Vyf vooraanstaande sakemanne van Pretoria word koelbloedig met hul eie jagwapens vermoor. Kaptein Alek Strauss, lid van die Fiskale se Spesiale Ondersoekeenheid, het nog nooit iets so gewetenloos teëgekom nie. Waar gaan die Woestynroos volgende toeslaan? Die Fiskale se forensiese speurwerk lewer geen leidrade op nie, en met elke grumoord word die moordenaar slinkser. Het die Woestynroos dalk ’n persoonlike vendetta? Strauss is onseker of die FSO opgewasse is om dié duister ondersoek op te los. En wat van sy eie donker drifte? Gaan hy in staat wees om brigadier Jack Mabuza se bevele te gehoorsaam, en nie wéér oor die tou te trap nie? ’n Senutergende krimi-debuut deur Marie Lotz – ’n skrywer wat die bloederige donker onder ’n blink oppervlak blootlê.
3.5 sterre. Roofdier is my eerste Marie Lotz maar sal nie my laaste een wees nie. Ek het veral haar taalgebruik geniet, maar dit was ook lekker om 'n speuder, Kaptein Alek Strauss, te ontmoet wat nie 'n stereotipe is nie.
Ongelukkig het ek op 6% reeds een van die groot kinkels raak geraai en die ander die deel van die ontknoping was net te toevalling vir my smaak. Ten spyte daarvan het ek hierdie debuut in net een dag deurgedraf. So ek kan nie wag om te sien hoe Polsslag vergelyk nie.
Eers word vyf vooraanstaande sakemanne van Pretoria grusaam met hulle eie jagwapens vermoor. Al die lyke het een ding in gemeen: ‘n uitbeelding van die Echeveria elegans-vetplant, algemeen bekend as die woestynroos, is op hulle arms uitgekerf. Kaptein Alek Strauss van die FSO (Fiskale Spesiale Ondersoekeenheid) is onder groot druk van die media en sy bevelvoerders om ‘n deurbraak te maak, maar hy vind spoedig uit dat die moordenaar hom telkens ‘n paar tree vooruit is; dat die ontwykende motief vir die moorde die belangrikste leidraad sal oplewer en dat vertroue aan ‘n uiters dun draadjie hang.
Hierdie debuut spanningsroman voldoen aan al die vereistes van die genre: die tempo is vinnig; die spanning neem deurgaans toe; die leser word ‘n leunstoelspeurder; die hoofondersoeker se karakter word volledig onwikkel en sy optredes oortuigend gemotiveer; die motief vir die moorde is geloofwaardig en die slot knap gedoen. Sensitiewe lesers moet kennis neem dat daar grafiese tonele van geweld is, maar dit vorm ‘n relevante deel van die storielyn en is in die konteks heeltemal geregverdig.
Die roman wyk wel af wat die tradisionele speur- en/of spanningsroman betref wat tegniese detail betref. Elke vuurwapen wat figureer word in detail beskryf; daar word byvoorbeeld nie na n pistool in die algemeen verwys nie; die kaliber en fabrikaat word telkens ook genoem. Dieselfde geld vir die samestelling en jurisdiksie van spesialis-ondersoekeenhede en die uitvoering van Post Mortems. Die navorsing daaragter is indrukwekkend en die skrywer se dank aan haar pa, wat in wetstoepassing werksaam was, teken die volledige prentjie van ‘n lewenslange belangstelling in misdaad. (313)
Alek herinner in ‘n mate aan Rudie van Rensburg se Carl Bester, maar hy is heelwat jonger en nie ‘n tradisionele aksieheld nie; bloot ‘n ondersoeker wat ten spyte van persoonlike uitdagings en ‘n donker verlede sy werk probeer doen. Maar hy is, soos Carl, nie altyd ewe minsaam nie en ek wou hom ‘n paar keer ‘n klap of twee gee. Die tema van ‘n geheimsinnige laksman-moordenaar sluit aan by Feniks van Deon Meyer – wat nog altyd my gunsteling Meyer-roman was.
