Wat is dit wat mense dryf om daardie fyn lyn tussen reg en verkeerd oor te steek, wel wetende dat hulle in die proses oor die krans gaan ry? Die karakters in Dryfveer is geen uitsondering nie. Mpumalanga Wholsale Supplies se stelselspesialis word vermoor en Karl-Jan Schoeman ontbloot bedrog. Beleef die spanning saam met hom, Eileen Wessels wat die rekenaarskelm moet soek en kaptein Marcus Dube wat die kriminele ondersoek na die moord en 'n ontvoering lei. Voeg hierby ʼn sluimerende romanse, 'n listige vrou wat bedreig voel, en die vonke spat.
Rekenaars word gebruik vir bedrog en daar is miljoene rand ter sprake; daar is liefde, moord en natuurlik geïmpliseerde seks. Dit als draai om een persoon wat verontreg voel oor die verlede...
Ek beveel die teks heelhartig aan, maar waarsku tog sensitiewe lesers: daar is nogal 'n gawe gebruik van "vloekwoorde" (ek plaas dit maar in aanhalings, want ek is nou nie juis 'n sku mens as dit kom by lelikpraat nie), en dit mag sommige mense ontstel. Maar, hou tog in gedagte, dis nie die skrywer wat so praat nie, maar die karakters; en in my opinie is dit tog hoe mense vandag oor die algemeen praat. Aan die einde van die dag is dit tog 'n aanbevole lees en die moeite werd.