Isa se wittebrood in Phuket word ’n tragedie toe ’n tsoenami die eiland tref. Hoewel sy dit oorleef, verloor sy haar lewensmaat. Ná die reddingspogings, ná die noodvlug terug Suid-Afrika toe, is die nagmerrie egter nie verby nie. Terugflitse, skuldgevoelens en skrikwekkende drome teister haar. Die enigste stuk blydskap wat sy teruggebring het, is die baba wat sy nie geweet het sy dra terwyl die tsoenami oor hulle gewoed het nie.
In haar geheue is net dele van daardie verskriklike gebeure vasgevang. Dit besef sy opnuut toe sy onverwags die man teëkom wat haar lewe gered het. Maar ook wat hom betref, is daar iets wat haar geheue net nie wil loslaat nie. Al waarvan sy seker is, is dat daar iets tussen haar en hierdie man gebeur het. Of dit goed of sleg of albei was, weet sy nie, maar dit laat haar nie vry nie. Sy is ook nie seker of haar toenemende gevoel vir hom dankbaarheid, skuld of liefde is nie – al drie is immers moontlik in die gemoed van iemand wat byna alles verloor het.
Bets Smith het begin skryf omdat sy aan haarself wou bewys sy kon die storie wat binne broei op papier kry. Sy hou aan met skryf omdat sy in die liefde en in gelukkige eindes glo, en voel mense het in ‘n harde wêreld nodig om herinner te word daaraan dat die goeie nog kan seëvier. Omdat sy goedvoelstories skryf, is die hele skeppingsproses vir haar terapeuties. Selfs die skryf van spanningsverhale help om van aggressie en frustrasies ontslae te raak, want die skurke word aangekeer en ry op die ou end aan die pen. Sy is 'n afgetrede onderwyser wat tans in Reebok, in die Suidkaap bly. Hul uitsig op die see, en die pragtige omgewing is 'n inspirasie vir enige skrywer. Sy en haar man is reeds 39 jaar getroud. Hy verstaan haar giere en geite en ondersteun haar in alles wat sy aanpak. Haar twee getroude kinders met ’n eiesoortige humorsin hou haar voete op die aarde, en haar vier kleinkinders is 'n groot vreugde in haar lewe.