Dit was die meisiekind, Louisa, wat sy lewe red toe hy ná daardie verskriklike deurmekaar nag in die kloof kom skuiling soek. Hier, by die waterval, doop sy hom Noorman, alhoewel hy probeer om sy verlede as skeepskaptein en soldaat tydens die Eerste Wêreldoorlog te vergeet. Ook die twee vroue uit dié donker tyd. Louisa en die mense van die omgewing raak onlosmaaklik deel van sy lewe. Op die buurplaas is die boervrou skaamkwaad oor haar eerste ontmoeting met dié fors rooikopman, al het sy haar oog op die stuk grond waar hy woon. ’n Watertwis ná die depressie en die landswye droogte dryf Noorman se verhouding met sy bure op die spits. Maar wie kon ooit die stortvloed van verandering ná die verkiesing van ’48 vir die mense van die plase om die waterval voorspel? SD Fourie blaas met Noorman lewe in die ryk geskiedenis van die Strandveld.
SD Fourie is ’n boorling van die Strandveld, ’n streek in die Suidwes-Kaap wat strek vanaf die mond van die Kleinrivier tot by die mond van die Breederivier. Sy is ’n toergids en besit saam met haar man die Strandveld-museum op Franskraal. Sy woon by die see; daarom is haar stories vol wind, mis en seesproei. Die Dooies Leef is, nes haar debuutroman, Die Lanternswaaier, oor RSG voorgelees. Die Lanternswaaier het reeds ook in Nederlands verskyn.
Ek het hierdie trilogie van SD Fourie direk na mekaar gelees (alhoewel daar redelike lang tydperke tussen die publikasiedatums verloop het) en deel graag my indrukke oor die geheelbeeld - alhoewel enkele opmerkings net op sekere van die boeke van toepassing is.
Robert MacFarlane, ‘n Skotse seekaptein, strand in die vorige eeu aan die kus van die Suid-Afrikaanse sandveld en sò ontmoet hy vir Sophie. ‘Die lanternswaaier’ is grootliks hulle verhaal, maar ook dié van Kerneels, Jean, Jakobus en Siena. Aanvanklik het ek gedink dis bloot ‘n historiese liefdesverhaal, maar dit was op die ou end vir my werklik epies. Die taal en beskrywings het ‘n stewige 4 sterre verdien.
‘Die dooies leef’ (boek 2) het in alle opsigte my asem weggeslaan. Dis min skrywers wat vertellings uit verskeie karakters se oogpunte in verskillende tydperke (van die 1890’s tot 2011) en in verskillende lande suksesvol kan oordra - en hierdie boek slaag in alle opsigte daarin. Beslis my gunsteling in die trilogie.
‘Noorman’ is Robert se verhaal tydens die ‘verlore jare’ en was, myne insiens, nodig om die saga volledig te kon afsluit. Soos ‘Dooies’ dek dit ook verskeie dekades (1920 - 2018) en word die gebeure ook in verskeie stemme aangebied, maar ongelukkig nie so suksesvol as in sy voorganger nie. In ‘Dooies’ het elke verteller met ‘n eie, unieke stem gepraat, maar, met die uitsondering van (jong) Louisa, praat almal min of meer dieselfde. Dit het bietjie gepla. Twee foute het ook gekrap. Vroeg in die boek verbied Jac vir Louisa om hom te bespreek, maar enkele bladsye later sê hy vir haar sy kan vir Maria sê sy kan self kom kyk hoe dit by hom lyk. Dis nie versoenbaar met sy houding oor privaatheid nie. ‘n Ander probleem was dat Pieter (op bladsy 206) Petrus is en dat Dapsie eenvoudig verdwyn asof hy nooit ‘n karakter was nie.
Diesnieteenstaande kry Noorman ook 4 sterre by my. Ek het op ‘n stadium ‘n groot knop in my keel gehad en wou gereeld vir Maria met ‘n pot oor die kop slaan; ek was regtig betrokke by die karakters.
Doen jouself ‘n guns en begin by die begin. Dis ‘n epiese saga wat wel alleenstaande gelees kan word, maar as trilogie werklik tot sy volle reg kom.
Ek het heerlik gelees aan SD Fourie se nuutste Strandveldboek. Soos die vorige twee is dit vol kosbare inligting oor die lewe in daardie omgewing (Napier, Gansbaai) vroeg in die vorige eeu. Die boek sluit ook aan by die vorige twee, maar gaan verder en volg 'n paar karakters tot in die moderne tyd. (Hierdie deel voel vir my 'n bietjie aangelas, maar dis noodsaaklik om die eintlike punt van die boek te maak.) Daar is baie fasette aan die boek (boerdery, liefde, seks, gesinne, die lot van plaaswerkers, WO II, die Jode en ook Italiaanse krygsgevangenes, waterkwessies, naywer, skuld, verwyt, oorlog) , maar basies gaan dit eintlik oor rassisme en die vernietigende invloed wat Apartheid op (onder andere) mense van gemengde bloed se lewens gehad het. Die karakters is oor die algemeen baie goed of baie sleg en dit het my gepla. Die belangrikste vroulike karakter Louisa is egter heel gebalanseerd uitgebeeld. Haar kinderlike onskuld aan die begin van die boek bring ook 'n paar ligter oomblikke in 'n andersins baie ernstige verhaal.
Die boek is beslis die moeite werd om te lees. Daar is beslis heelwat beskrywings met historiese waarde. Met tye was dit n bietjie langdraadig met baie beskrywings maar dit was nie te steurend nie. Soms het dit gevoel of veral die blanke kant oordryf word, tog daarteenoor het dit goeie drama veroorsaak tussen die karakters. Beslis n goeie boek.