Die mistigheid is klam en koel en dwarrel in vlae teen haar vel. Sy sak weg daarin. Los daarin op. Die mis rol nog digter teen haar aan, begin haar versmoor. Sy asem die digte klamheid hortend in. Nou is dit ook binne-in haar. Sy stoei vir asem ... Die droomwip moes haar drome verklaar, maar sy weet steeds nie wat hulle inhou nie. Die runesteen moet haar beskerm, maar die eerste aand op die plaas in die Maluti’s is daar ʼn moord. Die antieke manuskrip kan dalk haar toekoms verseker ... as sy oorleef.
Chanette Paul word rond en bont groot. Sy woon nege skole by, studeer aan vyf universiteite en het al in sewe provinsies gebly. Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, is ‘n sprokie wat sy op sestienjarige ouderdom geskryf het en op Siembamba voorgelees is. Die tweede, ‘n kortverhaal, is in haar universiteitsjare in Huisgenoot gepubliseer. Eers twintig jaar later, in 1995, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien het ‘n verskeidenheid verhale en humoristiese artikels in tydskrifte verskyn asook in die omgewing van 50 boeke in verskillende genres.
Jainie se belangstelling in Middelnederlands bied aan haar ‘n kans op onverwagte afwisseling in haar andersins ietwat vervelige akademiese loopbaan toe sy die kans kry om vir ‘n tydperk aan die vertaling van ‘n antieke manuskrip in ‘n weelderige en afgeleë herehuis in die Malutiberge te werk. Sy het egter nie voorsien dat dit haar by ‘n moord sou betrek nie. Ook nie dat sy, vasgekeer saam met ‘n klomp interessante karakters weens die elemente, haar hart en bykans haar lewe sou verloor nie.
Die esoriese speel ‘n belangrike rol in hierdie roman; runestene; droomvangers; shamane; psigiese vermoeëns; oerkennis; pre- en retrokognisie en die kollektiewe onderbewuste gee ‘n interessante en alternatiewe kleur aan ‘n whodunnit wat plek-plek aan ‘n klassieke Agatha Christie herinner.
Jainie se vertaling van die antieke dokument en korrespondensie dra by tot die geheimsinnige Gotiese gevoel en die verlede se relevantheid by die hede het my nogal aan Barbara Erskine se soortgelyke romans herinner.
Vir my was die storie binne ‘n storie binne ‘n storie in ‘n amperse Arabiese nagte-styl, egter die hoogtepunt; legendes en fabels van verskeie kulture en agtergronde (van die San tot Karel die Grote) is vernuftig in die storielyn verweef en dra beslis by tot die leesgenot van hierdie roman.
Dis algemene kennis dat die roman oorspronklik in 1998 (onder die titel ‘Wip van die droomvanger’) verskyn het en dat dit in daardie formaat die naaswenner van die ATKV-Prosaprys in 1999 was en lesers wat dit destyds misgeloop het, het nou weer die kans om dit in sy nuwe baadjie te lees.
Die outeursnota het my laat glimlag: die ontevredenheid van lesers met die 1998-einde het daartoe bygedra dat die 2020-weergawe, te danke aan ‘n epiloog, anders eindig.
Dit was ‘n heerlike lees en verdien ‘n stewige 4 sterre.
Daar is sekere genres wat my maar altyd trek en my grootste trekpleister bly 'n lekker "murder mystery". Gooi 'n gotiese ou huis en ou legendes of mitologie in, en ek is 'n vis aan 'n hoek. Chanette Paul se Droomvanger skuur beslis skouer met groot name soos Mary Stewart, Phyllis Whitney en Daphne du Maurier. Knap gedaan!
Sjoe, hoe lekker om weer een van Chanette Paul se skitterende boeke te kon lees! Ek het Droomvanger terdeë geniet, en omdat ek nooit sy voorganger "Wip van die Droomvanger" gelees het nie vergelyk ek die twee dus ook nie met mekaar nie. Droomvanger is 'n lekkerlees whodunit, deurspek met romanse, 'n bietjie geskiedenis en so 'n effense gotiese gevoel. Die hoofkarakters in Droomvanger is 'n interessante groep mense en die manier waarop hulle deurgaans op gebeurtenisse reageer, hou die leser aan die wonder. Jaini, gefrustreerd in haar omstandighede en werk, kry 'n geleentheid om navorsing vir die Hollander, Geert, te gaan doen op sy plaas. Wat daar gebeur, kon sy in haar wildste drome nooit voorspel het nie. Droomvanger is 'n heerlike afskop vir Desember 2020!
ek het nie so baie van hierdie storie gehou soos wat ek van die skrywer se ander stories gehou het nie. dit het 100% net met smaak te doen, want haar skryfstyl is altyd uit die boonste rakke. ek kan nooit genoeg kry van haar boeke nie.
Indien die titel van Chanette Paul se nuutste vrystelling bekend klink, is jy nie verkeerd nie. In 1998 is dit gepubliseer onder die titel Wip van die droomvanger. In 'n onlangse boekgesprek met Susan Booyens (https://www.youtube.com/watch?v=XcSfh...) maak die skrywer die stelling dat haar skryf- en taalvaardigheid van daardie tyd, haar (en ek haal aan) "met afgryse vervul het" toe sy vanjaar die boek moes herbesoek met die oog op 'n herskryf. Ek het die oorspronklike werk nie gelees nie en kan my dus nie uitlaat oor hoedanig die skrywer nou oordryf nie! Ek kan egter met oortuiging sê dat daar van daardie leemtes nou geen sprake is nadat dit herskryf is nie. Inteendeel, die vernuftige skryfstyl wat van Chanette Paul een van ons mees geliefde spanningsverhaalskrywers maak, boei die leser sommer van meets af aan.
Wanneer Jaini op De Beek aankom met die doel om 'n Middelnederlandse geskrif te vertaal, neem die storie 'n tipiese Agatha Christie-karakter aan. 'n Handvol uiteenlopende karakters, vasgekeer in die mistige Maluti's, 'n moord, mense wat verdwyn… Maar daar is meer diepte aan die verhaal. Jaini se drome blyk verband te hou met voorgeslagte uit die ou geskrifte wat Geert van den Beek aan haar bemaak. En dan is daar nog die runesteen en San tekeninge, fabels en legendes, wat bydra tot die kompleksiteit van die storielyn. Nogtans lees dit gemaklik en boeiend, met ’n snaarstywe spanningslyn. Gelukkig sonder die bloed en derms waaraan ek my effe teëgelees het in die afgelope tyd. Daarom kan ek met gemak 'n stewige vier sterre toeken en die boek aanbeveel as 'n moontlike kersgeskenk vanjaar.
O my vader, maar jy kan ‘n boek skryf Chanette. Ek dink nie ek het al ‘n boek gelees wat my so gebind het nie. Net sodra jy dink jy het al die kinkels uitgewerk, dan gebeur iets wat heeltemal die teendeel bewys. Die mistige weer wat heers op die plaas in die Maluti’s, kan jy sommer aanvoel. Jaini aanvaar ‘n opdrag om Hollandse dokumente te gaan vertaal op Geert van den Beek se plaas. Maar Geert se dogter word vermoor, en so word almal as verdagtes uitgewys. Ek wil so baie vertel maar is so bang ek gee dinge weg. Ek voel soos ‘n kind voor kersfees – wil alles vertel. Gaan lees hierdie boek. As jy dink jy kan hom neersit en aangaan met jou lewe – dink twee keer want dit gaan nie maklik gebeur nie. Chanette Paul, jy is ongelooflik