By gebrek aan ’n beter beskrywing, wil ek myself ’n ongeduldige leser noem wat betref die fisiese belewenis van ’n boek. Ek hou van papierboeke en ek hou daarvan om vordering te sien. Dus was die klein lettertipe en die groot bladsye van Toekomsmens nogal ’n uitdaging. Vordering was beslis nie opvallend nie; veral nie aan die begin nie. Voeg daarby ’n genre waarmee ek glad nie bekend is nie, en daar is bepaalde risiko.
Die feit dat ek ’n groot Isa Konrad-aanhanger is, tesame met die trant van die boek wat van meets af aan intens geboei het, het egter gemaak dat neersit nie ’n opsie was nie. Baie gou het die wedervaringe van Kel de Jong, programmeerder vir die Nasionale Intelligensieburo van die Nuwe Republiek gesorg dat ek elke moontlike minuut gelees het.
Die leser maak kennis met die Nuwe Orde, die Veiligheidsmag, die Waaksaamheidkomitee en die Raad van twaalf, soos dit daar uitsien op 20 April 2057, die dag waarop dinge onherroeplik verander vir Kel, en ook vir sy suster, Adri, 'n verledemens in sy sorg. Die skrywer verweef baie vernuftig die apokaliptiese 2057 met die huidige en sover terug as die 1940's en die Tweede Wêreldoorlog. Dit kos gedoen te word! Mens lees dikwels van liefde oor kleur- en kultuurgrense heen, maar liefde oor tydsgrense is ’n redelik unieke konsep en waarskynlik nog nie in Afrikaans gedoen nie.
Die kontras tussen die verskrikking van spioenasie, oorlog, ontbering en bomaanvalle aan die een hand en die bittersoet verhouding wat ontstaan tussen Kel en Agnes aan die ander kant, ruk ’n mens aan die hart. Hoewel ek van kunsmatige intelligensie, prototipes en derglike elemente van wetenskapfiksie nie veel begryp nie, is daar genoeg "menslikheid" na my smaak. Ek het ook ’n korrelasie getrek tussen sekere aspekte van eindtydvoorspellings soos in Openbaring geskets, hoewel ek geensins beweer dat dit so beplan was deur die skrywer nie. Hierdie onvergeetlike verhaal verdien ’n dawerende vyf sterre.