Stefaans Coetzee was maar 19 jaar oud toe hy op Oukersdag 1996 saam met twee ander verregse bomme by die Shoprite-winkel in Worcester geplant het. Vier mense - onder wie drie kinders - sterf in dié verwoestende ontploffings en Stefaans se lewe verander onherroeplik. Hy word tot moordenaar veroordeel en vir 40 jaar tronk toe gestuur. In die gevangenis besluit hy stelselmatig om met sy slagoffers versoen te raak. 'n Roerende en onvergeetlike ware verhaal van versoening en hoop.
sjoe, ek moes vir lank herkou aan hierdie boek na ek dit gelees het. dit het my omtrent geruk. die boek was baie lank op my boekrak. ek het dit op 'n stadium probeer lees, maar kon dit net nie hanteer nie. ek is 'n groot 'leftie', so dit sal verduidelik hoekom dit so moeilik vir my was.
ek en stefaans het iewers in die jaar facebook vriende geword. ek hou hom dop. praat ook met ander oor hom en die boek. voel 'n krieweling, want hoeveel mense in die tronk kom nie 'tot bekering' nie. ek hoor hy is die 'real deal'.
hy begin praat oor sy tweede boek, 'onbeskryflike genade'. hy wil vorentoe gaan, dis nie meer wie en wat hy is nie. daar gebeur net een aand iets in my. ek preek genade en ek ken self genade, so hoekom kan hy nie genade kry nie. boonop is ek 'n mens wat nie hou daarvan om te oordeel nie.
stefaans, dis so lekker om te sien hoe gelukkig jy is, waar jy in jou lewe is en wat jy nou alles aanpak. jy is inderdaad nie meer daardie mens nie. ek haal al my hoedens vir jou af. jy verdien genade.
By voorbaat apologie aan almal wat my lesersindrukke volg; hierdie een gaan anders wees - meer persoonlik. Ter verduideliking: ek het nie belanggestel om hierdie boek te koop of te lees toe dit in 2019 gepubliseer was nie; ek was onder die indruk dat dit net nòg ‘n poging is om ‘n tragiese gebeurtenis (die Worcester-bom in Desember 1996) te melk vir sensasie.
Sedertdien het ek Facebookvriende met beide skrywers geword en hulle plasings oor maande fyn dopgehou; miskien tòg hopende dat my aanvanklike skeptisisme verkeerd bewys sou word. Juis dit het my uiteindelik oortuig om die boek wel ‘n kans te gee: iemand wat sò mooi oor perde kan berig (Alita) en iemand wat nederigheid en verdraagsaamheid verpersoonlik (Stefaans), verdien om (deur my) gehoor te word 🙂
Al my vooroordele en agterdog is blitsig uit die weg geruim tydens die lees van hierdie boek. In Jonathan Jansen se woorde: ‘ ‘n Verhaal vol deurslaggewende insigte oor hoe rasbeskouings gevorm word en hoe dodelike opvattings in samelewings met rassespanning omgekeer kan word.’ En Dana Snyman: ‘ ‘n Roerende, eg Suid-Afrikaanse storie wat jou diep raak en met ander oë laat kyk na elke mens in hierdie land wat jou pad kruis.’
Voor die publikasie van hierdie boek was Stefaans vir my ‘n gesig in De Wet Potgieter se ‘Gruesome: The crimes and criminals that shook South Africa’ (Zebra Press, 2015), hoofstuk 8. Dit was dus nogal vir my ‘n aangename verrassing om te sien dat dieselfde De Wet die voorwoord van ‘Wit Wolf’ geskryf het; ‘n bevestiging van hoe niks staties bly nie - mense ook nie.
Die boek het my op verskeie vlakke beïndruk: daar is geen selfbejammering, ontkenning of selfpromosie nie; veel eerder nederigheid, verantwoordelikheid, berou en hoop. Twee dinge het my nogal binnepret verskaf: Stefaans se liefde vir boeke en lees en sy afsku in verrassings, is dinge waarmee ek sterk identifiseer (vat vyf, Stefaans !)
Punte van kritiek: ek het in die laerskool (40+ jaar gelede, so die reëls mag heeltemal verander het) houe met ‘n houtlepel gekry as ek dit gewaag het om ‘was’ en ‘gewees’ in dieselfde sin te gebruik. Dit word vrylik in die boek gedoen en ek het onwillekeurig gekoes wanneer ek dit raakgelees het. Stefaans se lewe vòòr die tronk word vir my ook ietwat afgewater; die feite is volledig daar, maar dis asof die emosie ontbreek. Dit mag dalk doelbewus sò gedoen gewees het, maar vir my het dit ‘n leemte gelaat.
Stefaans se datum van formele vrylating (13 Julie 2015) was vir my nogal van besondere betekenis: 13 Julie was my pa se verjaarsdag; altyd ‘n besondere datum vir my.
Vir almal wat die boek met dieselfde agterdog bejeën waarmee ek dit aanvanklik gedoen het: vat ‘n kans en lees dit ! Jy sal aangenaam verras wees. Vergifnis raak ons almal.
Ek lees regtig baie min nie-fiksie. Wanneer ek lees, wil ek ontspan en vergeet van die "regte" wêreld. Maar soms kom daar 'n uitsondering oor mens se pad en skielik het hierdie boek oral in my newsfeeds opgeduik. So asof dit my roep, "Lees my, lees my!"
Maar eers het ek Stefaans gaan bevriend op Facebook en ek kon nie die sagte man wat ek daar sien, vereenselwig met 'n bomplanter nie.
In 1996 was ek nie op 'n goeie plek in my eie lewe nie en ek het die Worcester-bom se gebeurtenis heeltemal gemis. So ek het glad nie hierdie gebeure toé of later in die nuus gevolg nie. Dus het ek die boek met geen vooropgestelde idees begin lees.
Plek-plek wou my hart breek vir die jong Stefaans. Dis waar ja, niks kan sy terreurdaad verontskuldig nie, maar as 'n paar volwassenes ander besluite geneem het en sy hand gevat het om hom op ander paaie te lei, sou hy nooit daardie pad gestap het nie. Vir Eugene de Kock haal ek my hoed af. Ongeag sy geskiedenis, hy het die een skaap na veiligheid gelei, soos Jesus in sy gelykenis vertel.
Stefaans moes 18 jaar van sy lewe in die tronk offer om die mens te wees wat hy vandag is. Sommige van ons mors meer jare van ons lewe BUITE die tronk voor ons die mens word wat ons eintlik veronderstel is om te wees. Stefaans het mense met 'n bom vermoor. Ons vermoor soms mense met ons tong.
Een se sonde is nie groter as 'n ander nie. Vergifnis maak 'n mens vry, na alle kante toe. Ek het groot respek gekry vir wie Stefaans vandag is. En ek wens hom net die mooiste vir sy toekoms.
Uitstekend! Vergifnis en ons eie gesindheid is eintlik só belangrik, maar daar is niks wat ek oor hierdie temas (en ander) kan sê wat Stefaans Coetzee en Alita Steenkamp nie reeds - en beter - gesê het nie. Beslis die moeite werd om te lees. Mens se gesindheid kan jou kelder, of red. En dis in ons eie hande.