Elena ontdek ’n ou kaart in die solder op hul plaas, ’n kaart wat haar Italiaanse oupa as krygsgevangene na Suid-Afrika gebring het. Dis ’n vonds wat kan lei na ’n goudskat wat die diktator Mussolini in oorlogsbunkers weggesteek is.
Wanneer sy die kaart vir haar vriend in Stellenbosch, historikus Ernst, wys, bars alle hel los. In die chaos wat volg, word sý verdink dat sy Ernst vermoor het en moet sy vlug, nie net vir die polisie nie, maar ook die mense wat Ernst vermoor het.
George, ’n vriend van Ernst, word teen sy sin by Elena se vlugtog ingetrek. Maar wanneer sy eie familie se lewens in gevaar kom, moet hy moeilike besluite neem. Laat hy Elena aan haar eie lot oor, of help hy haar om die skat via die Vatikaan – met al sy geheime en intriges – in Italië te gaan soek?
#DiegeheimvanMussolinisekaart – Constant van der Merwe #PenguinRandomHouse
Elena Russo is, in haar eie woorde, ‘damaged goods’. Sy het ‘n kriminele rekord en ‘n liefdesteleurstelling op haar kerfstok; haar ma dreig om die familieplaas naby Graaff-Reinet te verkoop weens skuld en die droogte; en haar pa sit iewers in ‘n buitekamer in Despatch en drink. Haar laaste hoop om ‘n positiewe verandering in haar lewe teweeg te bring, is die stokou kaart wat in haar oorlede Oupa Guiseppe, ‘n destydse Italiaanse krygsgevangene, se trommel ontdek is. As die kaart outentiek is, is dit ‘n belangrike leidraad na die ligging van Benito Mussolini se goud wat teen die einde van die oorlog verdwyn het. Daar is egter ‘n paar struikelblokke: die sleutel tot die kaart word agter slot en grendel in die Vatikaan se biblioteek bewaar; die persoon wat haar daarmee sou gehelp het, Professor Ernest Cranhold word voor haar oë vermoor en sy moet vlug, beide vir die polisie wat haar van die moord verdink en vir sy werklike moordenaars – wat die kaart ten alle koste wil opspoor. ‘n Vriend van Ernest, George Ekerman, is al een wat in haar glo, maar hy moet ‘n keuse maak: sy gewese vrou, Joyce, en sy gehoorgestremde dogtertjie, Noeline, word deur sy betrokkenheid in gevaar gestel en sy verswakte, bejaarde pa het hom nodig. Is die kaart, en Elena, dit werd ?
Die roman se tempo is besonder vinnig en dit verdien ongetwyfeld die benaming ‘blitsblaaier’; Ernest word in die openingstoneel, Saterdagaand 22:05 in Stellenbosch vermoor en die slottoneel (met uitsondering van die epiloog op I September) is slegs enkele dae later: Dinsdag 12:25. Dis ‘n Dan Brown-tipe aksieverhaal met jaagtogte, verraaiers en geheime en intriges in die Vatikaan, maar ontbreek ook nie aan humor nie. Een van my gunsteling tonele is op p.80; ‘n karakter met ‘n gebleikte kokketiel-haarstyl en ‘n swartraambril sê vir George: ‘Meneer Eekhoring…kan ek jou vriendelik vra om te fokkof ?’
Die historiese agtergrond is interessant: volgens David Kertzer se Pulitzerprys-wenner biografie, ‘The secret history of Pius XI’ was daar inderdaad ‘n bykans 18 jaar lange alliansie tussen Achille Ratti (Pous Pius XI) en Benito Mussolini. Die idee van ‘n geheime kaart waarby die Vatikaan betrokke is, is dus ‘n nie so vergesog soos wat lesers se eerste gedagte mag wees nie.
