette vir hierdie drie ongelooflike boeke.
Dit was 'n goeie boek gewees. Die enigste ding wat ek sou verander is dit sou net Lira se storie wees. Tog kom mens agter daar is 'n rede hoekom dit so geskryf is. Die geweld teenoor jou eggenoot hetsy fisies, emosioneel is vir my ontstellend. Niemand verdien dit nie. Dit is nie liefde nie. So baie betaal die hoogste prys. Die vraag wat vir my ongeantwoord bly is hoe weet jy. Die persoon is 'n Oscarwenner toneelspeler met so 'n tragedie van 'n lewe om dit vir hom/haarself te regverdig. Dalk help sulke boeke om jou te laat glo aan 'n pot goud vir jou aan die einde van die reenboog.Dat daar nog iets soos "goed",liefde en omgee bestaan. Voel aan die einde van die boek hartseer om te sê sien julle later in boek 3. Na sulke boeke dink ek aan die woorde van die liedjie....ek loop die pad alleen my lam. Dit is vir my die beste opsie.
'n Heerlike volgende boek in die Vywervroue reeks. Ek was mal oor Mirre, maar het swaar gelees aan haar en Boeta se verhaal. Die vriendskappe wat in die boek voortgaan, geniet ek terdeë.
Aanvanklik het ek gesukkel met die boek wat afspeel terselfdetyd as Lira se verhaal, maar ek het dit gewoond geraak.
Slegs my opinie: Teleurstellend. Driekwart van die boek was 'n herhaling net uit 'n ander persoon se perspektief. Slegs die laaste kwart van die boek was 'n vars / nuwe storie.
Ek geniet die Vywervrouens se stories vreeslik baie, maar ek was baie teleurgesteld dat 80% van Mirre 'n herhaling is van Lira, net uit Boeta en Mirre se point of view. Ek sou graag wou hê dat 'n groter deel van die boek 'n nuwe storielyn het.
Die tweede Vywervrou is weer gelees vir die derde, vierde of dalk vyfde maal. Sagter, maar ook soms sterker maak Mirre’n perfekte Vywervrou. Baie van Lira se verhaal word herhaal wat dit effens vervelig maak.