’n Nuwe begin vir almal ... Dokter Carla Nel is vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd enkellopend. Nou maak sy planne om die stukke van haar lewe so gou moontlik op te tel en haar grootste droom te bewaarheid. Sy koop ʼn praktyk en ʼn huis op die kusdorpie, Soutstrand, wat albei net soveel restourasie as haar lewe nodig het. Kobus Retief is ʼn enkelouer met meer hooi op sy vurk as wat hy kan hanteer, maar wanneer hy moet help om die nuwe dokter se praktyk en sommer ook haar huis op te knap, herinner iets hom dat hy ʼn man ook is. Carla se planne sluit egter nie ʼn man in nie en Kobus kan haar niks anders as ʼn tweedehandse lewe bied nie. Tog laat die liefde hom nie keer nie en voor Carla hom kan stop, restoureer Kobus haar vervalle hart en word sy deel van ʼn lewe wat haar wildste drome oortref.
Didi Potgieter is an Afrikaans writer from the whimsical town of Potchefstroom, South Africa. Didi has always dreamed of becoming a romance writer and considers herself blessed to live this dream. Didi is also the editor at LitNet: Nuwe Skryfwerk and a full-time copywriter for a marketing and communications company. Didi has been nominated for five awards for her writing, of which she won two. Her passions include coffee, good wine, books and spending time outdoors with the people she loves.
Ek het 'n Tweedehandse hart anders beleef as die deursnit romanse, in meer as een opsig. In die eerste plek het ons nie die gewone ontmoeting tussen vrygeselle nie, maar 'n herontmoeting tussen vervreemde gades. Die sake wat hulle uitmekaar gedryf het, kom meld weer aan en veroorsaak 'n warboel van emosies. Dan is daar verskeie diepgaande temas wat aangeraak word, soos miskraam, meervuldige sterftes in 'n gesin, en die skade wat kwaadwillige praatjies aanrig in die lewe van 'n persoon of persone wat aan die ontvangkant daarvan staan. Ook die ontstellende moontlikheid dat die agtergrond waaruit jy kom, 'n magtige wapen is in die hande van iemand wat soek na 'n rede om jou te diskrediteer of jou geluk te bedreig. Indien jy hierdie Romanza misgeloop het in 2016, beveel ek sterk aan dat jy dit opspoor; dit sal die moeite loon.
’n Goeie paar jaar gelede het ek ’n Tweedehandse hart gelees deur Didi Potgieter. Toe hierdie nuwe titel verskyn, wou ek graag die vorige een opdiep en herlees, maar by gebrek aan tyd, en met 'n goeie skeut nuuskierigheid, duik ek toe sommer in die tweedehandse lewe van Kobus Retief in, en vind daar ’n man wat swaar dra aan verwyt, terwyl hy sy beste doen om ’n goeie enkelpa te wees.
Die aankoms van dokter Carla Nel in die kusdorpie, maak lang vergete begeertes by hom wakker, en sy beleef self ’n sterk geneëndheid teenoor Kobus en sy oulike dogtertjie. Sy het egter ’n missie om ’n baba te hê, sonder dat daar ’n man by die saak betrokke is. Op sy beurt, kan hy nie glo dat ’n vrou soos Carla sou belangstel in sy tweedehandse lewe nie. Meer wil ek nie verklap nie. Kry dit gerus en lees self, al het jy die eerste een nie gelees nie. Hierdie verhaal staan stewig op sy eie, en is in die tipiese gemaklike skryfstyl van ’n nou reeds ervare skrywer.