Die vraag wat die Romeinse digter Juvenalis 2000 jaar gelede gevra het, word vandag steeds onbeantwoord gelaat: Wie sal toesien dat die bewakers bewaak word?
Aella O’Malley is bevorder na bevelvoerder van die speurtak op Opathe sedert die dramatiese gebeure in Dowe gode. Dis nou eers ’n week en sy moet nog gewoond raak daaraan wanneer mense haar as kolonel aanspreek.
Sy sukkel steeds om die dood van haar geliefde Roel te verwerk en is getraumatiseer deur Whistler se verraad. Sy ontvang besoek van ’n afgevaardigde van ’n presidensiële kommissie van ondersoek na korrupsie in die strafregstelsel – op die presiese tydstip wat ’n plaaslike landdros dood in sy motor gevind word. Hy is tereggestel.
Aella is verplig om kontak te maak met majoor Christophe Leblanc om haar te help om data te herwin ten einde die ondersoek te bespoedig. Leblanc is ’n Fransman van Interpol wat Suid-Afrika toe gestuur is om uit te vind wat van die geld word wat Europa vir renosterbewaring skenk.
Terselfdertyd word twee renosterstropers koelbloedig voor kolonel Alexander MacLachlan op die verre noordelike grens van die provinsie doodgeskiet. Hy arresteer die moordenaar op die toneel. Sy saak word beduiwel toe die moordenaar homself om die lewe bring.
Hoe hou die moord op ’n landdros en die teregstelling van twee renosterstropers met mekaar verband? Die ondersoek lei O’Malley en MacLachlan na mekaar, met skokkende gevolge.
Die ondersoek is egter ook ’n helingsproses vir O’Malley. Deur die harde werklikheid van ’n moordondersoek leer sy dat die dooies die dooies moet begrawe en dat hoop nooit ydel kan wees nie.
‘Blinde gode’ open skaars ‘n week ná die gebeure in ‘Dowe gode’. Aella is nou die bevelvoerder van Opathe se speurtak en Alexander is terug by die Valke. Skynbaar onverwante moorde bring hulle weer oor mekaar se pad en, soos in ‘Dowe gode’, speel Leblanc weer ‘n integrale rol.
Nes sy voorganger het die realiteit van die beskrywings van die regstelsel my mateloos beïndruk. Ja, die temas is stropery en korrupsie, maar die groot waarde van hierdie reeks is die (ware) uitbeelding van hoe dinge agter die skerms werk.
Inderdaad, ‘Quis custodiet ipsos custodes’ ?
Ek beveel sterk aan dat hierdie boeke in volgorde gelees word; ek sien uit na ‘Stom gode’ !
Blinde Gode was 'n lekkerder lees as sy voorganger. Hierdie keer oordonder detail nie die storie nie, en die intrige kan flink voortmarsjeer met hierdie welkome asemhaalspasie.
Dibi se aanhangers weet al teen hierdie tyd wat om te verwag: bleek landskappe uit die verwaarloosde holtes van die land, 'n vergrootglas op die korrupsie en verval in ons staatsinstansies, etlike skurwe skurke en 'n paar moedige stryders wat die wind sterk van voor kry maar steeds op die smal en reguit paadjie probeer loop. Ek het van hierdie een gehou.
Lanklaas het ’n voorblad vir my die essensie van ’n verhaal so perfek raakgevat. Oor die simboliek van die baie bekende Justitia, of Lady Justice, kan boekdele geskryf word, maar in die Suid-Afrikaanse konteks kry dit besondere betekenis. Die regstelsel word uitgewys as blind vir korrupsie en verval. Renosterstroping is aan die orde van die dag. Musiek speel ’n belangrike rol in die lewe van Aella O’Malley, die getraumatiseerde hoofkarakter.
Ek het die voorafgaande boek, Dowe gode, reeds geruime tyd gelede gelees, en slegs my nuuskierigheid oor die voortgesette storielyn, het verhoed dat ek eers herlees. Gelukkig gee die nuwe skrywe genoeg detail om die gapings te vul en ’n sinvolle lees te verseker. As jy kan, lees hulle in volgorde direk na mekaar, maar dit is nie noodsaaklik nie.
Dibi Breytenbach het nou maar eenmaal die vermoë om byna poëties te skryf sonder om te oordryf of dit geforseerd te laat oorkom. Kyk byvoorbeeld die treffende beskrywing op bl. 73: "Die son het die aftog geblaas. Straatligte brand soos tande in ’n haasbek."
Ek wil met die karakter MacLachlan saamstem dat gierigheid en luiheid die rede is hoekom renosters gestroop word. Ek wil verder gaan om te sê dat hierdie twee eienskappe by die mens, die rede is vir die meerderheid van onheile wat mense pleeg. Tewens, dit word telkemale geïllustreer deur gebeure in die fiktiewe storielyn en lê onrusbarend ná aan die waarheid.
Ek het al voorheen gesê dat ek nogal ’n sensitiewe lesers is. Daarom dat ek hierdie boek kon waardeer. Nie ’n oordaad van grusame detail nie, maar genoeg spanning om die aandag strykdeur te behou. Ek sien uit na die volgende aflewering, wat hopelik in die pyplyn is.