Vin is die verhaal van kunstenaar-kurator Vin Verster se geleidelike greepverloor op haar skeppende en skikkende omgaan met kuns, haar verhouding met haar argeoloog-man, en haar vermoë om in SA sielerus te voel. Deur twee dekades van oorsese kunsresidensies, voortslepende familiedrama en die benouende obsessie van 'n vyandiggesinde in die kunswêreld sien die leser met die oë van dié vindingryke kuns-vlugteling.
In die proloog is Vin (Lavinia), ‘n kunstenaar-kurator, soek. Haar argeoloog-man, Ryk, is van haar vervreemd, maar duidelik nog aan haar verbind. Ook hy weet nie waarheen sy verdwyn het nie: ‘Om soos ‘n groot speld in die niet te verdwyn, is tog nie werklik moontlik nie. Of is dit ?’ (p. 21)
Vin het haar ouers op ‘n tragiese wyse verloor. ‘Ouerloos op sewentien maak mens sterk. Soos winter sonder ‘n kombers.’ (p. 86) Hulle dood spook op twee vlakke die res van haar lewe by haar: die moordenaars is nooit opgespoor nie en ‘n oorspronklike skildery van Hendrick Avercamp het tydens hulle afsterwe verdwyn. Avercamp word Vin se fantoom (phantom); haar reisgids; iemand met wie sy gesprekke voer, terwyl die verlies van haar ouers haar geen rus gun nie: ‘Verdriet is smerig en onnet, dit vloei nie aaneen nie, dit hakkel en spoeg.’ (p. 86)
Sy begin bykans obsessief oorsese kunsresidensies aangryp, vanaf 2001 tot 2014: Florence, San Fransisco, Lectoure, New York, Trento, Sylt, Doha, Bamako en Bordeaux. Telkens hoop en voel sy: ‘Hier sal sy haar stem vind. In Suid-Afrika is sy ‘n fluister….’ (p.93) maar telkens moet sy terugkeer na ‘n land en persoonlike omstandighede waarin sy toenemend ontuis voel. Sy distansieër haarself al verder van die werklikheid en verander van iemand wat tydens dialoog beskryf kon word as ‘Versigtig word die gedagtes uitgepak….. asof dit glas is wat kan breek’ (p. 94) na ‘….. (hy) kry nie kans om te reageer nie, haar tong omsingel hom.’ (p.177)
Wanneer Ryk later rou oor sy pa se dood (‘Hy asem leed uit na die verlies.’ p.234), is deel van sy pyn die wete dat Vin al verder van hom wegglip: ‘Hartseer en verlies skuif mens se psige.’ (p. 239). Die leser is, saam met Ryk, deurgaans en toenemend bewus van die groeiende chaos en onvergenoegdheid in Vin, maar, tot by die slottoneel, bly die leser aan die raai oor Vin se verdwyning. En dan slaan die uiteindelike ontknoping die leser soos ‘n vuishou tussen die oë. Meesterlik gedoen.
‘n Wonderlike bonus by die roman is die visuele insae in Vin se wêreld wat by die webskakel https://www.lienbotha.co.za/vin-visua... gekry kan word. Terwyl ek daarna gekyk het, is ek onwillekeurig herinner aan Paul Klee se woorde: ‘Art does not reproduce what we see. It makes us see.’
‘Vin’ is ‘n onvergeetlike karakter én roman en verdien 5 sterre van #Uitdieperdsebek
Ek het gehou van die skryfstyl, gemaklik en vlot, al het kru woorde en Engelse woorde in Afrikaanse sinne my soms as lastig opgeval. Die besonderhede oor kuns en kunstenaars is interessant - ek moet die tyd maak om na die aanlyn-uitstalling te gaan kyk. Dit sal my moontlik help om die storie te "kry" - 'n tweede lees sal dit ook hopelik in die hand werk.
As leser kon ek spoorsny op die lewe en ontheemdheid van Vin deur die oë van Lien Botha. Dit laat die leser ook die self konfronteer, met eie ontnugtering van die lewe wat nie altyd uitspeel soos in ons naïewe jongmensdrome nie.
Dit is 'n lieflike boek oor ontnugtering, ontheemdheid en 'n toenemende vervreemding van self, van huwelik, vriend en vaderland.
Werklik iets anders in Afrikaans; verfrissend, uitdagend en boeiend. Vin Verster se verbeeldingsvlugte sal sterk aanklank vind by lesers en veral kunshebbendes behoort hierdie roman na aan die hart te hou. Vir my was dit 'n tweeledige lees- sowel as reiservaring en ek het die visuele skakel https://www.lienbotha.co.za/vin-visua... op my selfoon byderhand gehou en na elke hoofstuk besoek.