Met haar leeruitrusting en motorfiets is Anika nie wat Rynard as ’n “dokter” sou bestempel nie. Hy het onlangs die Krynauw Kliniek-administrateurspos by sy broer oorgeneem en was nie dié nuwe dokter te wagte nie. Daar’s dadelik ’n vonk tussen hulle, en hulle het noodgedwonge heelwat kontak met mekaar.
Dina Botha is in Pretoria gebore en woon in Centurion. Sy het vier kinders waarvan twee nog skoolgaande is. Op skool het sy Ena Murray, Elmar Steyn en ander bekende romanskrywers se boeke verslind en gehoop om eendag self ’n skrywer te word. Ná skool het sy egter haar droom om joernalis te word gebêre en ’n IT-kwalifikasie behaal. Twintig jaar later het haar passie vir skryf weer opgevlam en sy het die keer die moed gehad om haar droom met mag en mening na te jaag. Sy het in 2014 haar werk bedank en is nou voltyds ’n skrywer
Ek het al male sonder tal ’n boek klaar gelees en steeds nie die kloutjie by die oor kon kry oor die titel nie. Te dikwels kry mens byna die gevoel dat daar naarstigtelik gewroeg is om ’n gepaste titel te vind, en ongelukkig dikwels sonder noemenswaardige sukses. Wat hoegenaamd nie die geval is met Dina Botha se nuutste Romanza, Soen my, asseblief, nie.
Die titel maak hier ’n integrale deel uit van die storielyn. Dr Anika Stadler kom as nuwe ginekoloog en verloskundige aan boord by die Krynauw, en kruis reeds swaarde met dr Rynard Krynauw nog voordat sy haar motorfiets mooi staan gemaak het. Sy maak dit spoedig duidelik dat indien sy gesoen wil word, sy daarvoor sal vra. Dit sorg vir ’n lekker deurlopende kat-en-muisspeletjie namate hulle algaande meer by mekaar betrokke raak.
Dit was verfrissend dat die noodwendige bagasie wat sy uit haar verlede saamdra, nie die byna standaard verbrokkelde verhouding is nie. Beide karakters groei sterk deur die loop van die verhaal en besweer hulle spoke en vooropgesette idees.
Soos mens van Dina Botha te wagte is, lees die storie baie lekker en is daar net wenners aan die einde, insluitende die randkarakters wat ook hulle probleme bylê.