George Moore is gebore toe Jan Smuts dood is, word op ’n plaas in die Noord-Kaap groot, dien in ’n aaspeloton in Angola, raak deurmekaar met die Baader-Meinhof-bende in Duitsland, werk as joernalis tydens die noodtoestande in Kaapstad, en weldra word hy ’n saboteur, ’n skaapsmokkelaar, ’n mal man, ’n boemelaar. Tussendeur kul en koggel George prokureurs, kopdokters, en vroue.
Aanvanklik het ek twee sterre gegee omdat ek dit nie kon klaar lees nie, daarna het ek die skrywer belowe ek sal weer lees en heroorweeg. Nee. Die lewe is te kort. Ek het dit regtig 'n kans gegee, maar ek is te dom om te sien waarom die boek as briljant beskryf word. Ek kon in hierdie tyd twee ander boeke gelees en verstaan het. Sorry, I tried.
Ek het dikwels as kind raas gekry omdat ek daarvan gehou het om te sit en staar na ‘n bad of wasbak wat leegloop. As mens die prop versigtig uittrek, lyk die wateroppervak stil, dan begin dit so staaadig roer, ‘n patroon verskyn en die onafwendbare vorteks is telkens die verwoestende einde van dit wat oënskynlik so rustig begin beweeg het.
Dis hoe ek hierdie boek ervaar het: aan die begin is dit bedrieglik eenvoudig, maar dit verander vinnig in ‘n adrenalien-gevulde mallemeulerit wat jou na asem laat snak totdat jy heeltemal ingesuig is en met ‘n slag terugkeer aarde toe.
Die lewensverhaal van George Moore begin naby die einde: 2008. Op daardie stadium is sy denke reeds verward, sy interpretasie van die allegaadse verwronge en is daar twyfel by die leser oor wat hy werklik ervaar en wat bloot verbeeldingsvlugte of hallusinasies is.
Deel twee beweeg terug na 1960, sy grootwordjare, en George - die mens - word ‘n leserswerklikheid. Juis omdat hy egter van meet af aan ‘anders’ na dinge gekyk het, is daar werklik skreeusnaakse situasies en waarnemings. Deel 3 (vanaf 1975) bou voort op Deel 2 en tekens van emosionele verval by George word al hoe duideliker. Dis steeds pittig, maar ‘n ondertoon van onafwendbare tragedie begin insluip.
Ek vermoed dis juis Deel 3 wat die vermoede laat ontstaan het dat George Moore inderwaarheid Dave Bishop is - daar is heelwat ooreenkomste wat die leser laat twyfel aan soveel toeval, veral omdat die boek ook opgedra is aan ene D.B.
Oor die bewerings van plagiaat kan ek my nie uitlaat nie, die skrywer het die boek met ‘n vars, nuwe stem geskryf; nie soos enigiets wat ek voorheen gelees het nie. Die subtitel ‘’n Lewensbeskywing van ‘n mal man’ klink met die eerste oopopslag kras, selfs onsimpatiek teenoor psigiatriese siektes, maar dis tòg gepas, want dis presies hoe George homself sou beskryf het.
Die einde is dan ook ‘n angswekkende kolkgat waaruit geen omdraai moontlik is nie en, na die lees van die einde, voel ek effens verlate; ek sal vir George mis.
Die geleidelike verval van die hoofkarakter herinner bietjie aan Toast Coetzer se ‘Naweek’ alhoewel lg meer toeganklik is - waarskynlik omdat die hoofkarakter, Maanhaar, se emosionele verval baie vinniger en minder kompleks was as George s’n.
Die verwysings na Camus en, veral, Raka, was vir my besonder gepas. Die donkerte van Raka het George al vinniger en vinniger begin oorneem.
Dis ‘n besondere boek wat vele emosies by die leser ontlok en ek vermoed ek sal dit herlees. ‘n Stewige 4 sterre van my.
