#marilyn - Chanette Paul
#Lapa
Die vywervroue, Lira, Mirre en Corali, se verhale was reeds in die Vywerbaai-trilogie vertel. In al drie se lewens was daar egter Marilyn, vriendin en surrogaat ma vir hulle almal, maar met haar eie ongeneesde seer uit die verlede. Daarom beskou sy haarself ook nie as ‘n vywervrou nie, maar eerder as ‘n kaivrou, wat, in teenstelling met eersgenoemde, boos is en mans en kinders vernietig. Ten spyte daarvan is sy gelukkiger as ooit voorheen in haar lewe - totdat haar verlede - in die persoon van Paul Avenant - skielik weer lewensgroot voor haar staan.
Die leser word dan, deur middel van terugflitse, aan die jong Maria Marais bekendgestel. Maria wat later, na moeilike grootwordjare, trauma, teleurstellings en verraad Marilyn Murray sou word. In die hede speel Marilyn se verhaal vierkantig midde in die Covid-pandemie af: 14 Februarie tot 5 Desember 2020. Die karakters se vrese en onsekerheid hiertydens word oortuigend en realisties aan die leser oorgedra.
Sentraal in die roman is egter Maria se metamorfose na Marilyn - en almal wat ‘n rol in die proses gespeel het. Ek was aanvanklik bekommerd dat Marilyn se geheimsinnige, amper magiese, bekoring, verlore sou gaan indien haar storie vertel sou word, maar dit het glad nie gebeur nie. Met Marilyn het die skrywer ‘n onvergeetlike karakter geskep: nie die tradisionele romantiese heldin nie, maar ‘n volwasse vrou wat waarlik gelewe het.
Ek dra graag Ronnie Belcher se gedig ‘Blou Nyl’ aan Marilyn en Paul op:
‘Ons liefde lank gelede was die wind,
wolke wat breek, die tuimel van bergstrome
oor hoë kranse en deur dale,
hartstog, verlange, drome.
Maar nou het waar die vlaktes is
die onrus van die jeug verdwyn
en kronkel daar ‘n diep rivier
magtig en stil deur die woestyn.’
5 sterre van #uitdieperdsebek