Al wat Dienkie wil hê, is om raakgesien te word deur Eddie, die ou wat sy by die gimnasium ontmoet het. Wat sy nié wil hê nie, is die drama wat volg op ’n ontvoeringspoging. Want een van die skurke wat deel is van die groot hofsaak wat haar prokureur-ouers hanteer, hou juis van sulke bangmaak-tegnieke. Haar ouers besluit daar is net een oplossing: Sy moet na Parys, Frankryk gaan. Daar sal sy by haar vriendin Lea en haar ouers kan bly tot die hofsaak verby is. Maar Dienkie beland weereens – per ongeluk – in die middel van ’n situasie wat vir haar moeilikheid veroorsaak. Gelukkig is die aantreklike Sergio aan haar sy ...
Nerine Ahlers het aan die Hoërskool Menlopark gematrikuleer en aan die Universiteit van Pretoria gestudeer, waar sy in 1985 ’n M.A.-graad verwerf. As gekwalifiseerde taalonderwyseres, hoofsaaklik in Frans, gee sy ook klas in Afrikaans en Duits op hoërskool, onder andere by St. Mary’s DSG en die Hoërskool Menlopark in Pretoria. Sy is getroud met Johann Ahlers en het twee dogters, Joekie en Rianné. Nerine Ahlers en Alet Steenkamp is as skrywerspan die skeppers van die gewilde SSS-reeks, asook die enkeltitel-tienerboeke Liefde is … en Ek+Jy. Selfone, skelms en sjokolade is in 2007 met ’n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon, en in 2011 palm dié gedugte duo nog ’n ATKV-Kinderboektoekenning in met Liefde is …
Dienkie word Parys toe gestuur na 'n ontvoeringspoging om haar ouers uit 'n hofsaak te laat onttrek. Sy moet laaglê en niemand mag weet waar sy is daar nie. Maar hoekom nou? Sy is verlief en wat as Eddie van haar vergeet? Ongelukkig volg gevaar haar waar sy gaan, maar gelukkig is daar ook vriende soos Lea en Sergio om haar gereeld te help en te beskerm. Ek lees nie sommer boeke wat in die eerste persoon oftewel ek-verteller geskryf is nie, maar hierdie storie het my vasgegryp. Van bladsy een af en tot op die laaste bladsy het ek sewentienjarige Dienkie se ervaringe en die warboel emosies saam met haar deurgemaak. Ek was saam met haar bang, onseker, verlief en verlig toe alles uiteindelik ten goede meewerk. Dis 'n heerlike lekkerlees storie en ek sien uit daarna om meer van Nerine Ahlers se werke te lees.