Gun my asseblief die insluiting van ‘n persoonlike nota: in 1990 het ek twee spanningsverhale by ‘n klein plattelandse bibliotekie uitgeneem wat my mateloos beïndruk het: ‘Die moordenaar wat liefgehad het’ en ‘Sinagoge van die satan’. Beide was deur Tafelberg-Uitgewers gepubliseer, onderskeidelik in 1989 en 1990. Daarna het ek tevergeefs na nog romans van die skrywer gesoek. Ek het wel tweedehande eksemplare van beide romans opgespoor wat steeds ereplekke op my rak het, maar ‘n nuwe roman was daar nie in 3 dekades nie. My opgewondenheid toe ek besef dat ‘Die geheim van Mussolini se kaart’ inderdaad ‘n nuwe roman deur die skrywer is, het dus geen perke geken nie. Daar was egter ‘n tikkie onsekerheid: sou ek regtig, na 30 jaar, steeds die skrywer se werk geniet en waardeer ?
Die antwoord is ‘n onomwonde ‘ja’ Dit was die wag werd. My enigste kritiek is die keuse van die titel; die skrywer se vorige twee romans het ongewone titels gehad, en het juis daarom my aandag getrek. Die huidige titel herinner aan tradisionele titels van die 1970’s en is ietwat van ‘n anti-klimaks. Maar moet julle asseblief nie daarteen blind staar nie: lees en oordeel eerder self. Hierdie roman is leesgenot van die eerste tot die laaste bladsy. Dis ‘n toeganklike spanningverhaal met ‘n interessante tema en karakters en is perfekte ontspanningsleestof.
Die geheim van Mussolini se kaart, 'n spanningsverhaal uit die pen van Constant van der Merwe is dié soort boek wat jou snags kan wakker hou en bedags jou verpligtinge agterweë laat bly. Die pas waarteen die verhaal beweeg spoor mens onwillekeurig aan om elke moontlike minuut te lees. Dit was my eerste kennismaking met hierdie skrywer, en ek het dit geweldig interessant en boeiend gevind. Opvallend was dat, anders as baie verhale waar polisielede sleutelrolle speel, die taalgebruik my nie laat tande kners het nie.
Die Italiaanse krygsgevangenes wat na Suid-Afrika gestuur is in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog, was al telkemale die agtergrond waarteen romans afspeel. Hoewel hierdie nie 'n historiese roman is nie, word die geskiedenis van Mussolini en bewerings van 'n groot goudskat, bygesleep. Die ruimte wissel tussen Stellenbosch, Kaapstad en Italië, en die aksie word in slegs 'n paar dae ingepak, met 'n slothoofstuk wat vyf maande later weer in Stellenbosch afspeel.
Die hoofkarakters is Elena, wat die gesogte kaart in haar oupa se solder ontdek. Daar is 'n moord waarna sy deur die polisie en ander gejag word. George, 'n oud-polisieman, skaar hom by haar en saam vlug hulle vir hulle lewens.
Ek kan die boek met vrymoedigheid aanbeveel vir lesers wat hou van 'n storie wat gemaklik lees, met volop aksie, jaagtogte, dreigemente, selfs 'n ontvoering, sonder grafiese detail wat jou ontstem. Uitgegee deur Penguin Random House en vrylik in boekwinkels en aanlyn beskikbaar.
Die Geheim van Mussolini se Kaart Constant van der Merwe
Elena Russo is die derde geslag op ‘n plaas in die Karoo. Na haar oupa se afsterwe, is daar nie veel meer oor om te erf nie. Haar ma wil net die plaas verkoop, maar die hardkoppige Elena wil nie ontslae raak van die plaas met al sy goeie herinneringe nie. Die een ding wat haar oupa gesê het sy moet los, is ‘n kaart geteken deur Mussolini. ‘n Kaart wat haar oupa gebring het uit Italië na die Tweede Wêreldoorlog.
Elena is egter hardkoppig – sy en die kaart gaan na haar vriend Ernst, wat ‘n kenner is op die gebied. Toe sy egter by hom kom, word hulle oorval deur ‘n inbreker en Ernst word vermoor voor haar oë. ‘n Oud Polisieman en goeie vriend van Ernst, George, word gou ook vasgevang in die beskerming van Elena en die kaart.
