Hans van Kraaienburg, verlosser van die inwoners van Huis Madeliefie (2017 se Hans steek die Rubicon oor), is óp van al hul klagtes. Noudat hul drakoniese matrone iets van die verlede is, is daar steeds etlike klein probleempies wat Hans as beheerraadslid moet oplos - en dít met gans te min geld in die kietie. Wanneer sy vriend Vasie hom dus nooi vir 'n vakansietjie op Hermanus, as huisgaste van dié se neef Herklaas, is Hans maar te gretig om sy safaripakke te pak. Op Hermanus gekom, vind die twee dat Herklaas in die sop is: sy blyplek staan net mooi op die plek wat die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, geoogmerk het vir sy enorme nuwe hotel - maar Herklaas wil nié verkoop nie. Wanneer Grond en sy kriminele handlangers hardhandig raak, tree Hans tot die stryd toe - Herklaas moet 'n stel horings kry, en vir Grond trompop loop!
Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en behaal die grade BA (HOD) en BA (Kommunikasiekunde) aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n BA (Hons.) in Kommunikasiekunde aan Unisa.
Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad in die sewentigs, waarna hy in 1982 mede-stigter en uitgewer van Bloemnuus (die eerste gratis weekkoerant in die Vrystaat) sou word en later die redakteur van Die Ekonoom (’n landwye saketydskrif). Hy was ook verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo voordat hy in 1987 Kaap toe verhuis en hom by Sanlam aansluit. In sy twee dekades by Sanlam is hy onder meer senior bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrif Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.
In 2008 word sy komedie Die Begrafnis (onder die skuilnaam van Phil Janse) by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (beste dramaturg), en word opgevoer by al die groot Afrikaanse kunstefeeste. Die Begrafnis verskyn ook in boekvorm by Genugtig! Uitgewers. In 2009 verskyn ’n selfpublikasie van hom, Die Doempies van Tafelberg, vir kleuters.
Sy debuutroman, Slagyster, was een van die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse debuutfiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het. Slagyster is ook een van die drie finaliste vir die Prys vir Spanningslektuur van die ATKV-Woordveertjies.
Hy skilder ook die afgelope 26 jaar, het meegedoen aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika, en sy werke is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.
Hy is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke.
#HansGeeHerklaasHorings - Rudie van Rensburg #Queillerie (#NBUitgewers)
Hans (alias Biesiepol) van ‘Hans steek die Rubicon oor’ is terug. Hy en Vasie vertrek na Hermanus vir ‘n welverdiende vakansie. Herklaas, ‘n neef van Vasie, is hulle gasheer. Maar Herklaas het probleme. ‘n Gewetenlose skurk, Grond Graafwater, wil sy woonstelgebou koop. En Herklaas wil nie verkoop nie. Hoe kan ‘n bejaarde man en sy vrou (wat Handelshuis-advertensies uit die vorige eeu verbatim kan aanhaal - en dit inderdaad ook doen) opstaan teen ‘n boelie soos Grond ? Daar is net een manier: Hans moet vir Herklaas horings gee.
‘n Paar bekende inwoners van Huis Madeliefie uit ‘Hans steek die Rubicon oor’ maak weer hulle verskyning en ek was baie bly om my ou gunstelinge, Kleinboet en Breker, òòk weer raak te lees.
Hierdie boek verskil van sy voorganger in die sin dat die verhaal nie net uit Hans se oogpunt vertel word nie; alternatiewe hoofstukke word uit Grond se oogpunt vertel. En juis dit het my oortuig dat die skrywer nie vir Hans nodig het om goeie komedie te skryf nie; die hoofstukke uit Grond se oogpunt staan nie ‘n enkele tree terug vir Hans s’n wat leesgenot en skaterlagte betref nie. Die woord ‘vrugtetor’ sal my na dese waarskynlik altyd laat grinnik !
Natuurlik is die meeste van die situasies vergesog en redelik onwaarskynlik, maar dis komedie; nie ‘n ernstige, diep verhaal wat moet oortuig nie. Dis ‘n heerlike lag-uit-die-maag boek wat, langs sy voorganger, ‘n ereplek op my rak sal kry en waarvoor ek met ‘n glimlag 4 sterre toeken.
Hans het gedurende inperking (saam met Tobie Cronjé wat hom lewe gegee het) in 'n nasionale skat ontwikkel en hierdie opvolgboek staan nie 'n tree terug vir die eerste een nie.
