Wat as ʼn wildvreemdeling die man van haar drome is? Gabrielle de Klerk gebruik die Kiss a Stranger-app om die laaste item op haar wenslysie vir haar matriekvakansie in Parys te verwesenlik. Die speletjie het ongeskrewe reëls: geen inligting mag uitgeruil word nie en geen planne mag gemaak word om mekaar weer te sien nie. Net ʼn soen en dan moet jy aanbeweeg. Maar kan Gabrielle verby die man van haar drome beweeg wanneer sy hom weer jare later raak loop en boonop deur sy ouma gevra word om funksies vir hom te reël waar hy die room van die land se beskikbare jong dames kan ontmoet en onder hulle ʼn trouvrou vir hom soek?
Dina Botha is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Sy het vier kinders waarvan twee nog skoolgaande is. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekende romanskrywers se boeke verslind en gehoop om eendag self ’n skrywer te word. Ná skool het sy egter haar droom om joernalis te word gebêre en ’n IT-kwalifikasie behaal. Twintig jaar later het haar passie vir skryf weer opgevlam en sy het die keer die moed gehad om haar droom met mag en mening na te jaag. Sy het in 2014 haar werk bedank en is nou voltyds ’n skrywer
Soen ʼn vreemdeling – Dina Botha Weer 'n lekkerleesboek. Dina se taalgebruik en beskrywings maak die romans werklik in my oë. Soen ʼn vreemdeling is beslis iets wat meeste liefhebbers van Afrikaanse liefdesverhale in hul versameling sal verwelkom.
Die romanse is by uitstek dié genre wat aan ’n skrywer carte blanche verleen om toeval na hartelus in te span om ’n storielyn te vestig of uit te bou. En dit boonop te doen sonder dat kritisi daaroor mag frons. Wat ’n romanseskrywer maak met toeval is vir my altyd baie interessant en aanduidend van hoe ryk haar verbeelding is, en ook van die vaardigheid van die skrywer.
Dina Botha se Soen ’n vreemdeling kan my punt goed illustreer. ’n Toep wat vir Gabrielle lei na ’n vreemdeling om te soen, ’n romantiese plek soos die Eiffeltoring in Parys, ’n paar groen oë om oor te swymel, dit alles getuig reeds van ons skrywer se ryke verbeelding en blykbaar onuitputlike bron van idees. En dan die toeval: Gabrielle en ene Marcell Spencer se paaie kruis agt jaar later. Toeval wat romanselesers verwag en geniet.
My komplimente aan die skrywer vir die beheersde ontplooing van die plot. Dit sou nie so lekker gelees het as alles vroeër op die lappe gekom het nie.
Dit is jammer dat die daar ’n klein foutjie deurgeglip het op bl 122: sy woorde was kripties, sekerlik nie krities nie, maar soos Gabrielle, behoort die lesers ook te snap wat bedoel is. Die beginsel van bie op ’n persoonlikheid, is weliswaar dalk al ’n bietjie oorbenut, maar hier word dit gelukkig nie oorbeklemtoon nie, en verskans agter ’n filantropiese motief. Ek penaliseer nie met meer as een punt nie.
Behalwe vir die boodskap dat ’n toevallige ontmoeting dalk meer as blote toeval kan wees, dra die storie ook die sentiment uit dat alle rykmanskinders nie onsmaaklike, bedrowe brokkies hoef te wees nie, en dat daar nie noodwendig altyd struweling in families is nie. Lekker, ontspanne leesstof.