Dis nie asof Maria elke dag oor die toekoms droom nie; sy het egter altyd gedink hulle het darem een. Maar nou is die verlede al wat daar is. Hulle voorspel die Nightshifts gaan alles vernietig. Vrydag 21 Julie is dalk die laaste dag. Die dag waarop Luan haar nooi na ’n kuier by sy huis saam met die skool se gewildste kinders. Maar ken sy enige van hulle werklik? Ken sy haarself? Onder die regte omstandighede kan enigiemand gevaarlik wees.
Carel van Rooyen teken ’n onthutsende beeld van hoe ’n groep tieners ’n naderende apokalips hanteer. Vanuit die perspektief van Maria sien die leser hoe hulle die spannende afwagting, die emosionele impak van hulle onderskeie verledes en verskillende soorte verlies probeer verwerk. Die verhaal is geloofwaardig en meesleurend, en dra op interessante en ongewone manier by tot die literatuur oor apokaliptiese gebeure.
#Skeur - Carel van Rooyen #humanenrousseau #NBUitgewers
Wat sal jy doen met jou laaste aand as jy presies weet wanneer en hoe die aarde haarself gaan vernietig ? ‘n Groep jongmense staar hierdie dilemma in die gesig; om 2:00 op 21 Julie gaan ‘n reeks massiewe aardbewings lewe op aarde beëindig. Hulle gaan nooit die geleentheid kry om volwasse te word en drome te verwesenlik nie; hoe spandeer hulle daardie laaste ure ?
In ‘n styl wat herinner aan Golding se ‘Lord of the flies’ skep die skrywer ‘n geleentheid om die ware aard van ‘n paar jong individue te ontgin en te ontbloot, want, in die aangesig van die einde en met die wete dat daar geen nuwe kanse sal wees nie, val alle pretensie weg.
Tegnies sou ek die roman klassifiseer as apokaliptiese fiksie gerig op die jong volwasse-mark, maar, alhoewel die spanningslyn aangaande die naderende ramp deurentyd styf span, is dit nie die ware hart van hierdie besondere roman nie; die trefkrag lê in die ongelooflike beskrywings van die afstroop van voorgee; die geleidelike ontbloting van die feit dat nie een van ons regtig weet waartoe ons in staat is as ons niks meer het om te verloor nie.
Ek het hierdie boek gekoop na aanleiding van Jonathan Amid se resensie (dié man kos my baie geld !) en berou nie ‘n enkele sent daarvan nie. Dis ‘n 5 ster lees vir jong (so van 14 jaar af) én ou(er) volwassenes wat nog ‘n wyle by my sal spook.
Carel van Rooyen se debuutroman, Skeur, het nou eers, ’n paar maande ná publikasie, op my radar verskyn. Hierdie uitsonderlike stuk skryfwerk is gemik op lesers van 14+, maar gewaarborg om ’n baie wye lesersgroep te boei. Ek het met uiterste selfdissipline gisteraand die boek neergesit, net om douvoordag wakker te word om verder te lees.
Apokaliptiese fiksie neem baie toe in gewildheid en bied ’n gulde geleentheid vir ’n skrywer om buite die bekende en bestaande te dink. Skeur is, anders as ’n leser se aanvanklike verwagting, veel meer as ’n distopiese tienerroman, hoewel die voorspelling dat die sogenaamde Nightshifts die einde van die aarde gaan beteken, die uitgangspunt is waarom die storielyn wentel. Dit blyk ’n emosionele kragtoer te wees met dramatiese wisselwerking tussen die verskillende rolspelers, wie se optredes spruit uit diepgewortelde belewenisse op hulle jeugdige ouderdom.
Luan nooi vir Maria na ’n partytjie by sy huis, saam met die gewilde leerlinge met wie sy nog nooit gekuier het nie. Dit gebeur op die laaste aand voordat die aardbewegings kom. Die fatalistiese spanning wat deur die loop van die aand opbou, en die verskillende rolspelers se belewenis daarvan, word effektief verwoord by monde van die eerstepersoonverteller, Maria.
Met kort sinne en bondige paragrawe dra die skrywer die magdom kragtige emosies van die karakters oor, die vrese, twyfel, vertrouensprobleme, verliese, soos dit manifesteer in die paar ure van die gedoemde aand. As leser op die rand van die gebeure, voel jy dat jy na dese die karakters ken, maar Maria word gelaat met chaos. "As ek net geweet het hoe om dit uit te sorteer, maar my gedagtes is te erg opgefrommel om te dissekteer, my verstand se laaie is uit hul kaste geruk en alles wat daarin was lê stukkend op die vloer." (bl. 184)
Ek voel van tyd tot tyd dat die taalgebruik in jeugromans nie heeltemal strook met die karakters nie, dat hulle nie klink, en veral dink, soos tieners nie. Hierdie skrywer het grotendeels daarin geslaag hierdie slaggat te vermy, met een uitsondering wat my opgeval het, wanneer Maria dink oor wat Luan se pa "psigologies" aan hom gedoen het.
Ek wil raai dat hierdie skrywer nog baie stories in sy verbeeldingryke kop het om ons in die toekoms te vermaak of te ontnugter.
Binne 'n dag gelees. Hierdie boek is fast-paced, onvoorspelbaar en 'n moet-lees. Die rubrieke en opemerkings oor Facebook posts ens oor die aardbewings. het my bitter baie laat dink aan die Covid-19 grendeltyd posts, conspiracy theories ens. laat dink. Die beste is dat die skrywer al in 2017 hierdie boek begin skryf het. Universeel relevant.