Leon van Nierop is ’n bekroonde skrywer wat reeds 23 vollengte romans geskryf het, asook verskeie radiovervolgverhale, TV-reekse, dramas, rubrieke, boek- en rolprentresensies, kortverhale en akademiese boeke. Hy het verlede jaar die Caxton-toekenning gekry as beste skrywer van die jaar en sy drama Twyfelberg is met die tweede prys vir die RSG-SANLAM radiodrama skryfkompetisie bekroon. Van sy bekendste TV-reekse sluit in Ballade vir ’n enkeling en Wolwedans in die skemer. Hy het die kykNET-sepie Villa Rosa ook geskep en die trefferradioverhaal Stralerjakkers (waarvan daar ook ’n resepteboek uitgegee is). Van sy bekendste romans sluit in Plesierengel, Adrenalien, Sielsmokkelaar en Paradys.
Lourens Schoeman vind hom in ‘n klein plattelandse dorpie in Botswana. Sy aankoms veroorsaak egter baie skindertonge om los te raak. Hoekom kom hierdie aantreklike jongman in die dorpie aan – ewe met ‘n pak klere aan sy lyf in hierdie hitte?
Lourens is daar om ‘n boek te skryf sê die mense. Hy hou by homself, pla nie eintlik die mense nie, woon net rustig in die doodloopstraat aan die kant van die dorp. Elzaan Jonker is egter die eerste een wat moeite doen om hom beter te leer ken. Die dorps mense waarsku haar egter – hy is ‘n doodsengel. Elzaan besluit om die praatjies te ignoreer en knoop ‘n vriendskap aan met die vreemdeling.
Lourens se verlede is egter nie so silwerskoon soos Elzaan gedink het nie. Die skadu in sy oë is daar vir ‘n rede. Hoe beter Elzaan Lourens begin ken, hoe meer voel dit vir haar asof hy al hoe verder weg gaan, buite haar bereik.
My gedagtes: Dis altyd lekker om ‘n boek in jou eie taal te kry in die biblioteek in ‘n vreemde land, wat nog te sê een van jou gunsteling skrywers. Die boek het lekker vinnig gelees met ‘n einde wat mens nooit sou kon raai nie.