So byna is kolonel Aella O’Malley die ewigheid in gestuur. Nou sy is terug in Afrika se bos nadat sy in Avignon gaan aansterk het. Skaars is sy en haar Franse geliefde weer op haar tuisgrond of hulle word betrek by ’n ondersoek na kadawers wat in die veld gevind is. En dit word gou deur nog lyke opgevolg. Maar die beeld van ’n ander figuur het haar uit Avignon gevolg, dié van ’n straatkind wat Zoeloe praat en Afrikaans verstaan. Hoe het hy daar gekom, weet sy ma dit en hoe kry Aella die kind terug by die huis? Meer, wie was vir sy lot verantwoordelik? In Afrika se nat veld doem die antwoorde gaandeweg op en dit is afskuwelik.
Waarskuwing: moenie hierdie boek lees as jy nog die voriges moet lees nie. Hierdie een gee omtrent alles oor die intriges in die twee vorige Gode-boeke weg.
Stom Gode begin in die bosse rondom Opathe. Ons volg vir Sombra en Americo, twee oud-soldate wat 'n oorlog voer teen 'n bende renosterstropers. Elders is Aella besig om in Frankryk te herstel saam met haar Fransman toe hulle op 'n straatkind afkom wat beslis nie in Frankryk hoort nie.
Intussen neem Nico Venter waar in O'Malley se plek in Opathe, en dis hy wat opgesaal word met die spoor van dood wat Sombra en Americo agter hulle laat. Nie lank nie of McLachlan van die Valke is ook betrokke toe hy homself op die verkeerde tyd in Opathe bevind.
Stom Gode is uiters bekwaam geskryf en dit is vir my opmerklik hoe hierdie skrywer verbeter het. Die boek lees glad, karakters en hulle handelinge is oortuigend en sy verweef selfs die begin van die Covid-grendelstate wêreldwyd vernuftig in die storie in.
Tog is dit asof die boek hier na die einde toe spoed verloor. Net soos met my onlangse lees van Middernag van Sidney Gilroy het ek 'n lekker eetlepel skop en spanning gemis. Die boek eindig uiteindelik amper té veilig met 'n oënskynlike poging om meeste los punte uit die skrywer se ses boeke tot dusver netjies en slim te knoop.
Die laaste kwart van die boek los my dan met 'n mate van ambivalensie, en ek wonder of hierdie karakter-reekse nie skrywers se vryheid tot 'n mate inperk nie. Dit alles ten spyt is dit steeds nie moeilik om 4 sterre toe te ken vir 'n puik nagevorsde storie wat met vernuf vertel word nie.
Met die lees van ’n boek gebeur dit soms dat ek een van my huismense voorkeer om te luister na woorde wat my in besonder raak, hetsy die taalgebruik of die beelde wat opgetower word. Daarmee saam kom dikwels die oortuiging dat ek dit weer sal wil lees, rustig, sonder haas om by die ontknoping uit te kom. Stom Gode val in hierdie klas.
Een van die treffende tonele is dié van Aella agter die orrel in ’n katedraal. "Lug suig amegtig deur die pype. Die orrel is ’n ou man." (Bl. 91) Ek kan identifiseer met klanke wat jou kan skoon spoel, hoewel my eie ondervinding meer beskeie was, beslis nie met ’n Bach-toccata nie. Musiek word hier treffend gebruik om vordering in Aella se proses van heel word te demonstreer. Wat wel gelol het, was die feit dat ek die woordeboek moes raadpleeg, want amegtig het vreemd op die oor geval.
Stom Gode is, soos die twee voorgangers, geensins ’n mak boek nie. Die taalgebruik is kru, eie aan geharde polisiebeamptes wat gereeld die lelike kant van die lewe sien. ’n Magdom sosiale en kriminele kwessies word oopgeskryf, alles van prostitusie, pedofilie, renosterstroping, moord, korrupsie in die regstelsel. "Die reg het van die binnekant af gevrot," som Wiley dit op. (Bl. 297). Die plasing van die storie aan die vooraand van die inperking, verleen ekstra spanning en afwagting.
Ek het vir ’n groot gedeelte gevoel dat Aella aan die periferie van die verhaal beweeg, en dat daar baie punte is wat uiteindelik bymekaar sal moet kom. Wat dan ook suksesvol gebeur. Dibi Breytenbach het haarself met Stom gode selfs verder gevestig as ’n gerekende krimiskrywer, wat vanuit ’n redelik unieke invalshoek boei.