Die ongeluk het Kylie se lewe uitmekaargeruk. Nie net het sy haar linkerhand verloor nie, maar haar jonger sussie, Lieke, is vir altyd weg. Boonop is sy die een wat al vir maande lank haar ma se geheim moet ronddra.
'n Onbeplande road trip saam met haar eksentrieke skrywer-oupa en sy aantreklike jong assistent, Lee, bied vir Kylie die perfekte kans om te ontsnap. En miskien is dit haar geleentheid om iets vir Lieke te doen; om 'n paar goed op haar sussie se bucket list af te merk: photobomb iemand famous, leer om te surf, maak 'n verskil, plant 'n boom, soen 'n mooi ou ...
Dit word 'n vakansie wat Kylie nooit sal vergeet nie. 'n Reis terug na haarself, na heelword. Maar ook 'n reis deur alles wat hierdie deurmekaar lewe op 'n mens se pad bring: hartseer, verlies, skoonheid, liefde ...
"Desolation - a state of complete emptiness or destruction. Barrenness, bleakness, starkness, bareness... Daar kon maar net sowel gestaan het: Die laaste vyf maande van Kylie se lewe."
Op 17 is 'n mens veronderstel om te worry oor eksamens, netbalproewe, 'n matriekafskeid date, en jou hele toekoms wat voor jou lê. Maar nie Kylie nie. Kylie is in 'n donker plek nadat sy in 'n gruwelike motorongeluk haar hand en jonger sussie, Lieke, vir ewig veloor het. Boonop moet sy 'n groot geheim vir haar ma bewaar, terwyl beide haar ouers se "coping mechanisms" alles by die huis vererger.
Dan kom Oupa du Preez in die verhaal. Professor en beroemde skrywer met 'n kunstenaarsgees, wat op 'n broodnodige tyd vir Kylie uit die gemors van haar lewe kom red. Boonop met 'n vintage pienk Cadillac en sy assistent - 'n oulike eerstejaarstudent, Lee.
Die Vlerke van Naaldekokers deur Cecilia Steyn is voorwaar 'n Afrikaanse "coming of age" jeugroman soos min! Die verhaal - propovol diepte, self ontdekking, humor en 'n titseltjie tienerliefde - het my binne die eerste paar bladsye teruggeneem na hoe dit voel om 17 te wees. Ek het dit só geniet om saam met Kylie, Oupa en Lee op 'n Roadtrip deur die storie te reis met besoeke aan eg Suid Afrikaanse gunstelinge soos die Uilhuis, Jeffreysbaai, Bloukransbrug, al die pad tot by die Mojo Market in die Kaap.
Tydens die reis, kry Kylie kans om te rou en van al haar verliese afskeid te neem terwyl sy haar sussie se bucket-list aktiwiteite een vir een aanpak. Kylie word weer mens, besef dat sy nooit vir die lewe moet terugstaan nie, en leer dat sy selfs met net een hand en haar "vlerk" kan vlieg.
'n Eerlike verhaal wat sonder twyfel die hartsnare van oud en jonk sal roer.
...My eerste boek wat ek lees deur Cecilia Steyn...
Is versot op die voorblad! Klein details wat na vore kom in die boek... ek is mal oor literary easter eggs!
Die karakters is almal belowend, veral Kylie. Die hele boek het ek binne 2 dae gelees. Ek het baie van die storielyn en Kylie se "groei" gehou - soveel so dat ek na aan die einde saam haar gehuil het!
Ek sal enige tyd weer `n Cecilia Steyn lees en beveel hierdie een aan vir almal!
Kylie is 17 en het haar linkerhand én haar enigste sussie, Lieke, in ‘n motorongeluk verloor. Haar eertydse vriende het vreemdelinge vir haar geword en sy en haar ma struikel figuurlik rondom mekaar weens ‘n geheim wat Kylie belowe het om te hou. Toe Kylie dus die kans kry om op ‘n road trip saam met haar eksentrieke oupa te gaan, is dit die perfekte geleentheid om, minstens tydelik, uit haar stukkende lewe te ontsnap.
Dit word ‘n vakansie wat Kylie altyd sal onthou; haar reis na heel word ten spyte van krake, word met deernis en humor vertel en is aanbevole leesstof vir meisies van 14-16. 4 sterre van my.
(Ek onthou jy het altyd toe ons klein was het jy altyd gewag tot ek klere kies sodat jy presies dieselfde kon kies. Ek wens ek kon jou weer vasdruk.) Die eerste ontmoeting was in PNA. Dit is een van die mooiste buiteblaaie wat ek in ‘n lang tyd gesien het. Daardie dag was ek opsoek na ‘n boek vir my elf-jarige dogter. My oë het vlytig oor die lok teks gedans – dit is die woorde in die teks wat my laat stil staan het, die ongeluk het Kylie se lewe uitmekaargeruk. Woorde wat ek verstaan – wat ‘n seer gebring het wat ek nie kan verduidelik. Ek het omgedraai en die boek op die rak gelos. Vanoggend kon ek steeds nie ophou aan die boek dink, en die one-click knoppie op my Amazon gedruk. Ek het begin in die hoek op my gunsteling bank met my hekelwerk op my been sit en lees. Later het ek onderstebo gelê met my voete op die rusbank en my rug op die teëls. Self nog later het ek op die grond gaan sit langs my man, en my kop onder sy arm lê en lees. Êrens die deur dag het ek gedink – Sondae moet wees vir boeke soos dié wat jou hart en jou emosies laat verlang. Ek is verwonder oor die beskrywings wat die skrywer gebruik oor hoe dit voel om ‘n sussie te verloor, dit is dan of sy so reg in my binneste kan kyk. Kylie, haar Oupa en Lee sy aantreklike jong assistent gaan op ‘n road-trip van Bloem na Kaapstad, elkeen van hulle gaan om ander redes. Almal van hul beautifully broken op sy eie manier. ‘n Juweel van ‘n boek en sodra ek weer in die dorp kom gaan ek die boek vir my dogter koop en bêre tussen die boeke wat ek vir haar wil bêre vir eendag, want boeke kan partykeer sê wat mens hardop wil skree. AANHALING: “In kontras met die vaal larwe, is die volwasse naaldekoker met sy pragtige vlerke en lyf, magies in sommige kulture. ’n Simbool van metamorfose en verandering. Hulle groot oë simboliseer om verby mens se selfgemaakte beperkinge te kyk. Naaldekokers simboliseer ook ’n nuwe begin. Dalk is dié een ’n teken net vir jou,”
Sjoe, ek het groot bewondering vir iemand wat só 'n jeugverhaal kan skryf! Sommige reëls uit die boek wil ek aanhaal, raam en iewers ophang. "Ek is...een wat met nuwe krag deur die oppervlak kon duik en opstyg met nuwe vlerke..." Ander voel ek baie intens aan my eie lyf..."Daar is genoeg van my eie donker in my kop."
