Elke dan en wan tel ek ’n boek op waaraan ek elke oomblik wil lees, selfs net ’n paragraaf of twee as tyd knap is. Die ongeluk is dat mens dan die risiko loop om detail en kontinuïteit in te boet, wat ek só ervaar het in die geval van Branderjaer, hoofsaaklik omdat daar soveel karakters betrokke is. Namate die karakters meer bekend geword het, kon ek beter slaag om hulle verlede en hede te versoen.
Sommer vroeg het ek besef dat daar groot stukke voorgeskiedenis is, besonderhede wat die skrywer behendig weerhou en net klein-klein brokkies geleidelik deel. Goed gedoen, veral omdat dit ’n debuutwerk is. Ek het gehou van die skryfstyl wat gemaklik lees, nie deurspek van kru taal en grieselrige detail nie.
Die temas wat aangespreek word, is baie relevant. Groepsdruk, broederskap, boeliegedrag, gesinsdinamieka, onverwerkte traumatiese gebeure en die gevolge daarvan, om maar ’n paar van die elemente te noem wat sorg dat die verhaal veel dieper is as net ’n klomp branderplankryers se ervarings met die see. Trouens, dit is eintlik ’n redelik klein aspek van die groter storie.
Branderjaer beïndruk, van die titel en die treffende buiteblad tot by die finale ontknoping van die talle geheime van Stormbaai en Breekwater. Ek voel dit verdien loshande vier sterre.