'n Aksiebelaaide wedren teen tyd om 'n katastrofiese kerntoets te stop voor dit die brose onderhandelingsproses na Suid-Afrika se ontluikende demokrasie kan kelder. Dis 1987. Spesmagte se Jos Fourie vergesel 'n skeepsvrag missiele in weerwil van wapensanksies toe hy CIA-oë op hom gewaar en wapengehalte uraan aan boord ontdek – gebeure wat hom sou teister op 'n moordende tog uit die Noordsee na 'n geheimsinnige Weermag-skag in die Kalahari-duine.
Jaco Wolmarans is ‘n Kaapstadse vryskutskrywer, videovervaardiger en fotograaf. As voormalige joernalis het hy sy loopbaan in die Ooskaap as misdaad- en hofverslaggewer begin voor hy in die negentigers na korporatiewe joernalistiek en later vryskut-kopieskryf oorgeskakel het.
Jaco het in die laat tagtigers ‘n paar kortverhale gepubliseer, maar dit sou jare duur voor sy militêre diens-agtergrond en uitgebreide Afrika-reise sy begeerte om ‘n vollengte-boek te skryf, laat herleef het.
‘n Werkbesoek aan Mosambiek het as aansporing vir sy debuutwerk, BOS, in 2018 gedien. Die werk is wyd verwelkom as ‘n nuwe rigting in Afrikaanse literatuur: ‘n kombinasie van tradisionele spesmagte-literatuur en politieke intrige, gemeng met omgewingskwessies en intelligensie-aktitiwiteite.
Sy opvolg, die historiese roman SKAG, volg die politieke gebeure rondom die bou van Suid-Afrika se kernwapens in die tagtigers en die rampspoedige gevolge vir die land se jong demokrasie sou hierdie wapens in ver-regse hande val.
In IVOOR volg Jaco se spesmagte-karakters, Tex en Carlos, geheimsinnige betalings aan buitelandse rekenings uit die apartheidsjare. Die verhaal neem die twee terug na hul eie bloedige verlede as kleinspan-operateurs in Angola. IVOOR was ‘n ATKV Woordfeertjie-finalis vir spanningsromans in 2022.
In DOLOS skuif die aksie na Mosambiek en Islamitiese ekstremiste en heroïen-smokkel. Die karakters bevind hulself midde-in ‘n staatsgreep, en bring só al Jaco se fiksie-belangstellings byeen: die skatkis van onaangeraakte stories uit Suider-Afrika se politieke en militêre verlede, sameswering en politieke intrige.
Jaco bly in Milnerton saam met sy vrou Nicky en bestee sy vrye tyd op ‘n seilplank – verkieslik teen hoë spoed.
Ja, Suid-Afrika het 'n atoomwapenprogram gehad en selfs atoommissiele gebou, en ons was stout genoeg om 10 jaar later weer dieselfde toetsfasiliteit waarmee die Russe ons in 1977 uitgevang het voor te berei en op bystand te sit ... skagte in die Kalahari.
1987. Suid-Afrika se vlagskip Mirage-vegvliegtuie is geen kompetisie vir die nuwer en ratser Russiese MIGs nie. UNITA slaag daarin om 'n klompie SA-9 Gaskin (Strela) grond-tot-lug missielstelsels by die Kubane af te vat. Dit kan die balans swaai en die lugruim veiliger vir die Suid-Afrikaanse magte maak.
Een probleem: ammunisie.
Spesmagte-operateur Jos Fourie word deur Nasionale Intelligensie genader vir 'n sensitiewe werkie: hy moet missiele vir die SA-9 stelsel wat vanuit Oos-Duitsland per skip vervoer word oppas.
Dit word gou duidelik dat alles nie so eenvoudig is soos dit voorkom nie. Die CIA is betrokke, iemand probeer die besending onderskep en Jos maak 'n skokkende ontdekking op die skip wat 'n alreeds moeilike sending nog verder kompliseer. Dan is daar nog Ashley Ramirez, 'n vrou wat sy kop verder deurmekaar maak en ook nie is wie sy voorgee om te wees nie.
Na 'n aanvanklik stadiger pas terwyl die skaakbord van karakters en intriges opgestel word versnel dinge vinnig. Van die tonele wat op die skip afspeel herinner aan Alistair MacLean se klassieke spanningsverhale: die klaustrofobie van vasgekeer wees in 'n vyandige omgewing met geen kans vir ontsnapping en geen idee wie om te vertrou nie. Aksietonele volg kort op mekaar se hakke, van die oop see tot in die sand van die Kalahari, afgewissel met die gewoel in die donker gange van die betrokke intelligensie-eenhede.
Van die aksietonele het geloofwaardigheid bietjie gestrek vir my (en soms kom ons helde dalk 'n knertsie te maklik uit die knyp). Ek is egter 'n welbekende drup in hierdie area en meeste mense wat dinge nie oordink soos ek nie gaan glad nie gepla wees nie. Toeval speel ook hier en daar 'n rol, maar darem nie so baie dat dit steurend raak nie. Die karakters word nie noodwendig diep ontgin nie, maar kry genoeg vleis om te werk as bestanddele vir die spesifieke dis wat die boek wil voorsit. Niemand is vervelig perfek nie.
Skag is lekker ontvlugting, 'n ouskool aksiegedrewe spanningsverhaal, 'n wedren teen tyd wat teen 'n skrikwekkende (en puik nagevorsde) ware Suid-Afrikaanse agtergrond afspeel. Ek sal die skryfstyl beskryf as 'n mengeldrankie van Rudie van Rensburg en vintage Clive Cussler. Aanhangers van hierdie skrywers veral kan maar hierdie een op hulle lysie sit.
‘n Spioenasiestorie vol aksie, wat na die onsekere eerste 50 bladsye spoed optel en teen ‘n snelle vaart die leser meesleur vanaf Europa verby die kuslyn van Afrika en tot daar in die Kalahari woestyn. ‘n Vergelyking met Alistair Maclean is nie onvanpas nie en ek dink ook aan die 007- films. Tog kan die skryfstyl verbeter word, want plek-plek voel die aksietonele ietwat hortend en selfs die karakters ook. Die ontknoping, propvol van intriges en teen-intriges, aan die einde is ietwat buite verhouding tot die hele verhaal en boet gevolglik die soomlose vaardigheid van ‘n eenvoudig lekker skop-en-donner storie in. Maar laat Wolmarans gerus nog vir ons stories vertel, want hul sal verbeter, soos “Skag” inderdaad beter as “Bos” is.