Rufus en Xandr het pas graad 10 klaargemaak en hulle ken mekaar van kleintyd af. Hulle het al talle eerstes saam beleef – om te sê hulle is beste vriende is ʼn understatement. Rufus, eintlik Ruth maar Xandr noem haar Rufus, se pa het egter besluit dat die gesin die land moet verlaat. Die vriende moet afskeid van mekaar neem en beplan om hul laaste eerste – die belangrikste eerste – saam te hê. Dis net hulle en ʼn ou Midge wat iewers in die Vrystaat in ʼn grot vir ʼn paar dae gaan bly. Sal hulle die plan kan deurvoer? Wat van die swart-en-oranje wolk wat op die horison verskyn?
What happens if you miss the apocalypse?
Rufus and Xandr just finished grade 10 and have known each other since childhood. They’ve experienced dozens of firsts together and saying they’re best friends is an understatement. But then Rufus’s (technically Ruth, but Xandr calls her Rufus) dad decides they all need to leave the country. The two friends have to say goodbye and decide to have their last first – the most important first – together. It’s only them and an old Midge somewhere in a cave in the Free State for a few days. Will they be able to see their plan through? And what’s the deal with the black and orange cloud on the horizon?
Hannes Barnard is die jongste van drie broers en die seun van ’n dominee. Tussen 2002 en 2012 is hy woonagtig in Engeland, waar hy meestal as projekbestuurder vir ’n konstruksiemaatskappy werk. Ná dit het hy vir twee jaar in die Seychelle gewerk. Hy en sy vrou keer terug na Suid-Afrika in 2017, waar hy nou voltyds fokus op sy skryfwerk. Halley se komeet is sy debuutroman.
Ek was regtig verbaas oor hierdie boek. Toe ek dit begin lees, was ek onseker of ek dit sou geniet, aangesien ek lanklaas ‘n Afrikaanse boek vir jong volwassenes gelees het.
Ek het dadelik n konneksie met die karakters, Rufus en Xandr, gevoel. Ek was mal daaroor om van beide perspektiewe te lees en ek het gedink dat dit ‘n slim keuse was om albei in te sluit.
Die boek het baie belangrike onderwerpe aangeraak soos seks en toestemming. Die boek ondersoek ook geslagsgebaseerde geweld deur die voorval tussen Rufus en Jeremy by die garage. Ek hou daarvan dat die skrywer dit in die verhaal ingesluit het, aangesien dit so ‘n algemene gebeurtenis in Suid-Afrika is.
Die woorde het goed op die bladsy gevloei en ek was so verlore in die verhaal dat ek heeltemal vergeet het waar ek was.
Ek het wel gevoel dat die einde ‘n bietjie haastig was en ek was verward omdat albei die karakters aan die einde so sorgeloos gevoel het, al was die lot van hul geliefdes onseker.
Ek het hierdie boek binne ‘n dag klaar gelees en dit so baie geniet. Ek sal hierdie boek beslis aanbeveel vir almal wat weer Afrikaans wil begin lees. Baie dankie aan Lapa Uitgewers vir die boek. Ek het dit baie geniet om die boek te lees en hierdie boekresensie te skryf.
Xandr (Alexandr) en Rufus (Ruth) ken mekaar van altyd af. Hulle is meer as beste vriende; hulle is die keersye wat saam ‘n munt vorm. En nou, aan die vooraand van matriek en die lewe daarbuite, besluit Rufus se pa dat hy en sy gesin emigreer, Australië toe. Met slegs 33 120 minute oor vir Rufus in Suid-Afrika, ‘leen’ hulle Xandr se pa se stokou Midge en ry na ‘n grot naby Clarens, om vir ‘n laaste keer ‘n avontuur te kan deel. Maar dan kom ‘Die Wolk’ en niks is ooit weer dieselfde nie.
Ek het ‘n groot voorliefde vir ‘ongewone’ fiksie; apokaliptiese tipe verhale interesseer my in die besonder. ‘Wolk’ val gedeeltelik in daardie kategorie en was op daardie vlak vir my boeiende leesstof. Maar...... die begrip en empatie waarmee die onafwendbare afskeid tussen Xandr en Rufus beskryf word, was vir my die hoogtepunt van hulle verhaal.
Dis meer as ‘n avontuurverhaal vir jongmense; dis die oeroue legende van afskeid; van oor begin; van vrees en onsekerheid oor die toekoms, maar ook van vriendskap, oorlewing en die aanpasbaarheid van die menslike natuur. Nader aan die einde het ek ‘n cliché-agtige slot begin vrees (dit sou die hele boek vir my bederf het) maar dit het nie gebeur nie en die laaste bladsye het vir my net soveel genot verskaf soos die voorafgaande verhaal self.
Lesers wat ‘Halley se komeet’ geniet het, moet ‘Wolk’ beslis nie misloop nie. 4 sterre #uitdieperdsebek.
Hierdie boek was ongelooflik lekker om te lees. Dit het ‘n vinnige pas en ek kon dit net nie neersit nie. Ek het dit so geniet om die boek vanuit twee perspektiewe te lees; ons hoofkarakters Xandr en Rufus, wat vir oulaas op ‘n epiese avontuur gaan … voor alles uitmekaar val. Wat my regtig lief gemaak het vir hierdie storie is die eerlikheid van die karakters se gevoelens vir mekaar, hoe hulle op mekaar staatmaak en hoe hulle verhouding ontwikkel. Nog iets wat my baie van die boek laat hou het is dat alles so bekend is: die plekke, die kos, die tipies Suid-Afrikaanse sêgoed en gewoontes wat ons almal deel. Dit voel soos die huis. Ek kon myself met alles vereenselwig en ek was mal daaroor. Klein goedjies, soos ‘n braai en Dettol om die hond te dokter. Dit was ‘n heerlike ervaring om op so ‘n bekende manier met die karakters en die omgewing te konnekteer. Kortliks: Wolk is ‘n fantastiese boek en ons het so gou as moontlik ‘n opvolg nodig.
