“Liefde, welke soort ookal, kom nooit alleen nie.”’n Versamel erotiese verhale oor die liefde, wellus, genot, soete verleiding, passie, honger en vlamvat. Deur skrywers soos Maya Fowler, Joan Hambidge, Zirk van den Berg, Fanie Viljoen, Riana Scheepers, Jan Vermeulen, Irna van Zyl, Hans Pienaar, Marion Erskine, Leon van Nierop en Kerneels Breytenbach.
Ek het nêrens 'n aktiewe bio nie, buiten die een op die CV wat ek vir die staat moet gee as ek vir hulle wil werk, daarom sê ek liewer hier wat daar van my te wete is:
• Ek is ‘n tante, met alles wat dié term inhou – ‘n seer knie, ‘n geknakte rug, ‘n onverdraagsaamheid teenoor enigiets of -iemand wat my sielevrede versteur, ‘n immer groterwordende Weltschmertz en ‘n groeiende besef van my eie verganklikheid. • My lewe is bitter vervelig. Ek werk 351 dae van die jaar. Die oorblywende 14 bestee ek aan die aktiewe afhandeling van my kluitklaplys. Want punt 1 hier bo. • Ek is ‘n taalpraktisyn om den brode en ‘n skrywer om den sinne. Wat beteken ek redigeer en vertaal tekste om aan die lewe te bly en skryf stories om op my trollie te bly. Reis is die wortel wat die 351 dae die moeite werd maak. Want punt 1 hier bo. • My liefdes is my kind en my honde. • My rolmodelle is my ouers en grootouers. • My helde is Bach en Langenhoven. En enige mens wat ten spyte van menslike swakhede en tekortkominge hierdie lewe na die beste van hulle vermoë oorleef. • Musiek hou my geanker. My vriende hou my arms in die lug. • Ek het sterk menings oor politiek, godsdiens, die Kerk, menseregte en professionele tsotsi’s wat hulle mag gebruik om mense wat op hulle vertrou te bedonner, maar ek voer nie gesprekke daaroor op sosiale media nie. Ek moet jou eers ken en weet dat jy weet hoe ‘n debat werk voor ek daaroor met jou gaan praat. • Ek drink Earl Grey-tee met suurlemoen (op gewone dae), sauvignon blanc (op gewone spesiale dae) en Bollinger (op spesiale spesiale dae). Enige kos met stysel en/of suiker is die poort na die hemel. Cilantro is ‘n onkruid uit die donkerste dieptes van die hel. • Ek skryf en lees romance novels omdat ek ‘n behoefte het aan omstandighede – al is dit dan nou fiktief – waar mense kry wat hulle toekom. Want punt 1 hier bo. • Ek vloek. Vlot en gereeld, maar (hopelik) gepas vir die geleentheid. Nee, ek gee nie om as dit jou affronteer nie en nee, ek gaan nie verander nie. (My ma het in haar lewe gesê ek moet sê sy het my nie so grootgemaak nie, daarom sê ek dit nou hier ter wille van die vrede in die hiernamaals.) • Ek glo dat ons te veel op ons verskille fokus en te min op dit wat ons deel. Die grootste ding wat ons deel, is dat ons almal op ‘n kol so verwoes was dat ons terugkyk en wonder hoe dit gebeur het dat ons nog hier is. Die oomblik wanneer ‘n mens dit besef, kweek jy die enigste eienskap waarmee hierdie wêreld kan genees – deernis. • Daar is net een ding in hierdie lewe wat vir my heilig is: my persoonlike ruimte. Daarin bewaar ek my vrede, my vreugde, my vryheid en my heil. Ek beskerm dit verbete.
Daarmee volstaan ek. Enige ander inligting wat “daar buite” oor my rondsweef, vertrou jy op jou eie risiko.
#Lyfskap - Sophia Kapp & Leonie van Rensburg (samestellers) #lapa
Die samestelling van enige bundel het my nog altyd gefassineer: dis tog nie moontlik om elke tipe leser tevrede te stel nie ? Kies soortgelyke bydraes en ‘n sekere klas leser gaan dit verorber, maar ‘n ander klas leser sal dieselfde bundel beter aanwend as ‘n papiergewig. Daarteenoor: kies uiteenlopende bydraes en die uitkoms sal ongetwyfeld wees dat daar waarskynlik nie ‘n enkele leser sal wees wat alle bydraes ewe veel waardeer nie.
Hierdie bundel val in die laasgenoemde kategorie. Die gemeenskaplike tema is erotika; en selfs oor die presiese definisie dáárvan sal lesers verskil. Sommige bydraes was vir my meer romanties as eroties; amper ‘n liefdes(kort)verhaal met ‘n bietjie stoom. Een was regtig ‘n lag-uit-jou-maag-lees (‘Die goue akker(s)’ van Marion Erskine); een se ironie sal my lank bybly (‘Lizette Etzebeth se bed’ van Zirk van den Berg); een se beskrywende taal was vir my uitstaande (‘Die bibliofiel’ van Karin Hougaard) een se einde het my hardop laat grinnik (‘Huisbesoek’ van Kerneels Breytenbach) en een se deernis was vir my iets besonders (‘Die grootste afrodisiak’ van Deborah Steinmair).
Dis vir my onmoontlik om ‘n gunsteling te kies; ‘Iets om te hou’ van Frederik de Jager en ‘Die niggie’ van Jean-Pietre de Kock staan langs mekaar as my twee hoogtepunte en albei verdien 5 sterre by my.
Weens die uiteenlopendheid van die bydraes is dit ‘n uitdaging om ‘n stertoekenning vir die bundel as geheel te gee en is dit ewe moeilik om ‘n lesersprofiel te voorspel. Net ‘n waarskuwing: sommige bydraes mag sensitiewe lesers ontstel. Dis ‘n bundel wat so proe-proe gelees wil word.
Die verhale is so wyd, dis eintlik onmoontlik om 'n ster toe te ken. Daar was 5-sterverhale waarvan Hades my gunsteling was, 'n hele klomp 4-sterverhale wat onmoontlik is om 'n gunsteling uit te kies en een 1-ster, wat myns insiens nie naastenby aan enige definisie van erotika voldoen nie en afbreuk doen aan die bundel vanweë die blote banaliteit daarvan.
Die bundel moet herlees word om die subtiliteit van meeste van die verhale te waardeer. 'n Lieflike bundel.
#Lyfskap - Sophia Kapp & Leonie van Rensburg (samestellers) #lapa ’n Versamel erotiese verhale oor die liefde, wellus, genot, soete verleiding, passie, honger en vlamvat. Was opwindend en lekker om van die verhale te lees. Ek stem saam met ander resensies dat van die verhale 3 sterre kry en ander 5 sterre.