Kwaaikofski lê met 'n gebreekte been in die hospitaal. En boonop besteel 'n dief almal op die kindervloer. Kwaaikofski begin die saak ondersoek - al is sy been in gips. Hy maak Monty, die seun met wie hy 'n kamer deel, sy assistent. Monty kan oral rondloop, maar hy kan nie praat nie, want sy kakebeen is gebreek. Hierdie saak gaan 'n tameletjie wees, maar Kwaaikofski laat hom nie onderkry nie!
Ek het nog nie voorheen kennis gemaak met kinderspeuder, Kwaaikofski, nie, maar Afbeen en lang vingers is reeds die veertiende avontuur in die reeks. Die werk van Jürgen Banscherus is in Afrikaans vertaal deur die bedrewe Kobus Geldenhuys en toepaslik geïllustreer deur Ralf Butschkow.
Die humoristiese storie word in die eerstepersoon vertel deur die tienjarige Kwaaikofski. Hy word geken aan sy geliefde pet waarsonder hy nerens verskyn nie, en sy gunstelingkoegom, Carpenters, waarsonder hy nie eers ’n speltoets wil waag nie.
Ek dink die titel is slim gekies, want dit gee aan ouers, onderwysers of voorlesers sommer die geleentheid om twee idiome met lesertjies te behandel. Ek lees ’n waarskuwing raak dat dinge nie altyd is soos dit met die eerste oogopslag voorkom nie, en dat selfs speurders nie oorhaastig gevolgtrekkings moet maak nie!
Die teks is sodanig dat dit in die smaak sal val van kinders tussen nege en twaalf jaar oud. Die boek is uitgegee deur Human & Rousseau, druknaam van NB Uitgewers.