Lukas en Dimpho is oortuig die robotte se drade het gekruis, of iets. Weereens. Hulle jag die oorblywende mense, speel die een of ander spel, maai almal voor die voet af. Klaarblyklik was die Eerste Bot-oorlog en die Infirmumvirus nie genoeg nie. Maar hulle fokus slegs op intelligente lewe — en die paar mense op die plotte en plase word beslis nie as intelligent gereken nie. Behalwe Lukas. Laat die Spel begin ...
In die (dalk nie so verre) toekoms probeer die 17-jarige Lukas en sy vriend, Dimpho, op die eertydse Vrystaatse platteland oorleef nadat die land onherroeplik verander is deur Bot-oorloë en die Infirmumvirus. Die land word regeer deur ‘n superras, die transterrane, met kuborge, hominoïedes en androïedes as hulle onderdane. Hulle relatief vreedsame bestaan word egter omvergewerp deur die tussenkoms van twee vreemdelinge, die 18-jarige JJ met die pers hare, en die 15-jarige Joleen wat in ‘n bordeel grootgeword het, asook ‘n dringende boodskap om hulp van Lukas se boetie, Daniël.
Hierdie roman vir jong volwassenes, in 2021 die wenner van die Goue Sanlam-prys vir Jeuglektuur (12-18 jaar) is nie net ‘n spannende verhaal om oorlewing in ‘n nagmerrie-landskap in die toekoms nie; dis boonop ‘n verbeeldingsvlug waartydens die leser vrye teuels gegee word met die skepping van gedagte-prentjies, na aanleiding van die unieke nuutskeppings en die beskrywings daarvan. Enkele voorbeelde: die mikroskopiese waterbeertjie wat getransmuteer het tot ‘n tardigrada, ‘n reusagtige ondier met pienk skubbe; ‘n piklogram, die moderner weergawe van ‘n hologram wat teleportasie insluit; en ebrius, die drank van die toekoms.
Soos dit ‘n wenroman betaam, het ‘Spel’ nog ‘n aspek wat ‘n kompliment verdien: Lukas se aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit word uitmuntend, kundig en met empatie uitgebeeld. Sy interne stryd in diè verband was besonder insiggewend. Dis belangrik om te vermeld dat dit op geen stadium die verhaal self oorheers of belemmer nie; dis bloot nog ‘n faktor wat bygedra het tot ‘n waardige wenroman.
Ek het in ‘n bekende tydskrif kritiek gelees aangaande die ouderdomtoepaslikheid van ‘n toneel wat seksbotte (robot-prostitute) insluit, waar aangevoer word dat dit nie gepas is vir 12-jarige (die onderpunt van die spektrum) lesers nie. Ek verskil daarvan. Eerstens is die betrokke toneel (enkelvoud) op geen manier eksplisiet beskryf nie en, tweedens, sou ek dan verwag dat dieselfde kommer aangaande die geweldstonele (meervoud) uitgespreek moes gewees het. Die afwesigheid daarvan dui vir my eerder op ‘n hipersensitiwiteit en oorbeklemtoning van die enkele seksuele toneel. Daar moet in ag geneem word dat die hoofkarakter 17 jaar oud is, nie 12 nie, en dat sy wêreld realisties uitgebeeld moet word. Daar word boonop uitdruklik in die teks vermeld dat geslagsgemeenskap slegs bokant ‘n bepaalde ouderdom toelaatbaar is.
Kortom: hierdie roman is ‘n waardige wenner van goud; dis vars, oorspronklik en innoverend en verdien beslis 5 sterre.
Wat wetenskapfiksie aanbetref, is ek ’n selferkende leek. Tog het die 2021 Sanlam-prys, goud vir jeuglektuur, my aandag genoegsaam geprikkel dat ek besluit het om Annerle Barnard se Spel aan te durf. Die lys van wetenskaplike terminologie, nuutskeppings en afgeleide woorde was dus vir my enersyds baie interessante en nodige inligting, maar aan die ander kant het dit my aanhoudend genoop om terug te blaai daarheen. Dit nou totdat die kort hoofstukke my in ’n leesritme in gehelp het, en ek die storielyn ’n regmatige kans kon gee, sonder om elke vreemde woord na te slaan.
Volgens sy Sotho vriend, Dimpho, het Lukas ’n akkurate persepsie van die realiteit waarin hulle lewe: "Die mensdom se bestaan het heeltemal kunsmatig geword en is in totaliteit van tegnologie afhanklik. Dis ’n plastiek-bestaan, verwyder van enige ambisie of individuele denke." (p. 66) Die skrywer slaag uitstekend daarin om haar lesers by hierdie wêreld van kunsmatige intelligensie te betrek. In kontras daarmee, word Lukas uitgebeeld as ’n karakter wat juis onverskrokke voortgaan om te voorsien en nie terug te deins vir uitdagings nie.
Romeo was vir my een van die interessantste karakters, hoewel selfs die minder aangename of blatant vyandige transterrane so goed ontwikkel is dat hulle herkenbare persoonlikhede vertoon. Die spanningslyn is uiters geslaagd en dit was besonder moeilik om die boek neer te sit en aan die slaap te raak!
