#Vlam – Sidney Gilroy
#humanenrousseau
#NBUitgewers
Speursersant Sollie Mthembu het probleme: sy vrou is met kinders en al sak en pak terug Lesotho toe en wil hulle huis verkoop, oor onderhoud praat en skei. Terwyl hy uitgelewer is aan die ongenaakbaarheid van ‘n onpersoonlike gastehuis in Bloemfontein, speel ‘n tragedie in die naby geleë Parys af: ‘n wêreldberoemde kunstenaar, Aretha Hattingh, se kunsgalery/spogwoning brand tot op die grond af. Asof die verlies van die kunswerke nie erg genoeg is nie, word ‘n verkoolde lyk boonop in die murasie gevind. Het Aretha haar eie lewe geneem; was dit moord, of ‘n tragiese ongeluk ? Sollie moet gaan vasstel.
Dis die derde boek van die skrywer waarin Sollie die hoofrol as ondersoeker speel (sien ook ‘Klikbek’ en ‘Middernag’) en ek moet erken dat ek, met die lees van elke boek, meer geheg aan hom raak. Veral wanneer hy homself en sy eie rol in sy huweliksprobleme moet ondersoek, konfronteer en erken, ontwikkel hy waarlik tot veel meer as die geykte cliché van ‘n gemartelde speurder wat, desnieteenstaande, wonderwerke met sy ondersoekwerk verrig. Hy is ‘n afgeronde karakter deur wie se oë die leser die interessante inwoners van Parys leer ken: die arrogante stasiebevelvoerder; die Duitse koerier en sy snobistiese gewese vrou; die besigheidsman wat bykans die hele dorp van produkte voorsien; die glibberige prokureur en die dramatiese kunsagent.
Daar is ‘n handvol verdagtes wat die leser deurgaans aan die raai hou, maar die heerlikheid van die lees van die roman, lê in die leser se ontsyfering van die gebeure soos wat die verlede geopenbaar word. Die ontknoping en slot was briljant en het my so onverhoeds betrap dat ek sommige dele gaan herlees het, oortuig dat daar teenstrydighede moes wees, net om die teendeel te besef: die leidrade was heeltyd daar ! Uitstekend gedoen.
Die roman is egter veel meer as ‘n spanningsriller of sogenaamde krimi; die skrywer se teks is deurspek met fyn humor: ‘….die drukker lyk of dit gebruik is om pamflette vir die NP te druk, so oud is dit.’ (p.173); ‘Die straatname is doodeenvoudig syfers in Afrikaans, asof die laaste bewindhebbers die mense wou leer tel voor die ineenstorting van apartheid.’ (p.183) en, my groot gunsteling: die aanwending van uiterste ironie ten opsigte van ‘n onsmaaklike karakter in Hoofstuk 55 wat my wou laat hande klap en juig: ‘ Goed so!’ Die skoonheid van ‘n spesifieke frase sal my ook bybly: ‘Vir die meeste van haar kinderjare het sy (karakter se naam verwyder om geen verrassings te verklap nie) gevoel of sy met haar senuwees aan die buitekant van haar lyf rondloop. Oorbewus van elke kyk, elke opmerking, elke afkeurende blik.’ (p.225)
Slegs 2 dinge het gepla: verklarings, hetsy van verdagtes of getuies, word in die SAPS-3M geliasseer, nie in die SAPS 13 nie (p.61) en, in hoofstuk 10, word Aretha se huis as ‘n onherstelbare bouval na die brand beskryf, maar die ondersoekers stap sonder enige probleme of veiligheidsmaatreëls op en af met die trappe na die volgende verdieping.
Ten spyte hiervan verdien die roman 5 sterre; dis ‘n veelvlakkige, opwindende spanningsverhaal wat ook heelwat sê oor sosiale onreg en die waarde van lojaliteit, vriendskap en die erkenning van menswaardigheid. Die skrywer het op sosiale media na die roman as vroulik verwys; ek verstaan nou hoekom. Sy is inderdaad ‘n Vlam.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek