Mieke se pad kruis met Sasha Dyssel, Miss Eco Warrior Limpopo-finalis, wat die skool en Mtwana se gas is. Fen en al die graadsewe-seuns verloor hul hart op die mooie Sasha. Maar dis Mieke wat die dieper kant van die meisie leer ken, en uitvind waarom sy en Smiley, die outjie wat gedurig 'n nuwe blouoog het, soveel in gemeen het. Die ontkoping is die finaal van Miss Eco Warrior, met afskeid en oorgang vir beide Mieke en Fen wat deur die storie verweef is.
Christien het grootgeword op Bloemfontein en Pretoria. Sy woon tans saam met haar man in Sandton. Sy het ‘n pro bono spraakterapie-praktyk en hou haar ook besig met toetsing, voorligting en terapie by ’n plaaslike parallelmedium laerskool. Christien is baie lief vir haar drie kinders, honde en leer al 30 jaar lank Frans. Kondensmelk is haar eerste boek.
Die tweede aflewering in Christien Neser se nuwe reeks oor Mieke, die meisie van Mtwana, begin op 'n opgewonde noot. Drie spikkelbabas, oftewel klein jagluiperdjies, is gered en is nou in die babakamer van haar pa se kliniek. Haar pa se vermaning oor diere op die werf, kom weer by haar op en sy wil by voorbaat huil oor die afskeid: "Mtwana is 'n rehabilitasiesentrum, nie 'n weeshuis nie, my kind. Ek is 'n veearts, nie 'n dieretuinbaas nie. Punt." (p. 9)
Dit is egter nie die enigste bedreiging vir haar vrede nie. Mieke is die enigste meisie in Graad 7, maar nou is daar 'n plakkaat van Miss Teen Eco Warrior opgesit by die skool, en al die seuns, insluitende haar beste vriend, Fen, kan nie wag dat sy die skool kom besoek nie. Die meisie se perfekte, sproetlose gesig, vul haar met wrewel. Boonop moet hulle vir Sasha Dyssel vir 'n week huisves. Die onwaarskynlike vriendskap tussen Mieke en Sasha, vorm die kern waarom die storielyn wentel. Mieke slaag daarin om deur die fasade te kyk wat Sasha voorhou, en sien onsekerheid, gedrewenheid om haarself te bewys, tassensitiwiteit, selfs omgee wat onverwags deurskemer. En belangrik, sy help Sasha om baie daarvan te verwerk, waaruit jong leser baie kan leer. Op haar beurt, leer Mieke ook by Sasha, sodat die twee "Spikkelsterre" albei baat vind by hulle samesyn.
Ek het weereens die skryfstyl baie geniet. Die kostelike en beskrywende gebruik van byname het my telkens laat glimlag, name soos Popgesig, Miss Bossypants Giraffe, Miss Koperkapelbene, Miss Perskebene. Meisies van twaalf jaar en ouer sal bepaald lekker lees aan hierdie jeugverhaal, uitgegee deur Tafelberg, 'n druknaam van NB Uitgewers.