EK het nog nie Annerle Barnard se vorige suksesvolle jeugverhale gelees nie, maar Spel was genoeg om my te oortuig dat sy vir haarself ’n nis losgeskryf het in die jeugmark, en nou selfs in die wetenskapsfiksiegenre, wat unieke eise stel met betrekking tot navorsing en goeie verbeelding.
Watter besondere leeservaring! Alhoewel 'n bekroonde jeugboek, kan ek dit aanbeveel vir oud en jonk uitsien na uitstaande wetenskapsfiksie in Afrikaans. Die intrige het my vasgenael gehou en daar is soveel relevante temas wat ontgin word - die boek bly 'n mens by lank nadat jy dit neergesit het.
Spel is veel meer as slegs ‘n jeugroman. Dis ‘n boek met soveel lae en fasette dat enige persoon tussen 14 en 100 daarby aanklank sal vind. Spel handel oor Lukas, `n 17 jarige seun, wat deel is van die klein persentasie van die aardse bevolking wat oorleef het nadat die res van die mensdom deur oorlog en siekte uitgewis is. Die Saevissimi, `n superras transterrane, is aan bewind en hulle is op Lukas se spoor.
Spel se temas fassineer: vryheid en onderdrukking, die stryd tussen goed en kwaad, samewerking vs. oorlog, medemenslikheid vs. kunsmatige intelligensie, sowel as die eko-angs van die moderne mens. Dis ‘n verhaal oor verlies en vindingrykheid. Hierdie boek se groen tema is van kardinale belang vir ons hedendaagse samelewing.
Lukas en Dimpho, asook Lukas en Fidelis se vriendskap dien as metafoor vir dit wat vermag kan word wanneer mense saamwerk en kennis deel. Spel is uitstekend nagevors en geskryf, maar dit lees terselfdertyd lekker. Lukas en Jolene is aangetrokke tot mekaar. Gaan Lukas die moed hê om met Jolene oor sy gevoelens te praat? Die spanningslyn boei en die vele intriges hou die leser nuuskierig.
Hierdie boek is veel meer as ‘n goeie storie en sterk karakters. Die verhaal handel oor die belangrikste spel ooit, ‘n spel om oorlewing en wie die beste skuif kan maak ten einde die spesie se voortbestaan te verseker. Die skrywer slaag daarin om oënskynlik uiteenlopende temas in te span om ’n heerlike storie — met baie stof tot nadenke — te vertel.
Ek het met groot opgewondenheid uitgesien na hierdie jaar se Sanlam-Prys vir jeuglektuur se goue plek wenner, Spel. Behalwe dat hierdie jaarlikse kompetisie sorg dat die room van Suid Afrika se jeugskrywers beloon word vir hulle harde werk, kon ek ook nie wag om die derde jeugroman uit die pen van Annerle Barnard te lees nie. In 2019 is Barnard se tweede roman, Sindikaat ook bekroon met Sanlam se silwer toekenning, dus kan ons nou met Spel tot die gevolgtrekking kom dat sy ʼn “gewoonte misdadiger” is in die gebied van briljante skryfwerk. Selfs met die voorblad se eerste oogopslag, beïndruk Spel reeds en verklap dit sy wetenskapfiksie genre. My dertienjarige stel net voor die drukkers moes die robot by, meer prominent laat uitstaan het en dalk selfs ʼn 3D effek gegee het, maar selfs daarsonder het dit my tiener se aandag getrek en het ons gestry wie gaan die boek eerste lees. ʼn Baie suksesvolle en geslaagde voorblad sou ek sê. Ek was natuurlik in my element om hierdie lekker dik boek in my hande te kon vashou, nie net was die omslag ontwerp en tipografiese ontwerp van hoë gehalte nie maar het die setwerk ook aan al my vereistes voldoen. Waarde vir geld maal tien! Natuurlik moet ek erken, as ma van drie tieners het die eerste bladsy wat bestaan het uit wetenskaplike terminologie, nuutskeppings en afgeleide woorde my ietwat geïntimideer. Gaan hierdie boek my onder kry met sy hoë tegnologiese name en inhoud wat ek glad nie gaan verstaan nie? Het ek heimlik gewonder. My vrese was bitter gou in net ʼn paar hoofstukke besweer en was ek eintlik al binne die eerste twee sinne diep in die spel ingesuig. Barnard het ʼn slag met woorde en weet hoe belangrik dit is dat die openings sin die aas is om ʼn leser te vang en gevange te hou tot die laasste bladsy. Ek het nie vir een oomblik gevoel ek word gebombardeer met ʼn klomp tegniese en wetenskaplike name nie, inteendeel het die skrywer dit foutloos reggekry om die terme en nuutskeppings baie gemaklik en selfs familiêr oor te dra. Ek het heelwat interessante kennis opgedoen in Spel, Barnard het wêrelde vir my oopgeskryf en ek gaan graag nou meer wil uitvind oor gevorderde kunsmatige intelligensie! Behalwe vir die openingsin; “Skiet!” Lukas wèèt dit gaan nie help nie, maar hoop vir ʼn wonderwerk.