Blurb: Hans van Kraaienburg, verlosser van die inwoners van Huis Madeliefie (2017 se Hans steek die Rubicon oor), is óp van al hul klagtes. Noudat hul drakoniese matrone iets van die verlede is, is daar steeds etlike klein probleempies wat Hans as beheerraadslid moet oplos - en dít met gans te min geld in die kietie. Wanneer sy vriend Vasie hom dus nooi vir 'n vakansietjie op Hermanus, as huisgaste van dié se neef Herklaas, is Hans maar te gretig om sy safaripakke te pak.
Op Hermanus gekom, vind die twee dat Herklaas in die sop is: sy blyplek staan net mooi op die plek wat die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, geoogmerk het vir sy enorme nuwe hotel - maar Herklaas wil nié verkoop nie. Wanneer Grond en sy kriminele handlangers hardhandig raak, tree Hans tot die stryd toe - Herklaas moet 'n stel horings kry, en vir Grond trompop loop!
Dis Grond Graaffwater met sy goue sweetpakke en Ferraris, en sy ge-butlerde vrou, Bernadette, met haar Cardashian-leefwyse wat hierdie keer die kans staan om oë oormekaar te draai en op bloedneuse te moet afkyk wanneer hulle met die bejaarde vernuf van Hans van Kraaienburg en sy versameling kleurryke vriende te doen kry. Ouderdom laat hom nie boelie in hulle midde nie, en dis gou duidelik waar selfs die gesegdes en spreekwoorde nuwe betekenisse kry.
Baba maak toe vir Boelie bang in hierdie komiese uitbeelding van Hans se avonture in sy nuwe vriendekring en tuiste.
'n Ligte verspotte, vermaaklike storie wat verbyvlieg op die wieke van baie lag en skater. 'n Verbeeldingsvlug van formaat. Dis die tweede boek in die reeks sover. 'n Mens kry die gevoel dat die skrywer oneindige pret gehad het in die skrywe van hierdie komiese klug, waarin die draak gesteek word met oppervlakkige pretensieuse karikature wat deur ouderdom tot verantwoording geroep word. 'n Botsing tussen twee verskillende kulture, maar wat dieselfde tegnieke inspan om suksesvol te wees. Daar tree twee wenners uit die stryd. Die leser is een.
Hans steek die Rubicon oor (Januarie 1, 2017) Hans gee Herklaas horings ( Augustus 21, 2020); Hans bars die bioborrel (September 26, 2021) Hans hou sy lyf Sherlock (Junie 26, 2022)
Nadat die drakoniese matrone verwilder is van Huis Madeliefie af, kom Hans agter dat die gras anderkant die Rubicon nie noodwendig groener is nie. Inteendeel, hy moet hoor dat hy al net so knorrig raak soos wat matrone was, en dit omdat hy, as beheerraadslid, al die vele klagtes moet aanhoor. Daarom is dit 'n welkome verposing toe hy en Vasie die geleentheid kry om vir Herklaas, Vasie se neef, te gaan kuier in Hermanus.
Daar meet Hans kragte met Grond Graaffwater en sy trawante, wat Herklaas se gebou ten alle koste wil koop vir 'n nuwe ontwikkeling. Hans het sy plan van aksie fyn uitgewerk, en uiteindelik vir die versigtige Herklaas, met militêre tegnieke, bemagtig om sy man te staan teen Grond.
Ek hoef nie veel te sê oor die skryfstyl en die humor van die boek nie. Die uitstekende verkope is bewys daarvan dat lesers, veral nou in uitdagende tye, graag wil lees van bedrog,hoogmoed en pretensie wat ontmasker word, en van die goeies wat seëvier. Rudie van Rensburg het met sukses voortgebou aan die Rubiconverhaal en weer bewys watter veelsydige skrywer hy is.
In hierdie boek ken ons reeds vir Hans, Vasie én hul streke. Ons sien ook die gevolge van Hans se manewales in die eerste boek.
My pliggie-met-'n-ooraktiewe-gewete persoonlikheidstreep dink so elke nou en dan "Ja! Jy wou mos!". Ek voel ook ietwat geirriteerd met Herklaas wat nie wil verkoop en op 'n ander plekkie gaan aftree nie. Alhoewel ek nie Grond Graaffwater of sy vroutjie se grootste aanhangers is nie, kan ek nie help om ten gunste van The Whale Hotel se konstruksie - ter verbetering van die infrastruktuur en ekonomie van die dorp - te wees nie.
Op die ou end kan mens net jou kop skud in ongeloof vir wat Hans alles kan regkry met sy deursettingsvermoë en ervaring. Ek lees beslis die volgende boek in die reeks.
This entire review has been hidden because of spoilers.