Dankie Prof. Hambidge vir dié aanbeveling. Ek het dit besonders geniet.
Ruan Kemp se debuut is hoogs interessant: die gewone Afrikaanse leserspubliek kan nou 'n ietwat eksperimenteel werk in hul taal geniet, waarin waansin en die verbrokkeling van die individu met uiters suiwere Afrikaans neergepen word.
Toast Coetzer sê op die omslag dat heilige koeie geslag word -- inderdaad word baie sienings in die roman geuiter wat nie noodwendig in die publiek geopper word nie maar tog sou hulle nie só kontroversiëel onder vriende of familie wees nie.
George is gebasseer op 'n blykbaar bekende Kaapstad-karakter wie rondgedwaal het in sekere omvelde van die Suidelike Voorstede se geselskap. Ek is daarvan bewus dat 'n paar kritici hul stemme dik maak asof die dooie man se wese uiters misbruik of geskend word. Mens wil sê dat George 'n reine fiksie is en dat die verhouding regtig nie van belang is nie. Marita van der Vyfer was ook blykbaar getroud met die 'egte' George en het 'n eiertjie te lê. Ek is nie deel van hierdie kleine Afrikaanse literêre wêreld nie, so ek sou alle voornemende lesers aanraai om die herrie te laat vaar.
George is 'n suksesvolle joernalis. Sy lewe land vinnig in die verknorsing nadat 'n tragedie hom en sy vrou Griet oorrompel. Gaandeweg leer ons iets van die ou en nuwe Suid-Afrikas, die satire en humor is baie sterk ten aanskoue. Simboliek is ook noodwendig van belang vir 'n man wie se waansin die narratief alleenlik bepaal. Camus kom herhaaldelik ter sprake wat op die krisistoestand (noodtoestand, dink ek sou Kemp verkies!) van George se gees dui. Die nasionale party en ou digters word lekker meer gespot en ek wil nie dié brokkies vir moontlike lesers voorafbederf nie. Let wel - jy gaan lekker lag tenspyte van die duistere temas.
Hoekom slegs 3 sterretjies? Die boek is goed geskryf maar nie met towerkrag nie. Dis een rede. Die tweede rede is die einde wat wel by die karakter George pas, maar ietwat te kort kom aan die hoë standaard wat die res van die roman handhaaf. Fragmentering van George se bewussyn is goed beskryf maar ek wonder of honderde bladsy van slegs dié perspektief nodig is, en nie eerder deur ander karakters se opmerkings en waarnemings sou gebaat het nie.
Interessante boek, maar ek gee so klein bietjie op. Nie heeltemal nie, net bietjie. Die boek is regtig baie goed geskryf en dis wat my laat aanhou lees. Ek kan egter nie met die hoofkarakter identifiseer, of hom verstaan nie. Dis die lewensbeskrywing van 'n mal man, I get it. Ek geniet die taalgebruik, die styl en die beelde en beskrywing maar die man is te mal vir my. Ek weet nie wat om met hom te maak nie. Ek dink mens moet van hom, of van mal mans oor die algemeen hou om die storie te geniet. Ek lees sonder enige "binnekennis" en ek kry nie vat aan die mal man nie. Hy is vreeslik sinies; ek het nog nie eens een stukkie emosie in hom raakgelees nie en dit maak dit moeilik. Ek wil weet wat mense voel, want almal voel. Selfs siniese, mal mense!
Ek gaan nou iets anders ook begin lees en ek sal so met tye verder lees aan Gedeeltelik Bewolk, dalk tot ek dit klaar het. As iets verander sal ek my resensie verander.
This book is a fruitcake filled with dates, rum and some mystery ingredient you cannot quite put your finger on. There have been moment where I've had to close the book and just saviour a particularly striking sentence or imagery. If you are looking for a candfloss read, get hold of the next ghostwritten Patterson novel. This deserves a fireside leather chair and good red wine to do it justice.