Pretoria, 2057. Dertig jaar ná Johannesburg in ’n spookstad verander het, word die Nuwe Republiek van Suid-Afrika deur die Toekomsparty en ’n Raad van Twaalf regeer. Kel de Jong werk as ’n programmeerder in die Intelligensieburo. Sy geordende lewe word in chaos gedompel wanneer ’n militêre observasiesatelliet ’n jong kind op die verlate N1 tussen Pretoria en Johannesburg ontdek. Op dieselfde dag word In-Grid, die Intelligensieburo se sentrale kunsmatige intelligensie, in ’n aanval vernietig. In die chaos wat volg, aktiveer Kel In-Grid se prototipe en ontdek dat dit die herinneringe van Agnes Baumer bevat, ’n vroulike spioen in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Met behulp van tydreise ontdek Kel in die verre verlede die waarheid agter die gebeure in sy hede. En die liefde ken nie grense tussen hede en verlede nie, nog minder word dit daardeur aan bande gelê.
In 2057 is Johannesburg ‘n spookstad. Die 2020-pandemie, gevolg deur ‘n resessie, chaos en Cholera, het Suid-Afrika gereduseer tot die sogenaamde ‘Nuwe Republiek’ wat vanuit Pretoria deur die Toekomsparty en ‘n Raad van Twaalf geregeer word. Kel de Jong is ‘n programmeerder in die Intelligensieburo; verantwoordelik vir die skepping, gebruik en instandhouding van die buro se sentrale kunsmatige intelligensie, In-Grid.
Wanneer ‘n militêre observasiesatelliet ‘n jong kind op die verlate N1 ontdek, begin Kel se geordende lewe disintegreer. ‘n Aanval uit ‘n onbekende oord vernietig In-Grid en veroorsaak die dood van sy onmiddellike hoof. In ‘n desperate poging om orde in die daaropvolgende chaos te skep, aktiveer Kel In-Grid se prototipe en ontdek dat dit die herinneringe van ‘n vroulike spioen vir die Britte tydens die Tweede Wêreldoorlog bevat en Kel besef dat die antwoorde vir die toekoms slegs in die verlede te vinde is.
Aanvanklik moes ek nogal konsentreer om ‘n prentjie te vorm van Kel se lewe in 2057, soos wat dikwels die geval is met wetenskapfiksie. Anders as ander apokaliptiese verhale wat dikwels die rede vir die wêreld soos wat ons dit ken se ineenstorting verswyg, het die skrywer hier gekies om wel ‘n kort geskiedenis van die land vanaf 2020 tot 2057 te verskaf - en dis nogal skrikwekkend realisties. Dit het vir my die basis gevorm vir my begrip vir die lewe in 2057.
Wat hierdie roman (in die kategorie van apokaliptiese wetenskapfiksie) na my mening redelik uniek maak, is dat dit inderwaarheid gekombineer word met historiese fiksie. Die bomaanvalle in Berlyn in 1944, veral, word absoluut uitstekend beskryf.
Sedert ek ‘Fall of man in Wilmslow’ (deur David Lagercrantz) gelees het, is ek baie geïnteresseerd in Turing en sy baanbrekerswerk ten opsigte van kodes. Dit was dus vir my ‘n lekker verrassing om hom ook in hierdie roman te ontdek; die skryfster het daarin geslaag om die 1940’s suksesvol met die 2050’s te kombineer; beslis geen geringe taak nie.
‘n Wye verskeidenheid van lesers kan gerus hierdie roman aanskaf: dit is apokalitiese wetenskapfiksie; historiese fiksie, spioenasie en teen-intelligensie; spanning en selfs romanse. Ek het gelees soos ‘n gehipnotiseerde en wil myself verstout deur te sê dat hierdie roman tans geen gelyke in Afrikaans het nie en beslis 5 sterre verdien.
