Die kranige sportman Alwyn Uys word in die fleur van sy lewe verlam. Ten spyte van dié verlies en ander terugslae bly Alwyn se gees ontembaar. Hy besluit om sy lewe ten volle te leef: Hy word onder andere die eerste parapleeg ooit wat van Robbeneiland na Bloubergstrand swem. Ongeskonde is Alwyn se openhartige vertelling van sy worsteling en hoe hy met genade van Bo besluit het om uit te styg bo sy beperkinge. Sy eerlike verhaal sal jou inspireer om jou eie uitdagings aan te pak en te oorkom.
Op 13 Desember 2014 is die 24-jarige Alwyn Uys op pad na sy geliefde, Kendall. Hy het die ongeveer 90km roete in die Oos Kaap tussen St Francisbaai en Kirkwood reeds verskeie kere gery en is goed daarmee bekend. Hierdie keer het ‘n momentele verlies aan konsentrasie egter verreikende gevolge: hy verloor beheer oor sy voertuig en sy beserings, die disintegrasie van die T8 werwel en die latere hegting van die T7, T8 en T9 werwels, verander hom in ‘n parapleeg.
Hy het reeds verskeie uitdagings beleef voor die dag wat sy lewe vir altyd sou verander: sy ouers is geskei toe hy 9 jaar oud was; sy dikderm is verwyder toe hy 21 jaar oud was en vroeër dieselfde jaar, 2014, is sy belowende rugbyloopbaan deur ‘n ernstige skouerbesering beëindig. Niks daarvan sou egter opweeg teen die gevolge van 13 Desember nie; die maandelange rehabilitasie in Port Elizabeth; die aanpassing by ‘n lewe in ‘n rolstoel en die stryd teen depressie.
Sy verhaal, volledig vervat in hierdie boek, is egter een van oorwinning: in 2019 voltooi hy die Halfystermankompetisie in Durban; in November 2021 die Ystermankompetisie in Port Elizabeth, dieselfde stad waar sy aanvanklike rehabilitasie bykans 7 jaar voorheen het, en op 11 Desember 2021 word hy die eerste parapleeg om die 8km swem-uitdaging tussen Robbeneiland en Bloubergstrand te voltooi.
Ek was aanvanklik huiwerig oor die lees van hierdie boek; die wêreld van ‘n parapleeg is immers vir my ondenkbaar. Die skrywer se ongekunstelde eerlikheid het my egter gou anders oortuig; hy vertel sy verhaal met opregtheid en sonder bitterheid of selfbejammering. Verskeie aspekte van sy verhaal was ook nie aan my onbekend nie: ek het self in Kirkwood grootgeword; my geliefde het ook al die Ystermankompetisie voltooi, so ek is terdeë bewus van die intensiteit van die uitdaging, en ons deel boonop ‘n liefde vir perde !
Lesers wat graag meer oor die skrywer wil weet of hom as motiveringspreker wil bespreek kan gerus na sy webtuiste gaan loer: www.alwynuys.com Sy boek is ‘n inspirasie; ‘n baken van hoop in ‘n stukkende wêreld.