Een Sondagmiddag in die herfs van 1918 kom ’n driejarige uit Vredenhoek se wingerd die Erasmus-familie se binnekring ingestap. Niemand herken hom nie. Die kind kan self nie sê waar hy vandaan kom nie. En dié wat weet, wil nie praat nie. So bly dit vir twintig jaar lank. Altyddeur smag Laurens Erasmus om te weet wie hy werklik is. Want hoe kan mens iemand wees as jy nie weet waar jy vandaan kom nie? Nie eers die buurdogter Carijn den Hagen, wat daardie eerste dag in die wingerd haar hand na hom uitgesteek het, kan hom help nie. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog verander alles. Dit gooi lewens omver. Vir sommige beteken dit die einde. Vir ander maak dit deure oop.
Helene se skryfwerk dek ‘n wye spektrum van genres. Sy doen ook joernalistieke werk en skryf resensies vir dagblaaie. Sy skryf al langer as dertig jaar lank en meer as 40 boeke is gepubliseer. Van haar vroeër werke verskyn nou in omnibusse, maar sy skryf steeds nuwe romans asook geestelike werk en kinderboeke. Daar verskyn binnekort nog ‘n omnibus en ook nuwe romans van haar. By CUM verskyn daar ‘n boek oor haar seun se dood met die titel ‘As dood Lewe word’. Sy skryf vir verskeie uitgewers soos Tafelberg Uitgewers, Human & Rousseau, Litera, CUM, Aktuapers en LAPA. Sy het ook ‘n gereelde rubriek naamlik ‘BBP’s’ op www.ekerk.co.za.
Helene skryf graag oor die liefde - maar net so belangrik in haar werk is die klem op die werklike lewe en die eise wat dit aan álle verhoudings stel. Sy verwys na haar romans as verhoudingsverhale. Sy het byvoorbeeld ‘n roman geskryf wat oor ‘n periode van byna ‘n eeu strek. Dit is die liefdesverhale van twee vroue wat nie slegs die trauma van oorlog ken nie, maar ook die pyn van verlange en wantroue. Helene het ‘n Meestersgraad in Afrikaans en Nederlands wat sy cum laude verwerf het. Sy het in 2008 ‘n toekenning gekry vir die beste meestersgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteitvan Noordwes. Haar roman ‘Dieper Water’ is juis ‘n uitvloeisel van hierdie studie.
Sy skryf ook kortverhale wat al in bundels opgeneem is. Hierdie bundels is saamgestel deur T.T.Cloete, Jeanette Ferreira en Daniel Hugo. Helene was verskeie male naaswenner met die ATKV/Sarie pryse vir vervolgverhale en ook die ATKV/rooi rose kortverhaalwedstryd. Al haar vervolgverhale is in boekvorm deur verskeie uitgewers uitgegee en ander romans het weer direk in boekvorm verskyn. Sy gee sporadies lesings oor Skryfkuns aan die Skryfskool van die Noordwes Universiteit asook by die Universiteit van Pretoria.
In ’n skrywersonderhoud sê Helene de Kock: “… ek skryf omdat ek die skep van karakters binne hul konkrete en abstrakte ruimtes so geniet.” Dit is dan juis die diepte en deeglikheid waarmee die karakters ontwikkel word, wat my in besonder raak wanneer ek ’n boek van hierdie skrywer lees.
Die kind uit die wingerd is geen uitsondering nie. Ons ontmoet vir Laurens Erasmus as knapie van drie en ’n half, wat op ’n dag deur die wingerd gestap kom en so in die lewens van die Erasmusse en Den Hagens beland. Carijn den Hagen is die eerste wat na hom uitreik, en daarmee is haar lewe onlosmaaklik met syne verweef. Laurens se soeke na sy oorsprong staan egter in die pad vir ’n sinvolle verhouding. Die dilemma word net groter wanneer hy na Leiden gestuur word vir verdere studies en dan verder gekompliseer deur die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, wat kommunikasie tot ’n halt bring.
Die komplekse verhoudingsroman word gekomplimenteer deur die historiese feite en plekke waarteen dit afspeel, maar dit oorheers nie die storielyn nie. Die intriges rondom Laurens se herkoms bly sentraal staan. Die uiteenlopende randkarakters kleur die verhaal verder in en maak daarvan kompulsiewe leesstof.