Wolk - Hannes Barnard #boekemakranka #wenboek #eboek LAPA Uitgewers
Hannes Barnard het iets reggekry wat min skrywers al ooit kon doen - hy het my 4:30 in die oggend laat opstaan sodat ek kon klaar lees wat ek die vorige aand mee aan die slaap geraak het en myself oor wakker gedroom het!
Wolk is beslis nie net "nog 'n YA boek" nie, inteendeel ek is jaloers dat so uitsonderlike boek nie vir volwasse fiksie bedoel was nie. Hannes Barnard se skryfstyl trek jou so vinnig in die boek in jy vergeet jy is al 'n ou grootmens met meer verantwoordelikhede as om voorbereid te wees vir die volgende Wiskunde vraestel wat om die draai is!
Ek het Xandr en Rufus se karakters vreeslik geniet, selfs die res van die karakters in die boek word so mooi ingekleur jy kan nie anders as om te voel jy ken hulle persoonlik nie. Geen pretensie, oop en eerlik.
Vriendskap was vir my die kern van hierdie verhaal met 'n goeie stoot avontuur, tikkie romanse en bitter werklikheid. Die spanning was meesterlik deurweef tot so mate dat ek myself gevang erg bekommerd raak het oor hierdie twee se kos voorraad en uiteindelik hulle lot!
Dit is die eerste boek wat ek van hierdie skrywer lees wat ek onlangs eers op een van Boekemakranka se virtuele facebook Boekgesprekke raakgeloop het en gaan beslis nie die laaste wees nie. Ek was een van die twee bevoorregte e-boek wenners op hul blad en hulle het veroorsaak dat ek sopas 'n gunsteling skrywer ontdek het! Baie dankie Boekemakranka!
Waarskuwing! Die boek gaan by jou spook tot jy hom klaar gelees het en dan gaan jy kwaad wees omdat hy klaar is want daar is nog soveel wat mens wil weet en soveel wat met saam met hulle wil ontdek! Dit voel of ek Xandr en Rufus in die steek laat deur die boek toe te maak!
Hannes Barnard moet nooit ophou skryf nie asseblief - ek moet nou daadwerklik Haylee se komeet gaan koop!
Toe vanjaar se Koop-’n-Afrikaanse-boekdag aanbreek, het die titel en voorblad van Hannes Barnard se tweede boek, tesame met kommentare wat begin opgaan het, my genoegsaam geinteresseer dat ek my begrote geldjie daarop spandeer het. Wat ’n puik besluit! Ek gaan geensins voorgee dat ek danig in voeling is met tieners en jong volwassenes nie, maar ek het wel heelwat boeke in daardie genre gelees om te weet dat Wolk tel onder die bestes.
Die karakters, Xandr en Rufus, klink vir my soos die tieners wat ek hoop om daar buite te vind. "Ek en Xandr kan oor alles en oor niks praat. Ons praat aanhoudend, altyd. Maar in dié motor in die nanag, net voor die nuwe dag sy bene rek, is ons stil. Beide vasgevang in die vrae wat ons nie kan beantwoord nie, die vrees wat ons nie wil verwoord nie." (bl.44) Soos hulle avontuur gevorder het, het hulle vrese verander, hulle emosies en hulle planne ook. Beurtelings vertel uit die oogpunt van Xandr en Rufus, vorder die storielyn flink en bou die spanningslyn deeglik op, sonder enige grusame detail, buiten nou die afstootlike antagonis. Volpunte aan die skrywer wat nie toegelaat het dat die "grillerige outoppie" die storie kaap nie. Die vreemde bedreiging en die wisselwerking tussen die hoofkarakters bly einduit die spil waarom die storie draai.
Die skrywer bied geen verklarings nie, geen uitsluitsel oor wat gebeur het nie. Aan die einde van 208 boeiende bladsye, laat hy dit in totaal oor aan die verbeelding van die leser. Laat jou ook wonder oor wat gaan word van Xandr en Rufus. En glo my, die storie bly jou by …
In WOLK, deur Hannes Barnard leer ken die leser vir Ruth, of liewer Rufus, en Xandr. Hulle is letterlik al van geboorte af maats. Nou is hulle 17, en Ruth se paranoïese pa het besluit sy gesin moet land-uit. Ruth, die logiese, planmatige een van die twee, beplan 'n laaste, onvergeetlike avontuur vir hulle twee saam. Sy werk al die details haarfyn uit - al wat Xandr moet doen, is om alles te onthou wat sy vir hom gegee het om te doen. Hulle slaag daarin om die beginfase van hul plan suksesvol uit te voer, maar kon op geen manier weet hoe dit sou eindig nie.
Die twee hoofkarakters kan enige 17-jarige kind wees - op soek na opwinding en avontuur met 'n kop vol drome en 'n lyf vol hormone. Hulle hegte vriendskap dreig egter om Rufus se planne in die wiele te ry...maar Xandr red (soos gewoonlik) die situasie met sy lawwe humorsin. Hulle planne word deur omstandighede buite hul beheer in die wiele gery, maar hulle verhouding is die sement wat alles bymekaar hou.
Hierdie is een van daardie boeke wat jy in een sitting wil deurlees, omdat jy eenvoudig MOET weet wat volgende gaan gebeur! Dis 'n wilde, skitterende, opwindende, ongelooflike jeugverhaal. Koop hom, maak nie saak watter ouderdom jy is nie - jy sal dit geniet!