Sy is 'n rykmansdogter uit die Engelse elite in Johannesburg; hy is 'n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar wanneer Catherine se lewe in duie stort en sy alles verloor wat sy geken het, is Chrisjan daar om vir haar 'n heenkome te bied. Op Kanaän word sy gekonfronteer met die wreedheid van die natuur, die vooroordeel van die Afrikanergemeenskap en die onverdraagsaamheid van mense wat anders dink as sy. Maar sy leer ook die kosbaarheid van die lente ken, van die goedheid van vriende, en boweal van die liefde wat so stil in haar kom groei het. Al wat sy nie weet nie, is hoe om die verlede ongedaan te maak sodat sy hierdie liefde waardig kan wees.
Ná verskeie topverkopers op haar kerfstok is Kanaän Sophia Kapp se eerste historiese roman. Onreg teenoor vroue wat sentraal gestaan het in haar vorige werk, brei in Kanaän uit na vooroordele gegrond op ras en geloof, na die pyn wat mense mekaar kan aandoen maar ook na die wonderwerk van goedheid wat genees.
Sophia Kapp skryf die soort stories wat sy self graag lees – liefdesromans. Sy glo onwrikbaar in die liefde en in die helende krag daarvan, maar glo ook dat haar hoofkarakters dieselfde sout as haar lesers moet opeet voordat hulle die vervulling daarvan mag smaak. Daarom plaas sy haar heldinne binne realistiese, lewensgetroue situasies en laat sy hulle spook met geloofwaardige krisisse waardeur vroue dwarsoor die wêreld en die sosiale spektrum moet worstel: verraad, verlies, egskeiding, affairs, miskrame, middelmisbruik, moeilike tieners, bagasie van vorige verhoudings ... Maar vir elke heldin wat bereid is om hierdie krisisse aan te pak en te oorkom, is daar ’n held, ’n man wat by haar pas en haar waardig is; iemand saam met wie sy binne ’n vervullende verhouding geborgenheid vind. En saam met haar op haar reis is daar haar susters – bloedsusters en hartsusters – wat haar optel as sy val, wat haar dra as sy moeg word en wat saam met haar dans wanneer sy feesvier. Die erflating is in 2008 met die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans bekroon en Huis van die wind in 2012. Sophia was ook twee agtereenvolgende jaar die wenner van die Rapport-prys vir die mees inspirerende dosent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Potchefstroomkampus van die NWU. Sy het ’n MA in tale aan die destydse UOVS behaal en het aanvanklik ’n akademiese loopbaan gevolg, maar sy was intussen al alles, van ’n barrista tot ’n boekhouer in ’n bank. Tans is sy, benewens ’n skrywer, ook taalpraktisyn, vertaler, dosent en lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy woon saam met haar man, kind en drie bedorwe honde in Centurion.
Hier - en elders - is al baie oor hierdie boek gesê; dit is dus sinneloos om die sinopsis te herhaal. Ek sal volstaan met die volgende: Kanaän is ‘n historiese roman wat teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika (hoofsaaklik op ‘n plaas in die Vrystaat) afspeel. Vooroordele en diskriminasie is belangrike temas; die onaanvaarbaarheid van ‘anders’ wees sentraal daartoe.
Kanaän is nogal ‘n lywige boek (bykans 500 bladsye) maar dit lees maklik en vinnig, vloei lekker, stel die leser bekend aan karakters wat gou in jou hart kruip, die dialoog is pittig en oortuigend en die omgewingsbeskrywings besonder realisties (ek het my verbeel ek vòèl die Vrystaatse winter.)
Mense se onvermoë om te kommunikeer veroorsaak heelwat konflik en misverstande en was soms - veral tussen die hoofkarakters - vir my ‘n bron van frustrasie, maar ‘n paar onverwagte kinkels het verhoed dat sulke situasies in cliché’s verval. Op die ou end het ek die boek toegemaak en gedink: dit was nou lekker !
Ek het baie gedink oor die stertoekenning; om ‘n boek soos Kanaän te vergelyk met die (meestal Engelse) rillers wat ek die afgelope tyd gelees het, sou onregverdig wees. As historiese fiksie met ‘n dik romantiese streep verdien dit ‘n soliede 4 sterre by my. Lesers wat Irma Joubert geniet, kan Kanaän gerus ook aanskaf.
Dit was nou 'n lekker Afrikaanse roman wat ek wraggies weer sal lees.