- hou Barnard jou styf vas in haar greep en kry sy dit reg om met haar wisselende korter en langer hoofstukke heerlike spanning te skep. Die karakters is geloofwaardig, eg en alledaags. Spel se hoofkarakter Lukas Brandt, verskil heelwat van die tiener karakters in Barnard se vorige twee romans Sindikaat en Sweepslag. Die sewentienjarige Lukas woon nie net tuisskool by nie maar hy het ook sy ouers baie vroeg verloor tydens die eerste bot oorlog waar hy gou moes leer om vir homself te sorg en wat hom so te sê op hulle plaas geïsoleer het. Behalwe vir sy beste vriend Dimpho van die buurplaas het hy nie maats van sy eie ouderdom geken nie, dus praat Lukas nie soos ʼn tiener nie maar meer soos ʼn volwassene. Dit was egter ʼn riem onder die hart toe Lukas, hier aan die einde nadat hy nou al ʼn string nuwe vriende gemaak het, die baie gewilde tiener sêgoed- “Okei, Lets do this” begin gebruik het (bl 217). Die baie intelligente karakter het ook ADHD en eie aan Barnard se fenomenale karakterisering kry sy dit reg dat ons in Lukas se angs gevulde kop inklim en in die begin saam met die ander karakters voel hy het “die interpersonal skills van ʼn robot” (bl 56). Deurentyd leer die leser hoe ADHD Lukas se besluite en denke beïnvloed en is dit ʼn eerlike beskouing van ʼn baie gewigtige siekte en klim hy vinnig pens en pootjies in die leser se hart in. Op bladsy 165, beeld Barnard Lukas se konsentrasie vermoë perfek uit: Sy brein en denke was ʼn miernes met ʼn klomp malmiere wat mekaar aanval in ʼn soektog na kos. Lukas se broer, Daniël, word ontvoer om Lukas uit te lok en gevange te neem waar hy in hierdie tydperk nuwe vriendskappe en alliansies vorm met robot en mens wat sorg vir verrassende karakterontwikkeling. Barnard hou ons die heeltyd aan die wonder oor wie die mol is wat Lukas se operasie moet infiltreer. Ek was aangenaam verras oor die eintlike verraaier. Die karakters en storielyn terg ons met die oog op ʼn opvolg en ons hoop regtig Barnard sal ons bederf met so ʼn vooruitsig baie gou in die toekoms want ek sal beslis meer van Dimpho wil sien. Of jy nou dertien of honderd jaar oud is, as futuristiese- en kunsmatige superintelligensie verhale jou opgewonde maak, kan ek getuig dat hier genoeg transterrane, kuborge, homïnoiede en nanotegnologie in is om jou op die punt van jou stoel te hou. Vir die riller aspek het Barnard ook vir ons Tardigrada geskep, die mikroskopiese waterbeertjie wat gemuteer het tot ʼn reusagtige ondier wat ʼn voorliefde vir mensvleis ontwikkel het. Die skrywer het nie een oomblik onverskillig omgegaan met enige faset in Spel nie en haar storie getuig van deeglike navorsing. Daar is selfs ʼn lys van kundiges en bronne aan die einde van die boek. Barnard het meesterlik kwessies en gewigtige temas eie aan ons tye vandag perfek verweef deur haar storie waarvan vryheid, verdrukking en onderdrukking maar net ʼn paar hiervan is. Die ontsaglike belangrikheid van die voortbestaan van bye èn boere word deeglik deurgedraf met die samevatting dat selfs met die mees gevorderde tegnologie kan ons wêreld, mens en/of masjien, nie voortbestaan as een van die twee uitsterf nie. Die eeu oue stryd tussen goed en kwaad speel hom in Spel af wat afsluit met die twee super rasse, die Saevissimi’s en Siriane, wat tot die einde toe veg om uitsluitlike beheer oor die aarde te verkry. Barnard het ʼn hele klomp skok tonele ingebring om egtheid aan hierdie ras te bring en om hulle gevoelloosheid en onmenslikheid uit te beeld. Dit is beslis die kroon tussen mens en robot, emosies. Spel kraai koning en is volgens my die beste in sy genre op die oomblik. Indien daar ʼn boek is wat Spel vooruitgaan het ek hom nog nie gelees nie en is ek van mening dat ons nog lank nie een gaan kry wat sy ewenaar kan wees nie. Vir ʼn storie wat sy erken het as ʼn gewone droom begin het, het sy ʼn meesterlike, realistiese plot en plan aan ons voorgelê wat ek glo baie soos soetkoek gaan opslurp. Ek hoop ter harte dat ʼn filmmaker Spel raaksien, ons kort beslis hierdie tipe internasionale kwaliteit op die silwerdoek.
Seventeen-year-old Lukas is one of the few humans left after Earth's population was wiped out by a virus. Inhabited by cyborgs, transhumans, and robots, Earth's natural resources are also near depletion. Lukas and his friend Dimpho have managed to survive by regenerative, subsistence farming. When Dakian, supreme leader of the Saevissimi, finds out about Lukas and Dimpho's survival, he hatches a plan to make them share their secrets.