Ek kyk nie Binnelanders nie en die popgroep ADAM het grootliks by my verby gegaan. Met die uitsondering natuurlik van die groot treffer, Ek sal oorlog vir jou maak! Dus is ek seker nie die aangewese persoon om ’n indruk te waag oor Reynardt Hugo se storie nie. Of dalk juis … Ek het immers geen vooropgestel idees oor die persoon agter dokter Tertius Jonker nie.
Wat my opgeval het, is die eerlikheid waarmee Reynardt Hugo sy lewe neergepen het. Hoe, in retrospek, hy die onderskeie rolspelers in sy verhaal in perspektief sien. Die aftakelende gevolg van drankmisbruik is veral baie hartseer. Ook die feit dat dit binne gesinsverband ’n gevaarlike voorbeeld stel aan beïnvloedbare kinders.
As ek lees van drank, dagga, pornografie, onsedelikheid en derglike dwalings, is dit moeilik om te begryp hoe ’n persoon in so ’n afwaartse spiraal vasgevang kan word. Voeg daarby ’n ernstige, maar behandelbare diagnose, en die volle omvang van die uitdagings wat die skrywer moes oorkom, tref jou tussen die oë.
Die epiloog is ‘n kragtige getuienis van die verskil wat die Here gemaak het in sy lewe. Hoe hy, met die genade van die Here verander het in ’n soldaat vir Christus. Hy deel ’n paar praktiese lewenslesse wat sin maak, selfs as jy nie uit ’n gebroke plek kom nie. Hy deel ook graag waarskuwings en riglyne met kinders en jongmense. “Nou is my beurt om terug te ploeg in die wêreld en die mense rondom my.” (Bl. 186)
Hoewel Soldaat nie ligte leesstof is nie en ongemaklike sake hanteer, lees dit nie moeilik nie. Dit is hoopvol, maar tog realisties. Die foto’s is baie spesiaal en help die leser om met die karakters te identifiseer. Hierdie splinternuwe boek is nou op rakke en aanlyn beskikbaar. Uitgegee deur Lux Verbi.