TOEKOMSMENS is een van die verbluffendste en verrassendste boeke wat ek in 'n lang tyd gelees het. Dit het my deurgaans geboei; ten spyte van enkele dinge wat 'n mens laat wonder, is dit 'n prestasie van 'n boek. Dit werp soveel vrae op oor wat dit beteken om 'n mens te wees - lesers en studente van hierdie boek gaan nog lank hieroor moet nadink. Die verhaal berei 'n mens voor om 'n tegnologies gevorderde lewenstyl die hoof te bied.
By gebrek aan ’n beter beskrywing, wil ek myself ’n ongeduldige leser noem wat betref die fisiese belewenis van ’n boek. Ek hou van papierboeke en ek hou daarvan om vordering te sien. Dus was die klein lettertipe en die groot bladsye van Toekomsmens nogal ’n uitdaging. Vordering was beslis nie opvallend nie; veral nie aan die begin nie. Voeg daarby ’n genre waarmee ek glad nie bekend is nie, en daar is bepaalde risiko.
Die feit dat ek ’n groot Isa Konrad-aanhanger is, tesame met die trant van die boek wat van meets af aan intens geboei het, het egter gemaak dat neersit nie ’n opsie was nie. Baie gou het die wedervaringe van Kel de Jong, programmeerder vir die Nasionale Intelligensieburo van die Nuwe Republiek gesorg dat ek elke moontlike minuut gelees het.
Die leser maak kennis met die Nuwe Orde, die Veiligheidsmag, die Waaksaamheidkomitee en die Raad van twaalf, soos dit daar uitsien op 20 April 2057, die dag waarop dinge onherroeplik verander vir Kel, en ook vir sy suster, Adri, 'n verledemens in sy sorg. Die skrywer verweef baie vernuftig die apokaliptiese 2057 met die huidige en sover terug as die 1940's en die Tweede Wêreldoorlog. Dit kos gedoen te word! Mens lees dikwels van liefde oor kleur- en kultuurgrense heen, maar liefde oor tydsgrense is ’n redelik unieke konsep en waarskynlik nog nie in Afrikaans gedoen nie.
Die kontras tussen die verskrikking van spioenasie, oorlog, ontbering en bomaanvalle aan die een hand en die bittersoet verhouding wat ontstaan tussen Kel en Agnes aan die ander kant, ruk ’n mens aan die hart. Hoewel ek van kunsmatige intelligensie, prototipes en derglike elemente van wetenskapfiksie nie veel begryp nie, is daar genoeg "menslikheid" na my smaak. Ek het ook ’n korrelasie getrek tussen sekere aspekte van eindtydvoorspellings soos in Openbaring geskets, hoewel ek geensins beweer dat dit so beplan was deur die skrywer nie. Hierdie onvergeetlike verhaal verdien ’n dawerende vyf sterre.
Toekomsmens het my uitgeboul! Dit was glad nie wat ek verwag het nie, en 'n genre wat in Suid Afrika nog in sy kinderskoene staan. Omdat my seun Rekenaarwetenskappe studeer, het ek gelukkig darem 'n idee gehad van wat sommige van die terme en begrippe in hierdie goed-nagevorsde boek beteken - en gaan ek beslis my seun moet omkoop (want hy lees nie Afrikaans nie) om ook die boek te lees. Hierdie boek is 'n verbysterende sci-fi roman (ek weet nie of roman eintlik die regte term is nie). Isa Konrad slaag daarin om avatars, time-travel, en huidige en potensieel toekomstige krisisse in een ongelooflike boek saam te vat. Hierdie boek is 'n reis waarop geen leser voorbereid kan wees nie! Sy gebruik toepaslike rekenaar-wetenskaplike terminologie en verweef die verlede, hede en toekoms saam in 'n verhaal wat doodeenvoudig net as skitterend beskryf kan word. Kel de Jong, die manlike hoofkarakter, werk as programmeerder in die Intelligensieburo. Hy is van kleins af gebreinspoel om die norm te aanvaar sonder enige vrae en word skielik uit sy klaarblyklike veilige bestaan geruk wanneer die hoof-netwerk gekaap word deur sy In-Grid (let op die skitterende woordspeling) - die buro se sentrale kunsmatige intelligensie. Op dieselfde dag word 'n jong kind op die verlate N1 tussen Pretoria en die spookstad Johannesburg, gevind. Wat hierna volg, kan ek slegs beskryf as 'n geniale sci-fi verhaal. Vir my verdien hierdie boek volpunte! Ek is verstom deur die storielyne wat deurvleg is in hierdie boek - Isa Konrad se verbeelding ken klaarblyklik geen perke nie! Ek hoop van harte dat die boek eendag in baie tale vertaal sal word!
