#witwolf - Stefaans Coetzee & Alita Steenkamp
#tafelberg (#NBUitgewers)
By voorbaat apologie aan almal wat my lesersindrukke volg; hierdie een gaan anders wees - meer persoonlik. Ter verduideliking: ek het nie belanggestel om hierdie boek te koop of te lees toe dit in 2019 gepubliseer was nie; ek was onder die indruk dat dit net nòg ‘n poging is om ‘n tragiese gebeurtenis (die Worcester-bom in Desember 1996) te melk vir sensasie.
Sedertdien het ek Facebookvriende met beide skrywers geword en hulle plasings oor maande fyn dopgehou; miskien tòg hopende dat my aanvanklike skeptisisme verkeerd bewys sou word. Juis dit het my uiteindelik oortuig om die boek wel ‘n kans te gee: iemand wat sò mooi oor perde kan berig (Alita) en iemand wat nederigheid en verdraagsaamheid verpersoonlik (Stefaans), verdien om (deur my) gehoor te word 🙂
Al my vooroordele en agterdog is blitsig uit die weg geruim tydens die lees van hierdie boek. In Jonathan Jansen se woorde: ‘ ‘n Verhaal vol deurslaggewende insigte oor hoe rasbeskouings gevorm word en hoe dodelike opvattings in samelewings met rassespanning omgekeer kan word.’ En Dana Snyman: ‘ ‘n Roerende, eg Suid-Afrikaanse storie wat jou diep raak en met ander oë laat kyk na elke mens in hierdie land wat jou pad kruis.’
Voor die publikasie van hierdie boek was Stefaans vir my ‘n gesig in De Wet Potgieter se ‘Gruesome: The crimes and criminals that shook South Africa’ (Zebra Press, 2015), hoofstuk 8. Dit was dus nogal vir my ‘n aangename verrassing om te sien dat dieselfde De Wet die voorwoord van ‘Wit Wolf’ geskryf het; ‘n bevestiging van hoe niks staties bly nie - mense ook nie.
Die boek het my op verskeie vlakke beïndruk: daar is geen selfbejammering, ontkenning of selfpromosie nie; veel eerder nederigheid, verantwoordelikheid, berou en hoop. Twee dinge het my nogal binnepret verskaf: Stefaans se liefde vir boeke en lees en sy afsku in verrassings, is dinge waarmee ek sterk identifiseer (vat vyf, Stefaans !)
Punte van kritiek: ek het in die laerskool (40+ jaar gelede, so die reëls mag heeltemal verander het) houe met ‘n houtlepel gekry as ek dit gewaag het om ‘was’ en ‘gewees’ in dieselfde sin te gebruik. Dit word vrylik in die boek gedoen en ek het onwillekeurig gekoes wanneer ek dit raakgelees het. Stefaans se lewe vòòr die tronk word vir my ook ietwat afgewater; die feite is volledig daar, maar dis asof die emosie ontbreek. Dit mag dalk doelbewus sò gedoen gewees het, maar vir my het dit ‘n leemte gelaat.
Stefaans se datum van formele vrylating (13 Julie 2015) was vir my nogal van besondere betekenis: 13 Julie was my pa se verjaarsdag; altyd ‘n besondere datum vir my.
Vir almal wat die boek met dieselfde agterdog bejeën waarmee ek dit aanvanklik gedoen het: vat ‘n kans en lees dit ! Jy sal aangenaam verras wees. Vergifnis raak ons almal.
4 sterre van #Uitdieperdsebek