In Kanaän vat Sophia Kapp onverdraagsaamheid, kortsigtigheid en blatante onregverdigheid tromp op aan. Alhoewel dit seker hoofsaaklik as 'n liefdesroman geklassifiseer kan word, word bogenoemde kwessies fyn, maar onmisbaar verweef in Katryn en Chrisjan se liefdesverhaal. Die wêreld geskiednis van daardie tyd (laaste twee jaar van WWII) neem ook sy plek in op internasionale en plaaslike vlak. Ek het meer as een maal vir my eie lang, donker, nie-boerseun gesê dat dit my tref hoeveel van ons eie geskiedenis ek feitlik ken, maar eintlik geen benul van het nie. Ons is maar 'n interessant volkie met 'n donker geskiedenis. Dat ons self, in vele gevalle, die donker kruite gekies het om in te kleur, word baie subtiel oorgedra in hierdie historiese roman.
"Ons kan nie die wêreld regmaak nie, maar ons kan sorg dat ons in ons klein hoekie daarvan ordentlik leef."
Volledige en baie gelukkige en tevrede lesersindruk, is hierby aangeheg.
wat 'n ongelooflike ongelooflike boek. dit was saggies, dit was tragies, dit was mooi, dit was hartseer.
ek is glad nie een vir liefdesboeke nie, maar hierdie is nie 'n gewone liefdesverhaal nie. dis soveel meer. twee mense van verskillende wêrelde wat mekaar vind en wat wys dit kan. ek kon myself met 'n hele paar dinge in hierdie storie vereenselwig.
die boodskap van hoe sleg bevooroordeling kan wees en die gevolge daarvan, is iets wat ek hoop 'n ieder en elk wat met sulke goed in hulle harte rondloop, uit kan leer. daar is nog heeltemal te veel hiervan in ons moderne samelewing.
Wat sê 'n mens van so 'n meesterstuk? Groots, hartverskeurend mooi, onverbeterlik.
En dan, bo alles die fel aanspraak op ons almal se gewete. Mens doen nie iets omdat dit maklik is nie, mens doen dit omdat dit reg is. En 'n hele regering en 'n hele gemeenskap se oordeel is nie altyd reg, net omdat die meeste van hulle so dink nie.
As jy kan opstaan teen die meerderheid omdat hulle verkeerd is, dan is jy die woord integriteit waardig. Dan is jy menswees waardig, Dis nooit maklik nie, maar as dit reg is, dan doen jy dit.
Die gedagte aan die lees van ’n verhaal van kort duskant vyfhonderd bladsye was vir my intimiderend in grendeltyd. Juis omdat die inperking unieke eise stel ten opsigte van mý tyd en gemoedstoestand. Tog maak ek toe die heerlike fout om die proloog te lees, en vir twee dae was ek verlore vir my huishouding! Die storie van Kanaän en sy diverse karakters is so beeldryk en oortuigend vertel deur Sophia Kapp dat ek myself totaal daarin verloor het.
"… sommige stories is wyer as die tyd waarin hulle afspeel, en meer werd as net die karakters wat daarin optree." (bl 11). Nadat ek die treffende slotparagraaf gelees het, het ek weer die proloog gelees en weer gehuil oor die Italianer wat kyk hoe die son sak oor die koring voor sy huis. Trouens, ek het kort-kort stil trane gestort oor die verliese en stryd, maar ook die vreugdes van die karakters.
Hierdie historiese roman speel af in 1944, grotendeels op die plaas, Kanaän, in die distrik Senekal, maar dit betrek die wêreldgeskiedenis van daardie tyd en daag die leser uit om vooroordele en misdrywe, internasionaal en plaaslik, in die oë te kyk. Dit grens vir my aan heiligskennis om ’n mening te wil lig oor so ’n besondere roman. Daarom volstaan ek deur te sê dat dit volpunte kry van my af.
Gaan kyk gerus op Boekemakranka se YouTube kanaal na die gesprek wat gevoer is met Sophia Kapp. Sy gee interessante inligting oor haar navorsing en ontwikkeling van die karakters. Ook oor die keuse van die jaar waarin dit moes afspeel. En doen jouself dan die guns om hierdie boek aan te skaf as jy dit nie reeds het nie, en hou van ’n weldeurdagte en boeiende verhaal.
