Dié boek is so bietjie buite die vaarwaters waarin ek gewoonlik my leesbootjie se seile sal span (of roeispane sal doop, afhangend van hoeveel energie ek het en watter kant toe die wind waai), maar hier gaan ons.
Net eers die volgende wat dalk kan help om die resensie in konteks te plaas: as leser is ek baie meer storiegedrewe as prosagedrewe. Gee my eerder 'n lekker storie met heelwat konflik en verwikkelinge wat eenvoudig en reguit geskryf is as 'n stadige storie wat pynlik mooi met breedvoerige beskrywings geskryf is.
Spookwerwe is laasgenoemde: 'n eenvoudige verhaal van eenvoudige mense wat met ryke prosa en streekstaal vertel word. Dit is 'n grepie uit 'n familie se lewe oor 'n tydperk van so 5 of wat jare.
Die boek skop af met 'n tragedie in die lewe van Mieta en Hennerik Kaliempie wat iewers in die Bo-Karoo op 'n plaas bly. Uiteindelik moet hulle taai besluite neem wanneer die plaaslike skooltjie sy deure sluit. Hulle seun, Milano, is 'n vooruitstrewende leerling wat lief is vir lees. Op aandrang van sy onderwyseres onderneem Mieta en Hennerik om die kind elders te laat aangaan met skool in plaas daarvan dat hy net nog 'n plaaswerker word.
Mieta is klouerig aan die kind (gesiene die vroeë tragedie) en waar hy gaan moet sy gaan. Die Kaliempies gaan hulle geliefde Karoo moet agterlaat om êrens anders te gaan nesskop.
Dit is grotendeels die raamwerk waarin die leser deel word van hierdie mense se dag tot dag handel en wandel. Hierdie is nie vinnige leesstof nie. Die eerste helfte van die boek veral was vir my soos om op iemand se werf te sit en te kyk hoe hulle hul dagtakies verrig. Daar is uiteindelik meer konflik en verwikkelinge in die tweede helfte.
Dis duidelik dat die skrywer die mense ken oor wie sy skryf. Jy hoor hulle praat en haar woorde skilder die omgewing in jou gedagtes. Die detail is verstommend, dalk tot die punt van oordaad. Ek is nie seker of 'n roman nodig het om bv. die fynere kuns van wingerdvleg of skaapslag aan die leser weer te gee, of nodig het om in detail te vertel presies hoe Mieta haar huis en gordyne en komberse skoonmaak nie. Kan sulke dele nie maar vervang word met iets soos "hy verduidelik vir haar mooi hoe om die wingerd te vleg" of "hulle slag die skape behendig af" nie? Persoonlik hou ek daarvan dat die fokus op die storie bly, maar ander lesers sal hulle moontlik verkneukel in die ekstra detail.
Hierdie is 'n mooi boek, 'n diep menslike boek. Vir my was dit net bietjie té stadig (veral die eerste helfte) en soos genoem het te veel detail die storie se spoed gebreek. Die trant het my nogal herinner aan Koukonap van Johann Botha - ook 'n boek wat vir my mooi was, maar nie 'n kompulsiewe lees nie (ek het Koukonap kort-kort eenkant gesit en twee ander boeke deurgelees terwyl ek daarmee besig was).
Dat Lize Albertyn-du Toit weet hoe om haar woorde agter mekaar te sit, asook hoe om karakters te laat leef, is egter nie te betwyfel nie.