Toe die klok 12:00 slaan om die nuwe jaar in te lei besluit Annemi Morkel dat sy net een nuwejaarsvoorneme gaan hê. Dis om halsoorkop verlief te raak. Haar huismaat - Leana - trou oor drie weke en sy is dan die enigste een in hul vriendekring wat nog alleen is.
Dina Botha is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Sy het vier kinders waarvan twee nog skoolgaande is. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekende romanskrywers se boeke verslind en gehoop om eendag self ’n skrywer te word. Ná skool het sy egter haar droom om joernalis te word gebêre en ’n IT-kwalifikasie behaal. Twintig jaar later het haar passie vir skryf weer opgevlam en sy het die keer die moed gehad om haar droom met mag en mening na te jaag. Sy het in 2014 haar werk bedank en is nou voltyds ’n skrywer
Die romansegenre word gekenmerk, en helaas gekritiseer, vanweë die voorspelbaarheid wat ’n integrale deel vorm van die uitkoms. Die skrywers verras my egter dikwels met die vernuftige wendings wat ingebou word in die storielyn alvorens dit eindig soos dit voorgeskryf word.
Presies so het Dina Botha my verkeerd bewys met my verwagting oor hoe die verbintenis tussen Annemi en Rohan sou verloop. Verder het die "morning after the night before" toneel my totaal histeries laat lag. Ek wonder of die skrywer self besef hoé kostelik sy die situasie gewys het. Ek staan telkens verstom oor hierdie skrywer se kreatiwiteit, want ek het al telling verloor met hoeveel Romanzas daar al uit haar pen verskyn het.
Hierdie storie het my tot byna middernag wakker gehad van pure nuuskierigheid. Bepaald 'n lekkerlees, voelgoed romanse.