Wanneer Karen en Ben Strauss se baba gebore word, besef Karen en haar ouers opnuut dat haar broertjie Roux se lang skadu nog altyd oor hulle elkeen val. Sal Karen se kind ’n nuwe begin wees, in haar pa se woorde “’n impakspeler wat net voor beseringstyd op die veld kom en die blerrie WP ’n slag laat wen?” Want onwillekeurig is haar pa, Hendrik, se aftrede tyd vir bestekopname, vir die verskrikking van saamleef met jou doen en late. En wat van Karen, wat glo haar ma het haar nooit vir haar broer se dood vergewe nie? Gaan vrees wéér die motiveerder wees vir hierdie nuwe wedloop van haar lewe, soos met die meedoënlose maatslag van die Radetzky-mars op elke atletiekbyeenkoms van destyds? Sy moet boonop ’n ontwerpkompetisie wen, want daardie podium sal haar en Ben se finansiële redding moet wees.In hierdie roman word die leser geneem op ’n reis na die binnewêreld van die kunssinnige Karen en van haar siniese fisikuspa. Dit is die verwikkeldheid van vergiffenis wat die verhaal rig, en hulle eindelik ook ná die trauma laat kennis maak met die gestroopte skoonheid van Mali in Wes-Afrika.
Carié Maas woon en werk in Johannesburg, in die finansiëledienstebedryf. As vryskutjoernalis publiseer sy rubrieke, reis- en ander leefstylartikels. Sy het twee sakeboeke geskryf, Jannie Mouton: En toe fire hulle my, wat ook in Engels vertaal is en Famous Brands: From Corner Café to JSE Giant. Haar debuutroman, Koljander, het in 2012 die debuutafdeling van NB se Groot Afrikaanse Romanwedstryd gewen en is in 2014 vir die Jan Rabie-Rapportprys benoem.
Hierdie boek is om met 'n mens se verlede vrede te maak en nie 'n lewe van verwyte te leef en jou vas te staar in die" wat as" van die lewe. Mens verstaan dikwels nie die lewe wat die paaie van die lewe met die mens loop en raak verstrik in die Hoekom en hoekom ek van die lewe. As 'n mens nie vrede en geluk in jouself kan vind nie sal jy dit nêrens kry nie al reis jy tot die uithoeke van aarde Mens moet elke dag ten volle leef en jou geleenthede benut en jou monumente laat terwyl jy nog leef terwyl jy 'n verskil kan maak. Soos 'n engelse wysheid sê. "Yesterday is history tomorrow is a mystery The only thing I have is the present. God give you presents everyday Use it to the optimum in the 24 hours before it becomes history"
Die boek laat 'n mens met 'n gevoel van verligring dat Karen uiteindelik kan lag en die vrese en skuldgevoelens kan agterlaat en voortaan die mooi rondom haar kan waardeer.