Elena vlug van die Polisie – iets sê vir haar sy kan hulle nie vertrou nie. Dit verander gou in ‘n jaagtog teen tyd om die Polisie en ‘n borselkop man te ontvlug wat daarop uit is om Elena en die kaart in die hande te kry. Die sleutel tot die kaart is egter in die Vatikaan se biblioteek toegesluit. ‘n Spannende jaagtog van Stellenbosch, Strand, Kaapstad en Rome volg gou met baie struikelblokke en kinkels tussenin. Gaan George en Elena betyds die kaart kan ontsyfer voor hulle betaal met hul lewens?
My gedagtes: ‘n Baie lekker spanningsverhaal wat jou heeltyd op jou tone hou. Ek het baie lekker gelees aan die boek met al sy intriges. Alles gebeur so vinnig, jy het skaars tyd om bly te wees hulle het die kroeks vrygespring voor die volgende drama gebeur!
Goed, ek het baie te sê oor hierdie boek. Sonder om enige iets weg te gee, gaan ek hierdie resensie in drie afdelings opdeel:
1) Intrige 2) Karakters 3) Skryfstyl
Intrige: Definitief die sterktste aspek van hiérdie boek, is sy intrige. Die storielyn is so ontwerp om lesers op hul tone te hou en daar is nooit ‘n vervelige oomblik nie.
Karakters: Die karakters, hoewel boeiend en redelik menslik, voel soms plat. Asof mens nie heeltemal houvas kan kry nie. Tog het ek die geheimsinnige Elena geniet en ‘n liefde ontwikkel vir die beskermende George.
Ook kan ek nie oor karakters praat sonder om Winston se naam te noem nie: loshande my gunsteling karakter. What a guy.
Skryfstyl: Hier is waar die boek vir my tekort geskiet het. Die skryfstyl voel lomp, en effe geforseerd. Die karakters se agtergronde word in jou keel afgedruk en van die stadiger oomblikke in die boek voel onnatuurlik. Verder is die oordadige gebruik van anglisismes ‘n konstante klippie in die skoen. Die skrywer kan definief daaraan werk om die storie meer eg en geloofwaardig te skryf. Mens wil veral omgee oor die karakters en dit kan nie gebeur wanneer oomblikke wat veronderstel is om teer te wees, ongemaklik voel nie.
Ek wou 'n dramátiese foto op 'n swart agtergrond neem, om aan te sluit by die dramatiese storielyn van hierdie boek, maar ek is beslis 'n beter leser as fotograaf! Hierdie boek was vir my 'n heerlike verrassing! Elena ontdek 'n ou kaart in die solder op hul plaas. In haar soeke na die geskiedenis van die kaart, vind sy uit dat haar oupa dit ná die Tweede Wêreldoorlog na Suid Afrika gebring het, en dat dit moontlik kan lei na 'n skat wat deur Mussolini homself versteek is! Die kaart kan egter slegs ontsyfer word wanneer die ander deel daarvan saam met dit gelees word, en díe deel is in die Vatikaan. Wanneer sy by haar ontmoeting met die historikus, Ernst, oorval word, begin 'n ongelooflike reeks gebeure wat haar tot in Italïe laat vlug. 'n Vriend van Ernst en oud-polisieman, George, word onwillekeurig by Elena se drama ingesleep en selfs sy familie se lewens word bedreig! Hierdie roman beweeg só vinnig, ek was amper uitasem aan die einde! Dit het 'n verrassende storielyn en laat jou eenvoudig lees en lees en lees!!
'n Heerlike spannende lees. Alles in een boek, drama op drama, moord, speurders, polisie en selfs 'n besoek aan die Vatikaan stad. Die karakters word tussendeur beskryf om hul sterkpunte asook swak punte weer te gee. Beslis 'n boek om te lees as jy van spanning en 'n bietjie gevoel van liefde wil beleef. Wel gedaan Constant.