Rykmanskind Catherine Baker beland weensbisarre omstandighede heeltemal buite haar beheer, op 'n plaas in die Vrystraat, aangrensend aan 'n plaas wat aan haar oorlede vader, George, behoort het. Sy bevind haarself skielik in 'n gemeenskap van wie sy nouliks bewus was, en werklik geen belang by gehad het nie. Haar beskermde, bevooroordeelde bestaan in Johannesburg, kon haar nooit voorberei op wat sy hier sou beleef nie... Sy raak vasgevang in 'n verhouding wat sy nie voorsien het nie; sy beleef in die mees intense manier, die engheid van sommige mense se lewensbeskouings; ervaar ongelooflike hartseer en ook onbeskryflike vreugde; en staan bankvas by haar eie oortuigings, ten spyte van felle en ongenaakbare teenkanting. Met karakters so Catherine, Chrisjan, Boetie, Esau, Lerato, Grazzianu en nog meer, slaag Kapp daarin om 'n verhaal te vertel wat die leser boei tot die laaste bladsy. Sy spreek holrug-geryde sosiale kwessies aan, krap lelike wonde uit die verlede oop en konfronteer die leser skaamteloos met persoonlike oortuigings. "Mog ons almal soos die blindes kyk, dan was die wereld dalk 'n beter plek" - hierdie woorde wat Jablonski uiter het my wind uitgeslaan. So relevant, juis in die hedendaagse konteks! Dis maar een van 'n aantal aanhanlings wat 'n oomblik of twee se stilstaan gevra het! Ek wil graag soveel meer oor hierdie boek skryf, maar jy moet hom maar self aanskaf. By my kry Kanaan volpunte!
Ek het Kanaän deur Sophia Kapp vreeslik baie geniet. Om die waarheid te sê, so baie dat ek eintlik aspris soggens die langer pad werk toe gekies het om net nog ʼn rukkie langer te kan luister.
Ek weet nie of ek net besonders emosioneel is, en of die storie net presies my regte hartsnare geroer het nie, maar ek moes met tye hard aan my trane sluk. Veral hier by die einde langs is ʼn toneel wat my regtig ontroer het.
Kanaän is ʼn diep menslike verhaal van onder andere ʼn besonderse sterk maar ook weerbare vrou.
Ek vermoed as daar net meer mense soos die heldin, Katherine/Katryn kon wees, sou die wêreld ʼn baie beter plek gewees het.
Ek beveel die storie regtig baie sterk aan vir lesers wat na ʼn effe "dieper" liefdes- maar ook menslike verhaal soek.
Wat 'n ongelooflike, meesleurende, meelewende, empatiese historiese liefdesroman.
Elza het 'n uitstekende resensie(review) van hierdie roman geskryf. Indien dit waar is dat Tryna Du Toit se Wag 'n Bietjie as templaat gebruik was vir Kapp se Kanaän, wat heel moontlik is, omdat so baie liefdesromans dieselfde bloudruk volg, staan Kanaän kop en skouers uit bo enige vorige pogings van enige ander skrywers—my mening.
'n Half-naat (50/50 Engels-Afrikaanse) stadsmeisie beland weens omstandighede op 'n Vrystaatse plaas in 'n gerieflikheidshuwelik met 'n boerseun. Catherine Baker se redding is dat haar Afrikaanse ma die dogter van die buurplaas eienaar was en vir Katryn(soos sy nou genoem word) dus 50% rede gee om in die streng Afrikaanse gemeenskap te mag wees - teoreties gesproke, natuurlik. In die realiteit was dit geheel 'n ander, tragiese, storie.
Daar is so baie ooreenkomste tussen Catherine en myself, dat dit 'n somtyds bittere, maar grootliks genotvolle nostalgiese reis, gevul met heimwee, vir my was om die boek te lees. My verhaal ontplooi nog steeds, terwyl hare in 'n vroeëre era afspeel.
Sophia Kapp versinnebeeld die diversiteit van 'n groep Suid-Afrikaners - die Afrikaners, tydens die laaste jare van die Tweede Wereldoorlog. Van eng, tot verlig, konserwatief tot liberaal. Tussen-in is daar die verbitterde Duitser Ferdinand, die selfregverdigende Van Rensburgs, Grazzianu, die Italiaanse krygsgevangene, en die verslae Joodse familie Jablonski. Dan, natuurlik, is daar Chrisjan Cronje, die eintlike held en eienaar van die plaas Kanaän in die Vrystaat.
Die Anglikane is een mal koning weg van Katoliek, oor aanspreeklikheid is hulle presies dieselfde, reken Grazzianu, (my bydrae: oor die 'God's Gift to Mankind-Engelse' wat op almal en alles om hulle neergesien, terwyl hulle soveel lande gestroop en besteel het, en nog steeds hulle eie donker geskiedenis verafgod maar ontken.
Die verhaal speel af oor verskeie geslagte, en is gestroop van geskiedkundige vernis. Maar, dis geskryf met 'n simpatieke, effens romantiese pen en laat die leser goed voel by die laaste punt. Eintlik: sy laat die leser opkom vir asem. Briljant.
