In ieder geval, hier is sy: Anna Meyer, in standerd agt, en sy moet Juliet speel in haar skool se opvoering van Shakespeare se Romeo en Juliet. Dwarsdeur die manuskrip is die verhaal van Romeo en Juliet ‘n basis, en dien as parallelspel vir die dood van Sebast, Anna se ouer broer. Anna en haar suster Elise sukkel steeds om die dood van hul broer te verwerk. Die leser verneem later Sebast het selfmoord gepleeg, waarskynlik as gevolg van sy pa se brute hantering van Sebast en Ching-kung, sy gay vriend, se verhouding. Hul ouers gaan hou vakansie in verre Rusland, ook as deel van die herstelproses, en kort na hul weggaan begin dinge in die goed geordende voorstedelike huishouding verkeerd loop - sommer op ‘n galop. Dit loop lelik verkeerd; ‘n mens hou jou asem vir die susters op.
Maar op 'n baie delikate manier, en veral deur die tussenkoms van die fantasie-element van Juliet Capulet, die fantasiekind van William Shakespeare, kom die sake stadig weer reg.
In die middel van die verhaal staan 'n werklik beminlike heldin, 'n bloedwarm standerd agt-kind met ‘n aptyt vir die lewe en ‘n absolute hartstog vir die verwesenliking van die uitnemendheid in haarself. En sy kry dit reg ook, in ‘n goed genuanseerde en dig vervlegte verhaal wat sonder twyfel hope te sê sal hê vir ‘n klomp jongmense in klompe voorstedelike huise in ons land.
Barrie Hough is in 1953 in Johannesburg gebore. Sy pa is oorlede toe hy nog net vyf jaar oud was.
Daarna het die familie Hillbrow toe getrek, waar hulle vir lank gebly het. Die boek "Droomwa" is 'n outobiografiese vertelling gegrond op die tydperk. Ook "My kat word herfs" - Barrie se eerste boek - is 'n outobiografiese vertelling. Die skrywer het werklik 'n spraakprobleem gehad en het gehakkel.
Hy het ook Siamese skoukatte geteel.
Van 1966 tot 1970 is Barrie op die Hoër Seunskool Helpmekaar. In sy matriekjaar debuteer hy, onder andere saam met Antjie Krog in "Drumpel", 'n bundel van skoliere se werke. Barrie het studeer
aan RAU en het in 1975 sy B.A.-Kommunikasiegraad behaal. In 1976 het hy sy Engels Honneursgraad en in 1980 sy M.A. in Engels met 'n verhandeling oor die dramaturg Athol Fugard behaal.
Barrie was van 1975 tot 1979 Afrikaans Onderwyser by Sint Barnabas College. Hy het in die tyd vryskutresensies vir die dagblad Beeld geskryf. In 1979 is hy as voltyds toneelresensent by Beeld aangestel en in 1984 wen hy die AA Vita-prys vir kunsjoernalistiek.
Barrie was sedert 1987 'n joernalis by Rapport. In 1999 is hy bevorder tot Kunsredakteur. Hy het fliek- en boekresensies behartig en het graag onderhoude gevoer.
Barrie was lief vir reis, diere, opera en skilderye. Hy het daarvan gehou om saam met vriende te kuier.
Sy gunsteling skrywers was D.H. Lawrence en Minette Walters. Sy gunsteling akteurs was Meryl Streep en Brad Pitt.
Barrie Hough neem sy eie lewe na 'n lang stryd teen depressie in Augustus 2004.
Sy dood laat 'n groot leemte in die Afrikaanse jeugliteratuur.
Ek het die boek baie geniet. 'n Vinnige lees. Ek geniet 'coming-of-age' stories en soveel meer so as die storie diepte het. 'n Gemaklike skryfstyl, lekker humor en 'n gesin op reis na heling. Aktuele onderwerpe word ondersoek. 'n Boek vir tieners, maar wat volwassenes ook baie sal geniet en iets van sal wegvat.
Dis 'n lieflike boek met hart en siel. Barry Hough praat mensetaal - sy karakters word vriende en hulle pyn is eg. Ek kan maklik gewoond raak aan sy sielvolle skryfstyl
Dit is weer n goeie jeugboek.Ek is mal oor Barrie Hough se menslike manier van skryf. Die storielyn word baie netjies opgebou tot waar Anna die skilpop ontvang. Die storie ontvou baie natuurlik na mate Anna kans kry om haarself te vind. Beveel dit aan vir tieners wat veral met vriende en liefdesprobleme stry in hul lewens.