Vanuit die songebleikte Verre Noorde agter die Soutpansberg, die land van kremetarte en min water, klink die stem van Piet Mavhetha wat met patos en humor die storie vertel van sy lewe en dié van sy mense en sy gemeente op Folovhodwe. Só lig is sy aanslag dat die leser eers gaandeweg begin raaksien die storie vertel van oer-Afrika waar die waarde van 'n vrou en dié van 'n bok soms op dieselfde vlak lê, en waar daar nie helde is nie omdat die heroïese in oorlewing lê. So outentiek is hierdie stem dat die leser kwalik kan glo dat daar 'n skeppende en herskeppende verteller, anders as Piet Mavhetha, aan die woord is.
Wat 'n verrassing. Aanvanklik het ek dié boekie gekoop weens die mooi titel, dit herinner my aan aande om 'n vuur -- plaasmense vertel mekaar stories en deel wyshede.
Daai afgesaagde beeld omlys Ina le Roux se boek, wat uit meer as 20 hoofstukke van verskeie lengtes bestaan. Die uiters oorspronklike tema van die boek en sy verhaaltrant is te danke aan die Venda mense en hul eiesoortige stories, oftewel die 'ngano'. Die verteller is 'n pastoor, in Venda gebore en getoë, en sy stories spruit uit die vreemde wêreld van Folovhodwe. Die Afrikaanse letterkunde (so raai ek) het amper niks geweet van dié wêreld voor le Roux se boek nie, aangesien die naaste twee dorpe aan die droë anderkant van die Soutpansberg Messina en Louis Trichardt is: nie juis metropole nie. En tog dwing dié boek my om oor wit Afrikaners te besin: wie ons is, waar ons hoort.
Die verteller, Piet Mavheta, beskryf 'n lewe van kindsbeen af tot en met die einde van sy middeljare. Karakters duik op en verlaat die toneel soos enige versameling van kontreistories: hulle kry dikwels ongelooflik swaar en ongelukkig is meeste stories eerder as tragedies te beskrywe as soetsappige oorwinningsstories. 'n Ander kenmerk wat my beval het, is dat elke staaltjie nie 'n morele inslag het nie wat so algemeen by dié tipe storie is dat dit dié leser vinnig kan verveel. Daar is wél natuurlik 'n tipe probleemstelling aanwesig by elke hoofstuk wat die leser uitdaag tot besinning op die lot van die mens, veral diegene wat in plekke soos die droë kant van die Soutpansberg 'n lewe moet vestig ten spyte van die groeiende bevolking en nimmereindigende droogtes wat die bevolking daar konstant teister.
Ek was werklik deur hierdie kortverhaalbundel geboei. Die skryfstyl is eenvoudig (ten opsigte van woordeskat) maar elegant uitgedruk.