Ek is nie 'n liefdesromanleser nie, en boeke met slegs vroulike hoofkarakters of heldinne 'have overstayed their welcome' op my rak. Te veel. Sophia Kapp slaag egter daarin om ook die manlike karakters goed te belig en veral wit mans, nog 'n kans te gee as gelyke vennote ten spyte van die radikale feministiese poging om hulle totaal en al te verwyder van die planeet of tot volledige slawe te verlaag. Haar benadering is gebalanseerd en geloofwaardig. En daarom 'n heerlike lekkerlees ervaring. Op die ou einde is dit net 'n verskriklike mooi storie.
Wel wel wel, dit is nou vir jou ‘n boek!! Ek dink nie ek het al in my lewe so ‘n boek beleef nie. Vir neersit is daar gans nie. Waar hierdie meisie, dis nou Catherine vanuit ‘n Engelse huis kom, wat nie ‘n tekort aan geld het nie, na ‘n plaashuis in die Vrystaat, en Afrikaans. Sy kan goed Afrikaans praat, so daar het sy nie ‘n probleem nie, maar die gemeenskap sien nie dit as ‘n punt om te aanvaar nie. Soveel dinge gebeur met Catherine, waar jy net wens dat dinge wil werk of nie moet gebeur nie. Jy is die heeltyd op die punt van jou stoel, gefokus (niemand moet jou durf pla nie). Jou familie kan vir ‘n rukkie na hulle self kyk want jy MOET net weet hoe dit met Catherine gaan op Kanaan. Jy voel sommer jy groei saam met haar en wel, die plaasmense. Elkeen se storie en hoe elkeen groei is verstommend. Ek moet net weereens sê, daar ‘n groot skoene om te vul na hierdie boek vir Sophia, want hierdie was uit en uit ‘n uitstekende boek. BAIE geluk.
Die beste boek van Sophia Kapp wat nog geskryf is. Hierdie is 'n fyn verweefde verhaal tussen tragiek en geluk sowel as die eise van inpas in 'n klein (bevooroordeelde) gemeenskap soos wat op plattelandse plekke in SA aangetref word. Lewensgetrou en navorsing is uitstekend gedoen. As een van Sophia se boeke wat gelees moet word, is dit hierdie een!
Dis een van die beste boeke wat ek nog gelees het, tot op die laaste bladsy van die epiloog hou dit jou aandag. Ai, ek was teleurgesteld om klaar te wees.
Catherine Baker het en kan alles kry wat sy begeer. Of het sy? Wanneer alles wat sy ken en wie sy is binne 'n week van haar ontneem word, is dit 'n wildvreemdeling wat haar 'n heenkome bied. Op 'n plaas in die Vrystaat, ver verwyder van haar glanslewe in Johannesburg, ontdek sy meer in 'n eenvoudige bestaan as al die weelde waarmee sy grootgeword het. Sy word Katryn en vind 'n tuiste op Kanaän en in die harte van ware vriende. Sy wil ook graag vir Chrisjan die vrou wees wat hy verdien, maar daar is spoke in haar verlede wat dit verhoed en groter misverstande veroorsaak. Tog vind liefde die weg, al vra dit soms 'n groter prys.
Dis 'n verhaal vol liefde en leed, vooroordeling en aanvaarding. Vriendskap, hoop, genesing. Kanaän het my aan die hart gegryp. Dis nie net 'n historiese roman nie. Dis soveel meer. Het ons maar na mekaar gekyk soos blindes. Mekaar aanvaar met die hart van 'n kind.
Welgedaan Sophia. Jy het my laat lag. Jy het my met oorgawe laat huil. Jy het my met hoop vervul. Mag jou pen nooit opdroog nie.
Hierdie historiese roman het my aangegryp op verskillende vlakke. Vooroordeel teen Engelse, Afrikaners, swartes en Jode wat grens aan Xenophobia, word in die Vrystaatse platteland uitgebeeld teen die agtergrond van WW11.
Temas van verlies op verskillende maniere, wroeging, vergifnis word aangespreek.
Die karakters word baie werklik uitgebeeld, daar is 'n verskeidenheid mense, soos wat ons hulle ken. Die boek lees maklik, hy lees lekker, maar dit is geensins 'n oppervlakkige boek nie. 'n Liefdesroman met baie diepte.
Great historical Romance, but just too long. I pushed through but was very tempted to put it done, a few times. Think this one book could have been three books- a trilogy. Well written& researched, but too long for my personal taste !
Hierdie was een van die boeke wat my nogal baie laat dink het. Wie gee my die reg om ander te oordeel omdat hulle nie soos ek lyk, soos ek dink, soos ek voel of soos ek glo nie. Kom ons verdra mekaar en maak die wêreld ‘n beter plek……een dag op ‘n slag!