Madelaine Taaibosch vermoed die skenkerhart wat in haar bors klop is ’n gebroke hart. Die speurtog na die waarheid oor haar skenker laat haar mettertyd besef dat party harte mekaar selfs oor eeue heen kan vind.
Jan Vermeulen is in Bethanie in die suide van Namibie gebore. Op veertien word sy eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Hy het die graad BA Admissie met hoofvakke Hebreeus en Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal, en in 1987 'n BTh. en Teologiese Lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1998 voltooi hy 'n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth, en in dieselfde jaar verskyn sy debuutroman, Die laaste dans, by Queillerie. In 2000 verskyn sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie. Dit is met die Sanlamprys (goud), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en 'n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. In 2006 word sy kortverhaal 'In Ma se Stoofᅮ in die kortverhaalbundel Van Spoke Gepraat (Tafelberg) opgeneem. Jan en sy vrou Diana woon in die Oos-Kaap.
Sjoe, daar is maar min boeke wat my so opgewonde gemaak het tydens die leesproses as hierdie jeugroman van Jan Vermeulen. Die interessante premis (die hoofkarakter kry 'n hartoorplanting, en begin dan met haar gene as roetemerkers in tyd rondreis), die knap skryfwerk, die onverwagte dog bevredigende slot - ek het die boek deurgeblits van die lekkerkry. Dit is beslis een van Vermeulen se heel beste boeke en kan 'n heerlike boek wees vir 'n Afrikaans Huistaal-klas om te bestudeer.
I read this YA novel by Jan Vermeulen at great speed because the fascinating narrative basis (a heart transplant recipient starts travelling through time with her genes as route markers), the excellent writing and the unexpected yet satisfying ending work together to entice the reader along. One of Vermeulen's best works.
Hierdie boek het my erg omgekrap; ek sukkel nog om lekker te verwoord hoekom. Die temas is wyd uiteenlopend: orgaanoorplantings; reïnkarnasie; ‘n tydmasjien.......
Madelaine is 17 jaar oud en het 7 maande gelede ‘n hartoorplanting gehad. Voordat sy van haar hartkwaal bewus was, was sy ‘n baie belowende atleet, maar, bykans oornag, verander alles: haar jonger broer sterf aan dieselfde aangebore (maar ongediagnoseerde) hartkwaal en sy moet haar eie atletiekdrome opsyskuif.
Ek wil geen ‘spoilers’ gee nie; ek dink dis die intensiteit van Madelaine se ouers se emosies wat vir my bò alles uitstaan. Die storielyn is goed, maar die uitbeelding van hulle desperaatheid, vrees en voortdurende bekommernis is briljant. Madelaine se verhouding met haar pa, veral, was vir my hartverskeurend.
Dit mag wees omdat ek al langs te veel sterfbeddens gestaan het - ek weet nie - maar ek het dit onmoontlik gevind om sekere tonele objektief te kon lees; my komplimente aan die skrywer vir die geloofwaardige uitbeelding en beskrywing in dié verband.
Dis jeugliteratuur, maar het iewers in my hart nesgeskop. Ek sou normaalweg 3 sterre toeken, maar bovermelde tonele is 5 ster en ek gee dus ‘n soliede 4 sterre.
Sjoe, ek weet nie wat om te sê, sonder om spoilers te gee nie. Ek volstaan by ek kan 100% verstaan hoekom die boek LAPA se jeugroman wenner was. Die boek is regtig boeiend en puik en dit ontketen ʼn warboel emosies.
Wat jou siening ookal is oor orgaanskenking, reïnkarnasie, tydreise, toekomsvoorspellings, ek kan byna waarborg dat jy meegevoer gaan word deur ’n verhaal van jong liefde wat strek oor meer as drie honderd jaar. Die verhaal boei van die eerste bladsy af, waar Madelaine deelneem aan haar eerste wedloop sedert haar hartoorplanting. Jy beleef saam met haar die angs van ’n hartstilstand, en haar eerste vreemde gewaarwording van ’n Franse meisie wat met haar praat.
Die storielyn neem jou van die huidige, na die Ango-boereoorlog tot sover as Franse vlugtelinge wat in 1696 Kaap toe gevlug het aan boord van die skip, die Vosmaer. Jy reis per tydmasjien en keer natuurlik telkens weer terug na Madelaine se verwarrende realiteit, en Brand wat met sy stamboeknavorsing al hoe meer lig werp op die karakters wat die voorgeskiedenis van die twee jongmense uitmaak.
Dit is ’n uitdagende lees, vir jong sowel as ouer volwassenes. Die trauma wat deel uitmaak van orgaanontvangers se lewens, ruk ’n mens. Nie slegs die pasiënte word daardeur geraak nie, maar ook die families van skenkers en ontvangers. Die ontknoping is netjies gedoen, met die karakters wat as’t ware ’n volle sirkel voltooi.
Oopmond was die LAPA Jeugromankompetisie wenner in 2017, en ek kan heeltemal verstaan waarom.
Ek het die boek geweldig geniet - en ek glo nie eens aan dinge soos reinkarnasie nie! Die temas is uniek en boeiend en die aanbieding sodanig dat ek nie kon ophou lees nie. En ja, volwassenes kan dit sekerlik ook geniet! (As jy mooi kyk, vertel die voorblad baie effektief waaroor die storie gaan.)