Die voorblad van die boek het my getrek om dit te koop. Aanvanklik het ek gesukkel om in te kom omdat ek nie graag wetenskaps fiksie lees nie. Ek het deurgedruk en kort voor lank kon ek die boek nie neersit nie. Dis ‘n baie besonderse, goed deurdinkte verhaal wat hom in die toekoms, sowel as die verlede afspeel. Ek kan dit sterk aanbeveel. Dis wetenskaps fiksie met ‘n hart🖤
Pas hierdie boek klaar gelees. So dankbaar toe ek omblaai en nie nog 'n hoofstuk gesien het nie. Ons het dit in klas gelees en toe ons klaar was, het ons almal hande geklap. Nog nooit so baie glimlagte op almal se gesigte gesien nie – maar nie uit waardering nie, uit verligting dat dit verby is. Ek dink persoonlik dat dit walglik was om soveel detail van "liefde" in te sluit. Dit het nie die storie verdiep of betekenis gegee nie, maar eerder dit ongemaklik en onnodig eksplisiet gemaak. Dit voel asof die skrywer probeer het om te skok eerder as om 'n werklik deurdagte, boeiende verhaal te vertel. Dit is een ding om 'n distopiese wêreld realisties uit te beeld, maar iets heeltemal anders om dit in 'n rigting te vat wat jou eerder laat wens jy het nooit begin lees nie. Ek sal nie die boek vir enigiemand voorstel nie, inteendeel sal ek pleit dat hulle dit maar eerder nie koop nie. Daar is definitief 'n '1984'-trant aan die boek – die gevoel van beheer, manipulering en 'n wêreld wat onder 'n donker wolk leef – maar ek dink ons moet meer slapende honde laat lê. Nie elke storie hoef so 'n intense, onaangename ervaring te wees om impak te hê nie. Die karakterontwikkeling was ook teleurstellend. Mens voel nooit regtig 'n verbintenis met die karakters nie, en op sekere plekke het hulle eerder soos pionne gevoel as werklike mense. Die verhaallyn self het potensiaal gehad, maar is oorskadu deur elemente wat bloot daar was om skokwaarde te hê. Ek is seker Konrad is 'n talentvolle skrywer met 'n sterk stem, maar hierdie boek doen geen gunste vir haar nie. Dit voel amper asof dit net geskryf is vir kontroversie se onthalwe eerder as om 'n werklik diep en betekenisvolle boodskap oor te dra. Dit laat mens meer vrae as antwoorde, en nie op 'n goeie manier nie.
Wat 'n wonderlike boek. Dit is van die beste wetenskapfiksie wat ek nog gelees het! Niks was voorspelbaar nie en daar word so baie dinge aangespreek. Ek hoop Isa volg dit op met nog 'n boek wat die storie verder vat.
Hierdie boek is die oorsprong van ergernis. Dit is vervelig, uitgestrek en bevat baie onnodige inligting. Die hele Duitsland stuk kon maar net sowel nie in die boek wees nie. Die boek se ‘robotseks’ het my siek gemaak. Ek sal glad nie hierdie boek aanraai nie. Konrad bly in elk geval in Switserland