Baster is die storie van Karel, ’n seun wat met honde kan praat, en Hêppie, ’n liefdevolle brak wat gedwing word om ’n straatvegter te word. Die verhaal vertel die storie van al die honde waarvoor Karel lief is, maar ook die hartverskeurende verhaal van die hondegevegte en geweld wat sy samelewing verskeur.
Hierdie verhaal deur meesterskrywer Jan Vermeulen was naaswenner van LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie 2019.
Jan Vermeulen is in Bethanie in die suide van Namibie gebore. Op veertien word sy eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Hy het die graad BA Admissie met hoofvakke Hebreeus en Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal, en in 1987 'n BTh. en Teologiese Lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1998 voltooi hy 'n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth, en in dieselfde jaar verskyn sy debuutroman, Die laaste dans, by Queillerie. In 2000 verskyn sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie. Dit is met die Sanlamprys (goud), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en 'n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. In 2006 word sy kortverhaal 'In Ma se Stoofᅮ in die kortverhaalbundel Van Spoke Gepraat (Tafelberg) opgeneem. Jan en sy vrou Diana woon in die Oos-Kaap.
Oorspronklike storie! Maar beslis eerder n boek vir jonger lesers. Ek wens eintlik die storie het meer oor die honde gehandel en minder oor ander issues... en dis asof die storie bietjie afgerammel is na die einde toe.
Uitstekend. Die interpersoonlike verhoudinge in die boek tesame met die tema, maak dit 'n boeiende lees. Vermeulen het 'n moeilike tema met groot sensitiwiteit hanteer. Fassinerende karakters en 'n boeiende plot.
Baster vertel enersyds die verhaal van Karel “Hond” Zimmerman, ‘n tienerseun wat met honde kan praat, en andersyds beskryf dit die lewe van Hêppie, of dan Baster, soos Karel hom herdoop het. Dit is egter die tema van hondegevegte waarmee die verhaal open, wat my dadelik ontstel het. Teen hoofstuk vier het die wreedheid teenoor Hêppie my laat halt roep, hoé nuuskierig ek ookal was om te sien hoe Karel en Baster bymekaar gaan uitkom, en al is ek oortuig dat dit ’n uitstekende verhaal gaan wees.Ek sit nooit graag ’n boek neer nie, veral nie een deur ’n skrywer van hierdie kaliber nie, maar ek het duidelik nie die stamina vir hierdie storielyn nie. Ek gaan ter wille van my eie gemoedsrus, hierdie een by my laat verbygaan
Ja! Ja, Baster is my nuutste gunsteling Afrikaanse jeugroman. Dit behels 'n tienerseun in 'n kritiese tyd van sy lewe, 'n konflik wat eg aan ons land en tyd is, en kompleks genoeg is om realisties te wees. Sommige lesers noem dat die hele besigheid beter sou wees sonder die romanse - myns insiens is 'n jeugroman sonder enige kafoefelry totaal en al onrealisties. Goed, ek het gedink die hele kanker storie was 'n bietjie ekstra en onnodig, maar dalk is ek net moeg van kanker-stories.
Terloops, hierdie roman het my binne die eerste paar bladsye in trane gehad - en weer aan die einde. Wees gewaarsku!