Toe Maryke, ’n jong hipnoterapeut, ’n kwak wat gehore kamma hipnotiseer probeer ontmasker, skud iets in haar onderbewuste los. Het dit te doen met die inbraak tydens haar matriekjaar? Wat is dit wat sy vergeet het? Lukas probeer haar help. Hy is haar steunpilaar en mentor, en die man op wie sy verlief is. Ook hý moet veg om ’n greep op sy verlede te kry. Maar die bedreiging is nie net in Maryke se kop nie: Vreemde briewe en onheilspellende geskenke maak dit duidelik dat iemand haar dophou. Iemand wat enigiets sal doen – miskien selfs sal moor – om seker te maak sy onthou.
Leon van Nierop is ’n bekroonde skrywer wat reeds 23 vollengte romans geskryf het, asook verskeie radiovervolgverhale, TV-reekse, dramas, rubrieke, boek- en rolprentresensies, kortverhale en akademiese boeke. Hy het verlede jaar die Caxton-toekenning gekry as beste skrywer van die jaar en sy drama Twyfelberg is met die tweede prys vir die RSG-SANLAM radiodrama skryfkompetisie bekroon. Van sy bekendste TV-reekse sluit in Ballade vir ’n enkeling en Wolwedans in die skemer. Hy het die kykNET-sepie Villa Rosa ook geskep en die trefferradioverhaal Stralerjakkers (waarvan daar ook ’n resepteboek uitgegee is). Van sy bekendste romans sluit in Plesierengel, Adrenalien, Sielsmokkelaar en Paradys.