Die Vlerke van Naaldekokers is in gemaklike, hedendaagse Afrikaans geskryf en lees baie vloeiend. Kylie, die hoofkarakter, is besig om deur die trauma van 'n noodlottige motorongeluk te werk, wanneer haar skrywer-oupa onverwags by die huis opdaag. Saam met hom is Lee, een van sy studente, en Kylie besluit op die ingewing van die oomblik om hulle op hulle road trip te vergesel. Tydens die trip is daar verskeie geleenthede waar Kylie onverwags die kans kry om van haar 'issues' sonder veel fanfare te verwerk. Deur verskeie aktiwiteite op sus Lieke se bucketlist te doen, beleef Kylie avonture waaroor sy nooit kon droom nie en leer sy haarself, oupa én Lee beter ken... Verhoudings wat verwond was, kry perspektief, en selfbeeld kwessies word afgestof en blinkgevryf - ongelukkig nie sonder diepe hartseer en teleurstelling nie. Oupa en Lee vorm egter 'n veilige, sensitiewe vangnet waarin sy kan val, wanneer die heelword-proses haar onderkry.
Die skrywer haal sonder omhaal verskeie groot sosiale 'geraamtes' uit die kas wat beslis in sommige tieners se lewens, enorme invloed het. Die simboliek van die naaldekoker loop soos 'n fyn goue draad regdeur hierdie boek, asook 'n ondertoon van kommer by Kylie, oor haar geliefde oupa.
Hier is 'n juweel in die Suid-Afrikaanse jeuglektuur wat ek hoop wyd en syd aan tieners gegee sal word om te lees! Dis 'n boek wat op elke trotse leser se boekrak hoort! Van die pragtige voorblad tot die laaste paragraaf, 'n juweel!
Die splinternuwe jeugroman uit die pen van bekroonde skrywer, Cecilia Steyn, is beslis nie slegs vir jongmense bedoel nie. Inteendeel, sy dra dit op aan “almal met krake”. Sy kwoteer ook heel gepas vir Croucho Marx: “Blessed are the cracked, for they shall let in the light.”
Kylie verloor haar linkerhand, en haar jonger suster, Lieke in ’n motorongeluk. Buiten haar eie gebrokenheid en verlies, dra sy ook swaar aan kennis oor die oorsaak van die ongeluk. Dit is op die punt waar sy ’n bucket list van haar suster ontdek, dat haar ietwat essentrieke Oupa Du Preez met ’n pienk Cadillac opdaag en haar op ’n onbeplande road trip saamnooi. ’n Reis wat grootliks bydra tot Kylie se heelword. Haar afmerk van items op Lienke se lysie is ’n soort boetedoening, afbetaling van die skuld wat sy voel jeens haar suster. Sy word daarin ondersteun deur Lee, haar skrywer-oupa se “assistent”, en natuurlik die nimlike oupa self.
Dit is ’n pragtige verhaal waarin die simboliek van die naaldekoker kort-kort na vore kom. Ek wil nie uitbrei daarop nie, want ek wil lesers aanmoedig om die storie self te lees. Die verhaal het heelwat om die lyf, hanteer bitterseer aspekte soos intense hartseer, fisiese en emosionele verlies, die aanvaarding van imperfeksie, uitdadings. Hoewel dit somber onderwerpe is, is die verhaal nie sonder hoop nie. Daarvoor is Kylie te veel van ’n vegter, en daar is boonop ’n bietjie ontluikende liefde om die skaal te balanseer.
Hoewel dit primêr vir die jeug geskryf is, beïndruk die taalgebruik. Daar is ’n paar Engelse woorde en sinsnedes, maar dit is natuurlik en effektief, glad nie steurend nie.
Hierdie boek was absoluut fantasies. Die skryfwerk was van die mooiste wat ek al gelees het. Hierdie verhaal is nie die tipiese liefdesverhaal wat ek verwag het nie. Dit is n diep storie met so baie meer betekenis as net n oppervlakige liefdesverhaal. Met Kylie wat nie meer haar arm of haar jonger suster, Lieke, het nie. Jy kan duidelik deur die boek sien hoe sukkel Kylie om oor dit te kom, maar aan die einde het sy al die stuikelblokke oorgekom. Hierdie is n ware tranetrekker en ek moedig almal aan om hierdie beeldskone verhaal te lees
Amazingggg boek dis my gunsteling so ver ek loveeee dit!! Vreeslik oulik vir Tieners!! En dis n lekker dik boek en op n baie goeie prys wat ek gekoop het!! Dis defnitief die regte boek as jy vir jou dogter wat n tieners is wil koop!!