Laverne Rieckert stem in om die biljoenêr sakeman Alain Picault in 'n lokval te lei om haar oorlede man, Mike, se moordenaar te help vastrek. Maar daar het iets tussen haar en Alain Picault gebeur, 'n vuur het begin flikker.
Laverne sukkel nog om met haar man se dood vrede te maak en om kop bo water te hou wanneer 'n geleentheid hom voordoen om die moordenaar vas te trek. Sy moet net nog een keer 'n rol in die Diens vertolk. Haar merk, Alain, is egter baie meer as wat sy verwag en wanneer sy hom bedrieg om Rodolfo aan te keer, voel sy hoe iets in haar binneste teenskop. Maar Alain sal haar weer net so vinnig vergeet, so glo sy. Teen alle verwagtinge in spoor hy haar op en dwing haar om 'n tydperk op sy privaat eiland deur te bring as straf, selfs al is dit 'n droomvakansie in die paradys. Hy het haar egter as Gabrielle leer ken en Laverne is nie so seker hy ken die verskil nie. Sy kan hom ook nie presies peil nie. Wat is sy ware gevoelens jeens haar? Boonop daag Alain se vriendin, Domini, op en maak dit duidelik dat hy aan haar behoort. Eilandvuur is 'n lekkerlees, aksievolle ontspanningsverhaal wat jou boei van begin tot einde en laat droom van wit strande en wuiwende palmbome. Dis absolute leesgenot.
Laverne Rieckert vertolk die rol van die verleidelike Gabrielle. Hierdie laaste taak vir die geheime diens kan help om haar man se moordenaar vas te trek. Sy bedrieg vir Alain Picault om haar doel te bereik en verdwyn. Julle moet die boek lees om te weet wat verder gaan gebeur...