Hierdie manuskrip was nie bedoel om gepubliseer te word nie. Dit was aanvanklik ’n bestekopname van die skrywer se betrokkenheid by en blootstelling aan die NG Kerk-familie waarin hy gebore is, grootgeword en uiteindelik as predikant gedien het. Ben du Toit se eerste boek, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, is in 2001 met die gesogte Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies bekroon. Dit het ’n woordeskat gebied vir talle ander mense se reis. Amper twee dekades later neem hy die vraag oor God en die relevansie van godsdiens en geloof verder.
Vir baie mense sal hierdie boek nie ’n gemaklike leeservaring wees nie. Daar sal egter lesers wees wat ’n eie bevrydende ervaring in hul verhouding met die kerk, geloof en met God sal beleef deur die boek te lees. En wat ’n woordeskat sal vind.
Net soos Du Toit se eerste boek baie mense minder alleen met hulle teologiese ongemak en kritiese vrae laat voel het, kan hierdie boek ’n wonderlike verrassende volgende fase van hul lewens inlei, soos dit tans met die skrywer die geval is.
Die afronding van die teks het plaasgevind aan die begin van die wêreldwye Covid-19-pandemie. Hierdie boek toon hoe die vraag na die betrokkenheid van God gevra word, net soos telkens in die verlede tydens ander krisisse.
Net soos wat die Covid-19-pandemie ’n nuwe era inlui, kan hierdie publikasie ’n nuwe denkraamwerk ten opsigte van geloof inlui.
Hier word baie name genoem en na vele stemme geluister. Uiteindelik gaan dit nie oor hulle as individue nie, maar wel, kollektief, oor Die Kerk – ’n bepaalde verteenwoordiging van die verskynsel wat Godsdiens genoem word. Maar inderwaarheid gaan dit nie eers oor hulle nie, maar oor God – terwyl die enigste manier waarop ons iets van God kan weet, deur die woorde en lewens van mense is.
Dr Ben du Toit is ’n voormalige kommunikasie-direkteur van die NG sinode van die Wes- en Suid-Kaap. Hy in 1950 in Malawi gebore. Hy behaal die grade BA en BTh aan die Universiteit Stellenbosch, asook MA (cum laude) en DPhil aan die Universiteit van Port Elizabeth ná buitelandse navorsing by die Graduate Theological Union in San Francisco, VSA. Ben du Toit se vorige boek, God? Geloof in ’n Postmoderne tyd, is in 2002 met die Andrew Murray-prys bekroon en in 2012 heruitgegee.
#GodIsDaarnAnderAntwoord? - Ben du Toit #Wenkbrou (#lapa)
Die skrywer, die seun van sendelinge in, onder andere, die destydse Nyassaland (Malawi) en Rhodesië (Zimbabwe) was vir 38 jaar ‘n gemeenteprediker en senior sinodale amptenaar van die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK). Sy bedieningsjare was, in die besonder, deur 3 passies gekenmerk: die soeke na waarheid in Bybel-interpretasie, die hereniging van die NGK-familie en die erkenning van alle mense se menswaardigheid. Hy is ook die skrywer van ‘God? Geloof in ‘n postmoderne tyd’ wat in 2001 met die Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies bekroon is. ‘n Opgedateerde heruitgawe van dié werk het in 2012 by Griffel verskyn. Interessant genoeg eindig die boek met ‘n komma: die gesprek is nie afgesluit nie.
Die voorblad is ‘n foto van ‘n plaashek en, op die agterblad, verskyn die volgende aanhaling uit Uys Krige se ‘Plaashek’: ‘Die stilte in my’s volkome met niks troebels, niks verward. Ek lig die knip.... ek maak ‘n hek oop in my hart.’ Die subtitel (‘n Bevrydende reis) is direk relevant hierby: die boek is ‘n persoonlike, outobiografiese weergawe van die skrywer se eie soekende reis; dis geensins ‘n poging om andere tot sy standpunte te oortuig nie. Hy verwys spesifiek ook na die begrip ‘objektiewe waarheid’ - ‘n term wat homself in wese weerspreek - en die leser word uitgenooi om sy reis met begrip te volg; in teenstelling met sommige werke wat die leser bykans aggressief probeer oortuig tot soortgelyke denke.
Die skrywer se uiteensetting van sy spirituele lewensverhaal is in maklik verstaanbare hoofstukke uiteengesit. Aan die einde van elke hoofstuk volg ‘n kort samevatting daarvan, puntsgewys. Ek het laasgenoemde besonder nuttig gevind en het opgelet dat een punt telkens herhaal word: ‘Die soeke na kennis, na die waarheid, na begrip vir geloofwaardige inligting, is ‘n interdissiplinêre uitdaging.’ Hierdie stelling word gemotiveer met verwysing na multi-dissiplinêre bronne. Hy verwys na ‘n wye verskeidenheid van plaaslike werke; onder andere: ‘Die groot gedagte’ (Gideon Joubert); ‘Die vreemde God en sy mense’ (Willem de Klerk); ‘Geloof sonder sekerhede’ (Anton van Niekerk); ‘God en die gode van Egipte’ (Willie Esterhuyse) en ‘Perspektiewe op die Bybel’ (Izak Spangenberg). Internasionaal word Karen Armstrong se ‘A history of God’; die historikus, Yuval Noah Harari, se ‘Sapiens: a brief history of humankind’ en die Nederlandse professor in neurobiologie, Dick Swaab, se ‘Ek is my brein’ (in Afrikaans vertaal deur Daniël Hugo) ook aangehaal.
‘n Paragraaf in die voorwoord (op bladsy viii) het my aan die hart gegryp: ‘Om die eerlike waarheid (altyd ‘n interessante toutologie) te sê, sou ek verkies dat sekere mense hierdie manuskrip nooit te lese kry nie...... Ek hoop egter dat ons wedersydse liefde en respek vir mekaar dit wel nie tot ernstige breuke sal laat ontwikkel nie.’
Juis daarin lê die belang van hierdie boek: die skrywer waag om vrae te vra en (gemotiveerde) stellings te maak waaroor daar té dikwels steeds bloot net agteraf gefluister word. Ek gaan waag om 5 sterre toe te ken: dis ‘n boek wat herlees en nadenke verdien.