Slegs een aspek het my gepla: die ontknoping is, soos bo vermeld, knap uitgedink en deeglik gemotiveerd aangebied – behalwe vir een aspek wat vir my eenvoudig te toevallig was om realisties te kon wees. Dis egter bloot ‘n persoonlike voorkeur en ek sal die details weerhou om nie die slot te bederf vir lesers wat dit nog nie gelees het nie. Die laaste hoofstuk is egter weer uitstaande en tref die leser soos ‘n emmer koue water – reg tussen die oë.
‘Roofdier’ is reeds in 2021 gepubliseer as die skrywer se debuutroman en haar tweede, ‘Polsslag’, het pas by dieselfde uitgewer verskyn. Ek is dus die tradisionele agteros, maar is ook nou in die kraal en sal graag wil sien hoe ‘Polsslag’ by ‘Roofdier’ aansluit.
Opwindende nuwe stem in Afrikaanse krimi's. Roofdier was uitstekend. Ek kon die boek nie neersit nie. (In een dag klaar gemaak, partykeer is dit lekker om siek te wees). Roofdier het al die bestanddele vir 'n ware page-turner... bloed, wraak, raaisels en dan is die held boonop aan seks verslaaf. Dit het my bietjie uitgeboul... Ek het 'n voëltjie hoor fluit hier is ook 'n trilogie aan die gebeur - en dis 'n klipharde JA van my kant af. Baie geluk Marie
sjoe, wat 'n wilde reis. daar is so baie dinge wat in hierdie boek gebeur, wat ek glad nie verwag het nie.
ek is bietjie laat om hierdie boeke te begin lees, maar ek is bly ek het nou daarby uitgekom. die skrywer hou jou aandag al die pad, sjoe. die boek is baie goed geskryf.
ek moet net bysê, die storie is erg. definitief nie vir sensitiewe lesers nie. ek is 'n redelike sensitiewe leser, veral as dit by sekere onderwerpe kom.
Ek is baie opgewonde dat ek hierdie boek kon lees. As 'n debuutroman was dit 'n verfrissende lees, ook omdat dit nie net nog 'n "speurder" met 'n alkoholverslawing is nie. Die storielyn is sterk en die skrywer het beslis die resep vir 'n goeie speur-/spanningsverhaal gevolg. Dit was lekker om te raai wie is die skuldige en ook die motief ... en om meer oor Strauss persoonlik te leer ... Ek sien uit daarna om Polsslag te lees!
Vyf vooraanstaande sakemanne in Pretoria word koelbloedig vermoor, elk met hul eie jaggeweer. Kaptein Alek Strauss van die FSO (Fiskale Spesiale Ondersoekeenheid) betree ’n donker spel waarin elke leidraad vasloop in ’n doolhof van geheime, elke getuienis ’n draaipunt, en die moordenaar met elke slag slinkser raak. Die moordenaar is slinks en kunstig, ‘n sadistiese pragtige woestynroos uitgekerf op elke slagoffer.
Die forensiese span kry niks om vas te byt nie. Geen patroon aan die oppervlak nie. Geen motief wat sin maak nie. Vertroue raak ’n luukse en elke minuut sonder ’n deurbraak bring meer bloed. Tussen glinsterende sakelui-lewe en die skadu’s van wraak, ontdek Strauss dat die speelveld groter is as wat hy ooit vermoed het. Strauss se morele waardes, plig en verhoudings word tot die uitterste getoets in die oplossing van al hierdie gruweldade.
My lesersindruk: Van die eerste bladsy af het Roofdier my vasgevang — die skerp spanning, die koelbloedige misdade en daardie ondraaglike gevoel dat die jagter dalk ook gejag word. Ek sal beslis aanhou met hierdie reeks – dis wel nie vir sensitiewe lesers nie!
Goeie storie. Anders. Ek het gehou van die vinnige pas. Skrywer is goed met spanning skep. Ek wonder net oor die einde. Hoop dit word in toekomstige boek uitgeklaar.