In Hart van klip, die derde in die Steely Susters-reeks, vind ons vir Christi in die Park Hotel by ’n glansgeleentheid van die gewilde Parkers. Hoe lekker bekend het dit gevoel! Gou kom die leser agter dat Christi gevoelige kwessies wegsteek agter haar suksesvolle model-cum-countrysanger fasade. Sy voel haarself altyd effens minderwaardig wat betref haar rol in die Steely Susters, en boonop steek sy haar traumatiese ervaring met haar eks weg. Dit word dan ook die dryfveer agter haar latere optrede wanneer sy vir die wêreld 'n verhouding met Ben Barret voorhou.
Mens sou hierdie storie kon noem rock ontmoet country, want daar is van meets af aan ’n onbehoorlike aantrekkingskrag tussen Christi en Richard Barret van The Barricades. Dit gee ’n nuwe dimensie aan die bekende term "uitgestelde begeerte" en ek was beïndruk met die geduld van die skrywer om dit as sulks te hou en nie die kar voor die perde in te span nie. Dit het die emosionele spanningslyn laat slaag en die ontknoping ekstra impak gegee.
Daar is reeds ’n saadjie geplant vir die volgende aflewering in die reeks, waarna ons kan uitsien in September 2021.