Charles Smith het ‘n lekker lewe in London met sy maatjies en hul groot huis. Dis egter 1939 en die Tweede Wêreldoorlog het so pas begin. Vir sy veiligheid, word Charles na die platteland gestuur na ‘n veraf verwante tante van sy pa, aunty Grace. Skotland se platteland is baie anders as London, maar gou begin die dorp en sy karakters, asook aunty Grace, diep in in sy hart inkruip. Die oorlog is egter lank en aunty Grace is oud. Om vir Charles ‘n toekoms te verseker, reël aunty Grace dat haar vervreemde seun hom sal inneem, al die pad na ‘n plaas in verre, vreemde Afrika.
Oswald von Stein was ‘n trotse majoor in die oorlog. Na die nederlaag van Stalingrad, word hy as krygsgevangene gestuur op ‘n dodelike mars deur Rusland, met Siberië as die einddoel. As Oswald gedink het die oorlog was rof, het hierdie mars sy idee van verskriklik gou laat verander. Soveel sterftes, koue en honger was voorheen ondenkbaar. Na jare se trauma, word Oswald teruggestuur na sy tuisland. Sy huis word besit deur ‘n ander familie, geen werk is beskikbaar vir iemand sonder ‘n kwalifikasie nie. Uit desperaatheid, kontak hy sy stief familie in Afrika, wat hom dadelik nooi om te kom.
My indruk: Toe ek hierdie boek klaar gelees het, het ek geweet ek gaan hom kies vir boekklub die jaar. Wat ‘n interessante blik op die oorlog uit twee heeltemal verskillende oogpunte. En soos tipies van Irma Joubert, kom die uiteenlopende karakters by mekaar uit in die suidelike punt van Afrika. Dit was lekker om ander karakters van vorige boekklub boeke ook raak te lees! Ons het dit baie geniet en vir ons byeenkoms aangetrek soos van die boek se karakters.