Hierdie skrywer weet hoe om ʼn storie te vertel en hoe om die leser in te katrol. Haar kinderjare in Pretoria-Wes word lewendig en humoristies verhaal. Haar pa het lewenslank boekminderwaardig gevoel omdat hy nie kon gaan studeer nie. Sy pa het sy grond verloor en hy moes vroeg die skool verlaat om te gaan werk. Hy onderskei hom in die spoorweë, maar die drankduiwel ry hom (en die gesin). Geen kind van hom hoef te gaan leer nie, glo hy.
Die verteller self spring duidelik en onweerstaanbaar uit die bladsy regop – iemand wat, in haar eie woorde al soos ʼn haas verskrik is deur haar pa maar wat haar eenvoudig nie laat onderkry nie. Sy sou gaan leer, buig of bars. En sy het nie opgehou voordat sy ʼn doktorsgraad verwerf het nie.
Elizabeth Catharina Redelinghuys is as die 5de van 6 kinders gebore op 19 September 1955. Haar pa was ‘n spoorwegamptenaar wat sy toevlug tot alkohol geneem het wanneer frustrasie en gevoelens van minderwaardigheid hom oorweldig het. Haar ma was ‘n kunstige tuisteskepper met hande wat vir niks verkeerd gestaan het nie.
Die skrywer vertel met nostalgie en humor van haar grootwordjare; van die hoender wat haar getjipte tand opgevreet het toe sy in die hoenderhok geval het; tot haar verleentheid oor hulle voertuie, ‘n wit Commer wat soos ‘n roomyskar gelyk het en ‘n groen Zephyr wat gelyk het soos iets wat in gesnyde gras gerol het en haar lewenslange sagte plek vir Tri-angs, die driewiele wat vir haar en haar suster soveel vreugde gebring het.
Dis ‘n verhaal van swaarkry, diskriminasie teen vrouwees in die destydse era en grootword as een van twee ongewensde laatlammers. Maar dis ook ‘n verhaal van deursettingsvermoë; familiegeskiedenis en uiteindelike sukses. Die skrywer se agtergrond as fotograaf, kultuurhistorikus en woordliefhebber gee aan haar die vermoë om die verlede deur middel van woordprentjies ‘n nuwe lewe te gee.
Daar kan weliswaar gevra word wie sy is en hoekom haar outobiografie leeswaardig is en my antwoord sal eenvoudig wees: want sy het ‘n storie om te vertel. En sy doen dit meesterlik. Aanbeveel vir liefhebbers van die genre en ook vir diegene wat al oor die volgende vraag gewonder het: ‘Skryf mens om goed dood te maak, of om dit lewend te hou ?’ (p. 103)
Die lewensverhaal van 'n 'gewone' vrou is nie minder werd as dié van ikone nie. Elke mens het 'n storie. Die groot verskil hier is dat Betsie geen doodgewone vrou is nie, en haar storie inderdaad een om vertel te word. Elize, Elizabeth, Betsie. Goed, beter, Betsie. Die boek is veel meer as 'n memoir van ʼn kind uit die vyftigs/sestigs, wat gely het onder ʼn bullebak of outokratiese pa, soos wat ons in Ben Viljoen en Pieter P Fourie se boeke gelees het. As kultuurhistorikus is dit geen verrassing dat die boek ook 'n stuk kultuurgeskiedenis is nie. Sy het die tydsgees perfek saamgevat, in die keurigste taal. Sy praat van mure afkalk, ertappels en palmstaanders.
Sy is op Waterval Boven gebore waar haar pa stasiemeester op Waterval Onder was. Daarna trek die gesin met die trop kinders na verskeie plekke, as gevolg van haar pa se drankprobleem, waar hy die Witperd ry. Hy ly sy lewe lank aan ʼn minder¬waar¬dig¬heids-kompleks, wat sy haarself belowe sy gaan oorkom. Hierdie is egter nie die tipiese verhaal van die bullebak pa, lydsame ma en mishandelde kinders nie. Betsie se ma is ʼn sterk vrou – overskrokke soos ʼn leeuwyfie, kwesbaar soos ʼn steenbokkie – en syself ʼn bekkige kind. Ten spyte van ʼn aaklige insident, lig hy nooit sy hande vir een van die dogters nie.
Haar eerste sertifikaat verwerf sy by ʼn kunswedstryd, en dit kom in ʼn waspapierpyp. Sy belowe haarself dat sy nog baie papiere in pype gaan kry. “Baie pype maak ʼn pypehek wat jou bo-oor ʼn donker gat laat ry.” Die pype en pypehek is deurgaans simbolies van haar lewe, haar vrese, haar beperkings. En haar belofte aan haarself dat sy nog eendag oor die pypehek gaan ry. Dit begin as klein dogtertjie op haar eerste “traaik”, waar die motorhek met die pype die grens van haar verbode terrein was.
As jonggetroude vrou verwerf sy haar een graad na die ander, totdat sy haar rooi toga kan omhang. Daarna presteer sy op verskillende gebiede. Sy put ook inspirasie uit Jonathan Livingston Seagull en vlieg uiteindelik haar eie microlight vliegtuigie.
Engele soos dié op haar ma se kiekieblik, speel deurgaans ʼn rol.
Aan die einde van elke hoofstuk is ’n stuk vanuit haar perspektief nou, wat die verhaal verder verlig. Die laaste stuk is oor haar man wat kort voordat de boek verskyn, oorlede is.
Elize skryf goed, dit behoort tot baie mense te spreek. Haar taalgebruik is keurig, beeldryk en sy skryf met insig en humor.
Alhoewel sy die hoogste sport op verskeie gebiede bereik het, is dit tog ook nie jou gewone rags to riches verhaal nie, maar een waar Jonathan Livingston Seagull sy vlerke sprei en hoog vlieg en sy triomfantlik oor haar pypehek jaag.